Leon Lemmer: ‘Die opkoms en ondergang van die NG Kerk’

Jean Oosthuizen is ‘n joernalis wat by die Perskor-koerante en die SABC gewerk het voordat hy in 2002 Kerkbode se nuusredakteur geword het. Hy is in 2013 ontslaan. Die volgende boek van hom is op 1 Oktober gepubliseer: Die opkoms en ondergang van die NG Kerk (Kaapstad: Penguin Books, 2018, 245p, R260; Amazon Kindle $14). Daar is veral drie temas: anti-apartheidspolitiek, kritiek op die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk en empatie vir homoseksualiteit.

Soos in die geval van mede-joernaliste soos Harald Pakendorf en Ton Vosloo wek Oosthuizen die indruk dat hy ‘n oer-kritikus van apartheid is. Die Nasionale Party (NP), die Afrikaner-Broederbond en die NG Kerk word, soos dikwels sedert 1994, “die onheilige drie-eenheid” genoem (bv Kindle 58). Eersgenoemde het verdwyn terwyl die ander twee besig is om te kwyn en dalk te verdwyn. Die historiese NG Kerk word ook “die Nasionale Party in gebed” genoem (bv 66). “Die Nasionale Party [het] saam met die NG kerk in die bed geklim … om apartheid tot sy uiterste en dwaasste konsekwensies deur te voer” (117). Talle ander geykte terme en frases word gebruik, wat toon dat die outeur goed oor hierdie drie onderwerpe ingelig is. Die bibliografie dui op ‘n mate van belesenheid, maar nie op diepsinnige of omvattende navorsing nie.

Baie van die inligting is tydens die bywoning van byeenkomste (bv sinodesittings) en onderhoude bekom, asook uit (vertroulike) briefwisseling wat aan die outeur “gelek” is. Oosthuizen het ‘n grief teen die NG Kerk. In daardie sin kan die boek ‘n griefskrif genoem word. “Ek sou eers later in my lewe besef dit is geen sonde om anders te dink as almal om jou nie” (4493). Ek skryf egter nie in besonderhede oor Oosthuizen se persoonlike geskil met die kerk nie en bepaal my eerder by kwessies van meer algemene belang. By geleentheid is Oosthuizen as “veeleisend en dikvellig” beskryf (2055). Die Kerkbode-direksie het glo “geen agting vir joernalistieke beginsels óf die waarheid” nie (219). “Dit is geen akademiese of historiese boek nie en sekerlik ook nie altyd objektief nie. Dit is my persoonlike reis met die kerk en sy mense vanuit mý perspektief” (89).

Heelwat klem word gelê op die “profetiese stem” (bv 74) wat die kerk veronderstel is om te hê. Hierdie stem klink op wanneer die kerk iets sê of doen waarvan Oosthuizen hou, maar die kerk verloor sy profetiese (voorspellende, progressiewe) stem wanneer hy iets sê of doen waarvan die outeur nie hou nie. Dan word die kerk sonder meer van die najaging van eiebelang beskuldig en ongenuanseerd met apartheid vergelyk (74). Die waardes waaroor Oosthuizen hoog opgee, is bv eerlikheid, geregtigheid, en menswaardigheid (74). Later word deursigtigheid bygevoeg (2225). Hulle is almal sekulêre/wêreldse/hiermaalse waardes omdat die outeur “reeds afskeid geneem [het] van die Christelike geloof soos wat dit in die ekumeniese belydenisse gedefinieer word” (97). Sommige van die gebeure wat by Oosthuizen spook, word herhaaldelik opgehaal. Die standpunte waaroor hy sterk voel, word oormatig verduidelik.

Oosthuizen se perspektief is myns insiens gebrekkig. Byvoorbeeld, in hoe ‘n mate is die volgende veralgemenings geldig: “Dit was duidelik dat my kerk nie in die waarheid belangstel nie en dat sy eie belange swaarder weeg as waarheid en geregtigheid” (2232), “Die kerk bied nie regtig ‘n veilige ruimte om eerlik oor geloof te praat nie” (2331) en “Wanneer die NG Kerk se geskiedenis in oënskou geneem word, kan dit in een sin opgesom word: ‘n Kerk van verspeelde kanse en ‘n huis wat byna van die begin af tot vandag nog in vele opsigte in homself verdeel is” (269). Hy gaan dan voort om juis die groot mate van eenstemmigheid in die kerk uit te wys: “Die NG Kerk sal onder andere onthou word vir sy reuse-aandeel aan apartheid, maar ook vir die neo-Calvinisme, patriargie en homofobie wat vandag nog springlewendig is in die kerk. Rassisme kom steeds in talle kerkrade en selfs sommige sinodes voor, al het die NG Kerk apartheid reeds in 1986 op papier probeer afsweer” (274). ANC-kornuite beweer graag dinge het in 1652 begin skeefloop. Oosthuizen stem saam: “Die gereformeerde geloofsoortuiging wat Van Riebeeck aan die Kaap wou vestig, het saadjies van selfregverdiging en selfvernietiging in hom gedra” (288). Hy sê dit onder meer omdat die kerk tydens die Hollandse bewind aan die staat onderhorig was (295). Maar selfs wanneer die kerk hom selfstandig ag, kan die mode-politiek gevolg word, bv soos wat die NG Kerk sedert 1986 van pro- na anti-apartheid omgeskakel het.

“In 1857 besluit die sinode van die NG Kerk dat die Nagmaal weens ‘die swakheid van sommige’ afsonderlik aan wit en bruin mense bedien moet [!] word” (323; ook 349, 371) – “kan word” is nader aan die waarheid. Oosthuizen haal hierdie besluit woordeliks aan. Daarvolgens verkies die sinode “dat onze ledematen uit die Heidenen, in onze bestaande gemeenten opgenomen en ingelijfd worden … maar waar deze maatregel, en [in?] gevolge van die zwakheid van sommigen, die bevordering van de zaak van Christus onder die Heidenen, in den weg zoude staan, de gemeente uit de Heidenen opgerigt, of nog op te rigten, hare Christelike voorregten in een afzonderlik gebouw of gesticht genieten zal” (371). Dit is baie duidelik dat afsonderlike nagmaalbediening en afsonderlike kerklike byeenkomste en kerke ingevolge hierdie besluit nie verpligtend nie maar opsioneel was. Oosthuizen, Allan Boesak en diesulkes verkies egter om dit anders voor te stel.

Hulle hou veral daarvan om die 1857-besluit uitsluitlik oor die politieke boeg te gooi deur die voorstanders van apartheid as swakkelinge uit te beeld en integrasioniste as brawe mense wat kultuur- en ander verskille ontken. Die besluit het glo verband gehou “met kleurgevoelens en vooroordele” (379; ook 468). Dit is ‘n voorbeeld van hoe destydse probleme eensydig vertolk word om eietydse propaganda en aktivisme teen die NG Kerk en Afrikaners te dien. Die 1857-besluit verwys in werklikheid enersyds (ook/veral) na sommige bruin lidmate se beperkte vermoë om preke in (Hoog)Hollands te verstaan en andersyds na veral bruin lidmate wat aanstootlik vuil, onnet geklee en gesuip by die kerk opgedaag het. Byvoorbeeld, dit is ‘n historiese feit dat ‘n bruin vroulike lidmaat destyds ‘n beroering in die gemeente Malmesburg veroorsaak het toe sy nagmaal wou gebruik terwyl sy erg besope was.

“Met die totstandkoming van die NG Sendingkerk [in 1881] is die eenheid in die NG Kerk finaal [! – ook 379 ] verbreek. Nie op grond van belydenis- of geloofsverskille nie, maar op grond van ras. Met die verloop van tyd ontstaan daar vanuit die NG Kerk die Familie van NG Kerke waar wit, swart, bruin en Indiër dieselfde God in verskillende kerke volgens die kleur van hulle vel moes aanbid” (331). Oosthuizen gooi die ontstaan van hierdie vier verskillende kerkgenootskappe uitsluitlik oor die boeg van ras en velkleur, terwyl dit by uitstek om (groot) kultuur- (bv taal-) verskille gaan. As daar nie kultuurverskille was nie, sou daardie verskillende kerkgenootskappe nie bestaan het nie. Met verwysing na die 1986-besluit (die oopstelling van die kerk vir alle rasse – 338), skryf hy “van die NG Kerk wat meer as drie dekades later in wese steeds ‘n blanke kerk is” (338), wat daarop kan dui dat dit om veel meer as verskil in velkleur gaan. Die gemeentes is steeds “lelieblank” (683). Die predikante is “nog feitlik almal spierwit en hoofsaaklik mans” (691). Tog is daar in baie NG Kerk-gemeentes ‘n meer progressiewe gees as by die behoudende byeenkomste van die uitsluitlik blanke Afrikaanse Protestantse Kerk (APK), wat in 1987 deur Willie Lubbe (1922-2017) gestig is. (Ek het Lubbe as ‘n voortreflike akademikus en intellektueel geken.)

Tydens die Hollandse bewind het rassevermening, volgens Oosthuizen, “op ‘n redelike groot skaal voorgekom” (349). Op grond van omvattende navorsing het Hans Heese egter bevind dat Afrikaners slegs sowat 7% nie-blanke bloed het. “Die sterk kleurgevoel wat die Afrikaner later gekenmerk het, het eers teen die einde van die 18de eeu ontstaan” (349). Dit val saam met die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795. Dit is algemeen bekend dat die Britte, anders as die Franse en veral die Portugese en Spanjaarde, rasseskeiding in hulle kolonies voorgestaan het. Apartheid was ‘n uitvloeisel hiervan. Oosthuizen verwyt die Britte nooit hiervoor nie. Hy kasty uitsluitlik die NG Kerk en die Afrikaners. Op ‘n soortgelyke eensydige manier word die maatreëls wat die NP-regering met die oog op die selfbehoud van die blankes getref het, gedemoniseer, maar nie die onbeskaafde gedrag van die ANC/UDF wat ruimskoots uiting in bv vandalisme en terrorisme gevind het nie.

“Die woord ‘apartheid’ het sy ontstaan in 1929 uit die geledere van die NG Kerk gehad” (344). Ds Jan Christoffel du Plessis van Bethlehem het by ‘n konferensie in Kroonstad oor sendingwerk gepraat van “apartheid wat ons gedragslyn nog altyd gekenmerk het” (395). “Du Plessis het ‘apartheid’ bedoel as ‘n teenvoeter vir die integrasiebenadering van die Engelse sendelinge wat na sy mening bekeerlinge probeer kry deur hulle die Westerse beskawing en godsdiens te laat naboots” (402). “In politieke kringe is die woord ‘apartheid’ eers in 1943 vir die eerste keer in Die Burger gebruik. In 1944 was dr DF Malan die eerste man wat dit in die Parlement gebruik het” (387). Wat Oosthuizen blykbaar te kenne wil gee, is dat die NG Kerk die NP met apartheid vooruitgeloop het. “Die kerk het [in 1935] by die regering begin aandring op wetgewing wat huwelike tussen blankes en gekleurdes verhinder en om aparte woonbuurte, skole en kolleges te skeLeon Lemmer: ‘Die opkoms en ondergang van die NG Kerk’p” (410); klaarblyklik om maatskaplike wrywing te voorkom of verminder. Ton Vosloo verskaf egter ‘n nie-NGK- en nie-NP-oorsprong vir die term “apartheid”: “Die woord apartheid is reeds in 1919 deur Jan Smuts in ‘n toespraak gebruik” (Praag 31.08.2018).

Oosthuizen gaan verder: “Die Nasionale Party het die kerk se standpunt gebruik as regverdiging vir sy rassebeleid om op almal ‘n bepaalde identiteit af te dwing” (402). Dit is myns insiens ‘n verwringing van die waarheid. Die beleid van apartheid/afsonderlike ontwikkeling het aan iedere etniese groep sy kultuureie gegun en dit ook bevorder. In die nuwe Suid-Afrika word sover moontlik ‘n enkele identiteit, naamlik swart Afrikanisme met Engels as voertaal, aan almal opgedring. Minderheidsregte word misken onder die voorwendsel dat dit gaan om die bou van ‘n Suid-Afrikaanse nasie wat naatloos by die res van swart Afrika moet inskakel, maar nie by Noord-Afrika se Egiptenare, Arabiere en Berbers nie. “Dit was veral na die Nasionale Party se beleidsoorname in 1948 dat die NG Kerk apartheid al hoe meer uit die Bybel probeer regverdig het” (439). “In die uitvoering van sy besluite het die kerk niks [!] anders gedoen as om rassisme te legitimeer nie” (446). Hiermee word apartheid sonder meer rassisme genoem. Retories kla Oosthuizen oor “die pyn, leed en vernedering” wat die NGK-gesteunde apartheid tot gevolg gehad het “in die miskenning van ander se menswaardigheid” (417). Nêrens opper hy egter beswaar teen die rassediskriminasie wat die ANC-regering met soveel oorgawe ten koste van veral die blankes bedryf nie.

Wat van al die goeie dinge wat die NG Kerk ontfermend oor baie dekades vir swartes en bruines gedoen het, bv die groot finansiële offers wat baie lidmate gebring het? “Ongelukkig is dit dikwels op ‘n paternalistiese manier gedoen waar daar meerderwaardig neergekyk is op ander rasse” (446). Dit sluit in: “Die meerderwaardigheid waarmee Christen-sendelinge ander mense gewoonlik [!] bejeen” (453). Die sendelinge het die Christelike godsdiens weliswaar hoër as ander godsdienste geag (461). Hoe dan anders? Waarom sou ‘n sendeling die Christelike godsdiens uitdra as hy nie gedink het dit is ‘n beter opsie nie? Die gelykverklaring van mense en godsdienste het eers weens die post-modernisme inslag begin vind. Die beterweter Desmond Tutu verkondig bv ‘n grenselose ekumenisiteit waarvolgens alle gelowiges van alle godsdienste hemel toe gaan.

As Oosthuizen omsigtiger geformuleer het, sou hy meer lesers van sy standpunt kon oortuig. Hy beweer die NG Kerk, wat aparte kerke vir wit, bruin en swart mense voorgestaan het, “nooit [!] probleme gehad het dat Afrikaners en Engelse saam aanbid nie” (498). Sou Engelse tydens en kort ná die Anglo-Boere-oorlog welkom in die Afrikaners se kerke gewees het? Oosthuizen is sekerlik bewus van die gevalle waar daar in dieselfde dorp afsonderlike kerke vir Nattes en Sappe was. Hy hou van die Cottesloe-besluite in 1960 wat deur die Wêreldraad van Kerke (WRK) ten koste van die NG Kerk en die NP aangestig is om apartheid verwerplik voor te stel. Daar was onder meer “ernstige kritiek teen werkreservering” (505). Waarom spreek Oosthuizen nie kritiek uit teen die huidige raskwotas en die buitensporige statutêre voorkeur wat swartes by aanstelling en bevordering in die openbare en private sektor geniet nie? Die NG Kerk het glo “op roemlose en eerlose wyse voor politieke druk geswig” toe hy hom ná die Cottesloe-beraad aan die WRK en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) onttrek het (519). Was die NG Kerk se latere herverbintenis met hierdie twee liggame nie ook weens teenoorgestelde politieke druk en eweneens roemloos en eerloos nie? In sowel die WRK as die SARK moet die NG Kerk bereid wees om groot verdraagsaamheid teenoor marxiste, veral kulturele marxiste, aan die dag te lê. In heeltemal te veel opsigte word deesdae aan kulturele marxisme toegegee.

In 1982 het Allan Boesak en diesulkes hulle sin gekry toe die NG Kerk tydens die Ottawa-beraad van kettery beskuldig is en sy lidmaatskap van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke opgeskort is (542). Boesak het hierna lank (1983-1990) as die president van hierdie instansie gedien, wat heelwat van die onverkwiklike aard van die Wêreldbond weerspieë1. Dit was nie genoeg stank vir dank van die kant van die NG Sendingkerk nie. Hierdie kerkgenootskap het apartheid ook tot kettery verklaar (549). In 1986 is die Belydenis van Belhar, die produk van twee blankes, Dirkie Smit, aangestig deur Jaap Durand, aanvaar (549). Boesak en sy bruin mede-aktiviste is nie in staat om so ‘n dokument op te stel nie. (Dit herinner aan die Vryheidsmanifes van 1955 wat deur ‘n Jood vir misbruik deur veral swartes opgestel is.) Hierdie mense het dit teen beweerde rassediskriminasie soos gepleeg deur blankes gehad. Hulle aanvaar egter ‘n belydenis waarvolgens God ten gunste van sommige diskrimineer, naamlik “die noodlydende, die arme en die veronregte.” Almal is dus nie in God se oë gelyk nie. Hy het witbroodjies, met as eintlike bedoeling dat daardie witbroodjies nie wit is nie.

Een van die irriterendste aspekte van die boek is dat Oosthuizen bly neul oor die NG Kerk wat nog nie kerkeenheid bewerkstellig het nie (bv 593, 683, 746). Die NG Kerk word verwyt vir liefdeloosheid (586), maar dit is die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) (die opvolger van die NG Sendingkerk) wat liefdeloos van die NG Kerk verwag om die Belydenis van Belhar onvoorwaardelik te aanvaar voordat gesprekke oor kerkeenheid kan begin. Dit is ook misleidend om die VGK voor te stel as ‘n mede-Afrikaanse Kerk (bv 593) omdat daar in die VGK toenemend voorkeur aan Engels as kerktaal gegee word. As kerkeenheid werklikheid sou word, sal die VGK hoogs waarskynlik aandring op Engels as amptelike, bv sinodale, voertaal. Dit sou ‘n verdere terugslag vir Afrikaans wees; iets wat sekerlik deur Afrikaners teengestaan behoort te word. Die eenheid van die Afrikaanse susterkerke (NG Kerk, Gereformeerde Kerk en Hervormde Kerk) lyk vir my veel meer wenslik en dalk makliker haalbaar as om eenheid by die NG Kerk met sy dogterkerke, soos die militant-neigende (oftewel hardegat) VGK, te bewerkstellig. Toenemende sekularisasie en gevolglike kerkafvalligheid kan die eg Afrikaanse kerke mettertyd tot groter en self volle eenheid verplig. Die APK sal heropname teenstaan tensy weg van kulturele marxisme beweeg word.

Die transformasie van die NG Kerk van ondersteuner van apartheid/afsonderlike ontwikkel tot aanvaarder van rasse-integrasie en -vermenging kan aan die hand van sy amptelike publikasies geskets word. In Ras, volk en nasie in die lig van die Skrif (1974) ondersteun die NG Kerk apartheid as skriftuurlik gegrondves (483). In Kerk en samelewing (1986, hersien in 1990) word “‘n 180-grade-draai” gemaak (571) en word apartheid deur die algemene sinode, onder die voorsitterskap van Johan Heyns (1004), as ‘n dwaling afgewys (490, 586). “Die NG Kerk het uiteindelik ook sy seile na die wind gespan” (649). Dit het die NG Kerk “byna 80 000 lidmate gekos” (4095) en aanleiding tot die stigting van die APK gegee, wat slegs blanke lidmate het (586). Die 1990-herbekendstelling van die 1986-verslag was een van vele geleenthede waarby die NG Kerk verskoning vir sy ondersteuning van apartheid gevra het (593). Willie Jonker het hom toe mandaatloos (623) aangematig om verskoning namens die NG Kerk en Afrikaners te vra, want die kerk “het apartheid op sy afgelope sinode tot sonde verklaar” (615). In 1998 het die algemene sinode van die NG Kerk “uiteindelik formeel erken dat apartheid wesenlik verkeerd was” (600). Hierdie verootmoediging en vernedering van die NG Kerk was voldoende om hertoelating tot die Wêreldbond te verkry. Laasgenoemde word sedert 2010 die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke genoem (600). In 2016 is die NG Kerk ook tot die Wêreldraad van Kerke hertoegelaat (600).

Weens sy assosiasie met hierdie twee wêreldinstansies breek die NG Kerk enersyds weg van sy tradisionele rol as volkskerk vir Afrikaners (951) en omarm hy andersyds internasionalisme met sy talle onverkwiklike modestrome, waarvan kulturele marxisme ‘n prominente voorbeeld is. Dit lei tot groter inskiklikheid jeens bv feminisme en homoseksualiteit, dus verskynsels wat tradisioneel deur Afrikaners as volksvreemd beskou is. Daar is ook ‘n (sterk) element van ANC-gedienstigheid te bespeur. Sedert 1994 weerhou die NG Kerk hom bv in groot mate van kritiek op die vergrype van die huidige regering, al spits hy hom, soos talle ander kerkgenootskappe, deesdae eerder op hiermaalse as hiernamaalse kwessies toe; die skepping van “hemel op aarde” (2860).

Die radikale frontverandering van die NG Kerk is ten minste deels verantwoordelik vir die groot uittog van lidmate; weglooplidmate genoem (3062). “Die verlies aan NG lidmate [is] meer as twee keer soveel as wat die ander twee Afrikaanse susterkerke lidmate saam het” (3071). “Die NG kerk [het] in ‘n tydperk van 25 tot 30 jaar ‘n derde van sy lidmate verloor” (3093). “Die werklikheid is dat die NG Kerk sy identiteit drasties sal moet aanpas en verander as hy wil oorleef” (3124). Chris Jones, ‘n groot voorstander van homoseksualiteit, beweer selfs: “Die NG Kerk het té veel in apartheid belê om geloofwaardig te kan voortbestaan” (3258). Die NG Kerk het onmiskenbaar deel geword van die transformasie en ontaarding wat Afrikaners sedert 1994 daagliks met soveel troostelose trauma ervaar. Desnieteenstaande skryf Oosthuizen hoogs oordrewe: “Die NG Kerk kon ná 1994 feitlik geen vordering maak om te hervorm nie” (739). Die eintlike ding wat myns insiens aan Oosthuizen se siel (of wat ook al) haper, is dat die NG Kerk nie volgehou het met die seën wat hy in 2015 oor homoseksualiteit uitgespreek het nie.

Oosthuizen hou van die ontgogeling wat die vernietiging van die “eksklusiewe en ‘godgegewe’ tuiste-ideologie vir die witman in Afrika” veroorsaak (731). Skynbaar verkies hy lewensruimte vir homoseksuele bo lewensruimte vir Afrikaners. Die “onheilige drie-eenheid” (die NP, Broederbond en NG Kerk) het Afrikaners op ‘n skandalige manier in die steek gelaat. Van sowel die oud-terroris, Nelson Mandela, as die ondersteuner van terrorisme, Beyers Naudé, is ‘n groot ophef by die algemene sinode van die NG Kerk in 1994 gemaak (608). Dinge soos hierdie word deur Oosthuizen “‘n vars bries” in die NG Kerk genoem (608, 3472); oor hoeveel onskuldige lyke daardie bries waai, maak blykbaar nie saak nie. Hy onderskei twee groepe lidmate: “Die kerk kies om weens sy behoudende aard die meer fundamentalistiese groep ter wille te wees ten koste van sy denkende lidmate” (3139). “Die stryd in die Gereformeerde Kerke is in wese ‘n stryd tussen die fundamentaliste en die kritiese denkers” (3198). “Die ekstreme fundamentaliste is ‘n luidrugtige groep godsdiensregses” (3206). “Hulle is baie sterk gekant teen homoseksualiteit … Baie van hulle is ook polities ver-regs. Hul standpunte getuig oor die algemeen van groot onverdraagsaamheid” (3214).

‘n Voorbeeld van Oosthuizen se “vars bries” wat in die NG Kerk waai, is “toe die kerk in 2015 homoseksualiteit volledig aanvaar het” (608). Ook in hierdie opsig het die kerk rondgespring. Oosthuisen maak gewag van die kerk se “skisofreniese beleid teenoor homoseksuele” (3161). Hy noem dit “die NG Kerk se wipplankryery oor gay verhoudings” (3348). “Die kerk het sekere mense oor die jare uitgestoot na die skadu’s en donker kolle van die lewe, net om dan self die lig te formuleer en daardie mense terug in die lig te probeer kry” (709). Daar is ‘n teologiedosent aan die Universiteit Stellenbosch, Julie Claassens, wat die bevordering van menswaardigheid as doseeropdrag het (3169). Sy is so deurdrenk met humanisme, militante feminisme en radikaal linkse politiek dat sy die NG Kerk van “zero moraliteit” beskuldig (3169, 3191). Oosthuizen hou van hierdie oordrewe stelling, veral in die konteks van homoseksualiteit. Die kerk het volgens hom bv “die metafoor geword van die kruis en vernedering wat gay mense en vroue vandag nog dra” (716). My perspektief op hierdie saak, globaal gesien, met Amerika as sprekende voorbeeld, is dat swartes eerste en daarby gewelddadig hulle vermeende regte (eerder as verpligtinge) suksesvol opgeëis het. Daarna het vroueregte op die rug van regte vir swartes gevolg, wat op sy beurt deur regte-aansprake deur talle groepe, insluitende homoseksuele, gevolg is.

Dit was tydens die algemene sinode in 1986 dat “die kwessie van homoseksualiteit vir die eerste keer regtig op die NG Kerk se agenda was en deur die kerk afgewys is as in stryd met God se wil” (1011). Hierna het die kerk sy standpunt geleidelik verander. Een van die woelgeeste is Frits Gaum. In sy resensie van Oostuizen se boek spreek Gaum kritiek oor sekere sake uit, maar hy is nie beswaard oor Oosthuizen se pro-gay standpunt nie (Rapport, Weekliks, 21.10.2018, p 13). Oosthuizen skryf: “Toe dit bekend word dat sy seun Laurie Gaum homoseksueel is, het Gaum se standpunt oor homoseksualiteit ook [dus soos sy politiek] ‘n 180-grade-omkeer gemaak” (1011). “Of Gaum so gayvriendelik sou geword het as sy eie seun nie gay was nie, is iets waaroor ‘n mens seker net kan spekuleer. Ek twyfel” (1018). My perspektief op hierdie saak is dat sekere groepe in die Suid-Afrikaanse samelewing veral in die jare tagtig druk uitgeoefen het dat apartheid afgeskaf moet word. Byvoorbeeld, sake-manne wou hê dat die handelsboikotte opgehef moet word, sodat hulle vryelik handel kon dryf. Sportsterre wou hê dat die sportboikotte opgehef moet word, sodat hulle internasionaal in sport kon meeding. Dit het om eie belang gegaan. Diesulkes het skynbaar nie ‘n hel omgegee as die blanke politieke bewind deur ‘n verswelgende, onbekwame, korrupte swart bewind vervang word nie. Wat my sedert 1994 opgeval het, is dat homoseksuele geneig is om die nuwe plaaslike politieke bedeling nie net te verwelkom nie, maar dit ook entoesiaties te ondersteun. Die nuwe opset word deur hulle as bevrydend ervaar.

Vóór die ondergang van blanke politieke beheer in 1990/94 was daar ‘n binêre benadering tot seksualiteit. Daar was twee geslagte, mans en vroue. Sedertdien is mense nie net gelyk verklaar nie, maar ook al hoe meer as eenders beskou. Die onderskeid tussen die twee geslagte het vloeibaar geword. Die twee tradisionele geslagte word steeds in ‘n mate aanvaar, maar daarnaas is erkenning gegee aan al hoe meer kombinasies daarvan of tussenin-variëteite: LGBTIQ+ (“lesbian, gay, bisexual, transgender, intersex, queer, etc”). (Die situasie van Afrikaans het op ‘n soortgelyke manier verander. Naas Standaardafrikaans moes daar skielik buitensporige erkenning gegee en onregverdigbare waardering betuig word aan talle variëteite, bv die brousel- of mengeltaal Kaaps, wat nie eens duidelik van Engels onderskeibaar is nie.) Soos in die geval van ras en etnisiteit is die werklikheid van ‘n vaste seksuele identiteit al hoe meer bevraagteken. Omdat ons groot era van vryheid na bewering in 1994 aangebreek het, het sommige mense vry gevoel om self te besluit wat hulle in seksuele opsig is en selfs om dit periodiek na goeddunke te verander. In die buiteland het dit enersyds gelei tot vrye besluite oor watter openbare toiletgeriewe individue gebruik en andersyds, in die jongste tyd, tot die afskaffing van afsonderlike toiletgeriewe vir die twee geslagte. Die tradisionele onderskeid word, soos apartheid, as iets ongewens beskou.

Terwyl ek besig was om hierdie rubriek te skryf, is berig dat André Bartlett op 16 Oktober tot moderator van die Hoëveld-sinode van die NG Kerk verkies is. Hy het toe lomp geformuleerd gesê: “As leier het ek nou ‘n rol om te help om die rol van die kerk in sy eie tyd te herdefinieer” (Netwerk24, 16.10.2018). Soos Chris Jones is Bartlett ongekwalifiseerd ten gunste van homoseksualiteit. Dit is sekerlik een van die hoofopsigte waarin hy die NG Kerk verder gaan herdefinieer. Ek het reeds breedvoerig oor Bartlett se standpunt geskryf en gaan dit nie hier herhaal nie (Praag 16.12.2017), behalwe die volgende twee aanhalings: “Die hedendaagse propagering van die voortreflikheid van gayverhoudings en die buitensporige uiterstes waartoe gegaan word om diesulkes te beskerm en simpatie vir hulle te wek, bring mee dat homoseksualiteit ‘n gesogte modeverskynsel geword het wat deur sommige heteroseksuele nagevolg word” en “‘n Saak wat glad nie afdoende in die openbare diskoers verreken word nie, is die mate waarin homoseksuele gedrag vir heteroseksuele afstootlik kan wees.”

Elsabé Brits, ‘n joernalis wat artikels oor die wetenskap in Die Burger skryf, roem daarop dat sy ‘n vrou het. SJ (Fanie) Naudé, ‘n Afrikaanse skrywer, verwys in ‘n onderhoud na “my man” (Rapport, Weekliks, 23.09.2018, p 12). Wanneer ek so iets lees, is dit asof daar diep binne in my iets van die rak af val. Dit maak seer. Oosthuizen verwys dikwels goedkeurend na Bartlett se uitsprake. Dit is myns insiens moontlik dat Oosthuizen se benadering tot homoseksualiteit een van die hoofredes vir sy stekerige verhouding met die NG Kerk is. Diegene wat op die snypunt van die byderwetse (bv linkse, liberale, humanistiese, progressiewe, marxistiese) politiek wil wees, is geneig om (sterk) pro-gay te wees.

Hoofstuk 11 het “Homoseksualiteit” as opskrif. Die eerste paragraaf lui: “Die NG Kerk se verdediging en propagering van apartheid, die minderwaardige rol wat vroue oor ‘n lang tydperk in die kerk gespeel het en tot ‘n groot mate nog steeds speel, asook die onmenslike manier waarop die kerk lidmate van die LBGT-gemeenskap behandel, sal waarskynlik in die geskiedenis opgeteken staan as drie van die grootste menseregteskendings in die kerk se geskiedenis” (3343). In werklikheid is die kerk in hierdie opsigte deur die konserwatisme van die meerderheid lidmate teëgehou. Oosthuizen gaan dan voort: “Teenoor die standpunt van 1986 – waarin homoseksualiteit as ‘n afwykende vorm van seksualiteit beskou is en selfdegeslagverhoudings gevolglik afgekeur is as in stryd met God se wil – was daar in 2007 se verslag ‘n grondliggende beweging tot ‘n meer simpatieke verstaan van homoseksualiteit as ‘n variant binne die spektrum van seksuele oriëntasie-moontlikhede; dus ‘n beweging in die rigting van insluiting” (3348); dus die versugting na modieuse inklusiwiteit. Homoseksualiteit is nie meer as “‘n patologies afwykende seksuele oriëntasie” beskou nie (3355). In 1986 het die kerk, na aanleiding van ‘n 1980-verslag, tussen kern- en pseudo-homoseksualiteit onderskei, dus aangebore en aangeleerde gayheid. Hierna was die neiging om, soos in die politiek, sulke verskille te ignoreer en alle homoseksuele met dieselfde mate van simpatie te benader. Oosthuizen verwys net enkele kere na kernhomoseksualiteit (3413, 4117).

In 2004 het die NG Kerk die tradisionele standpunte gehandhaaf dat die huwelik ‘n verbintenis tussen ‘n man en ‘n vrou is en homoseksuele leraars selibaat moet bly (3355) omdat homoseksuele dade sonde is (3420). Die kerk het “voortgeploeter” (3355, 4059) tot in 2015 toe ‘n taakspan aanbeveel het “dat gayverbintenisse in die kerk bevestig mag word … al word dit nie ‘n huwelik genoem nie” (3363). Dalk kan ‘n mens sê so ‘n burgerlike verbintenis transformeer ‘n huwelik tot ‘n homolik. Wat vir my ontstellend is, is dat die NG Kerk se dosenteraad hierdie voorstel eenparig gesteun het, asook dat gay predikante nie selibaat hoef te wees nie (3384). Die vorige sinode-besluite raak glo “die diepste menswees” van teologie-studente (3384), terwyl dit seker vir min maar enkele luidrugtige gevalle geld. Die “skriftuurlike eis” van medelye word deur Oosthuizen opgehaal (3391), asook “die Skrifboodskap van Christus oor die menswaardigheid van alle mense en die aanvaarding van alle mense” (3398). Homoseksualiteit is al hoe minder as “‘n gruwel voor God” beskou (3427). “In die oë van al hoe meer mense het die NG Kerk se beheptheid met seks en hul bemoeienis met ander mense se private doen en late op seksuele gebied al hoe belagliker geword” (3435). Hiervolgens moet wat in die binnekamer van ‘n lidmaat gebeur ‘n nie-kerklike saak wees wat nie “deur die kerkpolisie afgeloer word” nie (3442).

In 2015 het die NG Kerk tot “‘n dapper besluit” gekom (3457). “Teen al my verwagtings in het die sinode besluit gays mag trou, hoewel dit nie ‘n huwelik genoem sou word nie. Dieselfde sou vir dominees geld” (3457). “Skielik het die NG Kerk weer integriteit gehad. Gewone mense het nie meer so hardop vir die kerk gelag nie. Daar was weer hoop” (3465). Is dit gewone mense wat nie meer vir die kerk uitgelag het nie en weer hoop gehad het of eerder/hoofsaaklik homoseksuele? “Menswaardigheid het skielik ‘n nuwe betekenis in die NG Kerk gekry” (3472). Oosthuizen het hieroor ‘n artikel met die opskrif, “NG Kerk het sy Rubicon oorgesteek,” geskryf (3465). “Drie weke ná die NG Kerk se historiese besluit om gays as volwaardige lidmate te aanvaar, swig die kerk se leiers onder druk vanuit konserwatiewe gemeentes en slaan hulle soos handomkeer bollemakiesie. Hulle verloën hul profetiese roeping en skort die sinode se besluit op, hangende die uitslag van verskeie appèlle wat beswaarde lidmate daarteen ingedien het” (3486). Besware het “voortgetier” (3501) en die kerk soos “‘n tsunami” oorspoel (3508). Die kerk se leierskap “het verkies om liewer al die pad terug oor die Rubicon te retireer eerder as om profetiese leierskap aan die dag te lê” (3522). Hierdie soort profetiese leierskap is soortgelyk aan die “waagmoed” en “staatsmanskap” wat aan politieke leiers toegedig word as hulle swartes bevoordeel en blankes benadeel.

“Die kerk se agteroorbollemakiesie het ‘n paleisrevolusie in die kerk ontketen” (3522). Daar is besluit “om vir die eerste keer in die NG Kerk se geskiedenis ‘n buitengewone algemene sinode te hou” (3544). Dit het in November 2016 plaasgevind. “In minder as ‘n jaar het die NG Kerk ‘n volledige U-draai gemaak oor homoseksualiteit” (3559) deur ‘n “omkeerbesluit” te aanvaar (3567). Die Bybeltekste wat hulle uitdruklik en ondubbelsinnig teen homoseksualiteit uitspreek, word deur André Bartlett “proeftekste” genoem. Hierdie term laat dit klink asof hier voorlopige of hipotetiese stellings gemaak word. Kortom, Bartlett redeneer daar staan nie wat daar in die Bybel staan nie. In werklikheid is hierdie tekste dik spykers in die doodskis van gay lewenswyses. Oosthuizen kom in hierdie opsig met ‘n ander pro-gay benadering as Bartlett vorendag: “Dit help nie om die gaydebat met Bybelversies te probeer wen deur die homofobiese teksverse daaroor met ander versies te probeer troef nie … Die kerk moet liewer reguit vir sy lidmate sê die Bybel is ‘n versameling antieke boeke met goeie én slegte raad wat deur mense geskryf is” (3641). “Deesdae word daar gepraat van ‘n tentatiewer Skrifgebruik wat groter klem plaas op die konteks van Skrifuitsprake” (4044). Dan word die klem, soos in die hedendaagse politiek, op medemenslikheid, verdraagsaamheid en die Bybelse liefdesgebod geplaas en homoseksualiteit op grond daarvan vergoeilik. Dit kom glo neer op ‘n “wegbeweeg … van ‘n meer fundamentalistiese Skrifgebruik na ‘n meer verantwoordelike een” (4059).

In die laaste hoofstuk skryf Oosthuizen: “As ek vandag om my kyk na al die mure van vooroordeel wat deur die kerk tussen mense gebou word, raak ek van voor af opstandig” (4493). “Mure van rassevooroordele, seksuele vooroordele, geslagsvooroordele en allerlei ander oordele en vooroordele: die Roomse Gevaar, die Rooi Gevaar, die Swart Gevaar, die Gay Gevaar” (4501). “Die gewaande swart en rooi en pienk gevare hoef nie meer agter elke bos te skuil as jy hulle nie toelaat om daar te wees nie” (4546). Hy laat dit klink asof ons nie in gevaarlike tye en in ‘n gevaarlike land woon nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.