Karel Combrinck: Israel quo vadis?

Die meeste Afrikaners het ‘n sagte plek vir Israel en die Israeli’s. Dit is omdat hulle parallelle sien tussen ons situasie en hulle s’n: Soos ons, het hulle ook ‘n moderne en ontwikkelde land uitgekap uit ‘n halfwoestyn en dít in die aangesig van vyandige menigtes wat hulle omring. En dan kom daar darem seker ‘n tikkie Bybel ook by. Maar dit is sover as wat die ooreenkomste strek, want daar is meer verskille as parallelle: Ons het nie betekenisvolle en invloedryke Afrikanergemeenskappe in bykans elke land ter wêreld nie, ons beskik nie oor ‘n wêreldwye medianetwerk nie, ons word nie gerugsteun deur ‘n magtige internasionale bank- en finansiële stelsel wat in groot mate deur ons beheer word nie en ons het nie die magtigste land op aarde wat ‘n beskermende hand oor ons hou nie. Inteendeel, het daardie land ‘n sleutelrol gespeel om ons ondergang te bewerkstellig. Ons het ook nie die kundigheid, lewenservaring, taalvaardighede en uitgeslapenheid wat kenmerkend van die Israelse bevolking is nie. En dan, die belangrikste verskil van almal: Die Israeli’s het nie halfpad tou opgegooi nie.

Enigeen wat belangstel in wêreldgebeure sal sekerlik bewus wees van die kardinale rol wat die staat Israel daarin speel. In enige toekomstige globale konflik en dit bly maar steeds ‘n potensiële bedreiging, sal Israel direk of indirek ‘n sentrale plek hê. Reeds lê die oorsaak vir die radikalisering van die Arabiese wêreld, met gepaardgaande terrorisme wêreldwyd, by die Verenigde State van Amerika se volgehoue en onvoorwaardelike steun aan die staat Israel. So is Rusland se hulp aan Sirië direk toe te skryf aan ‘n poging om ‘n teenvoeter te skep vir Amerika se Midde-Oosterse vesting in Israel.

Pas is daar in die Veiligheidsraad van die VN die soveelste resolusie aangeneem waarin die vestiging van Joodse nedersettings oos van die Jordaan in die sg. “besette gebiede ” veroordeel word. Veertien van die vyftien VR-lede het ten gunste van die voorstel gestem. Een, naamlik die VSA, het buite stemming gebly. Hierdie is ‘n nuwigheid betreffende Veiligheidsraadresolusies rakende Israel insoverre as wat die VSA tot dusver konsekwent sy veto teen sulke resolusies uitgeoefen het. Die Israelse eerste minister, mnr Netanyahou, het die weerhouding van die Amerikaanse veto as ‘n dolksteek in die rug beskryf.

In die afwesigheid van die Amerikaanse veto beteken dit dus dat die resolusie aangeneem is en dat Israel se kolonisering van die Oosoewer nou “verbied” word. Polities is die VR-resolusie uiteraard ‘n terugslag vir Israel, maar in die praktyk sal dit waarskynlik geen uitwerking hê nie. Ten spyte van die VSA se weerhouding van sy veto, is dit ondenkbaar dat Amerika bv. sal meedoen aan militêre optrede om die VR-besluit op Israel af te dwing of dergelike optrede selfs sal toelaat. Israel het ook reeds by monde van sy eerste minister, mnr Benjamin Netanyahu, bekendgemaak dat hulle nie aan die resolusie gehoor gaan gee nie.

Interessant van die geskiedenis tussen Israel en die VN is dat daar oor die jare dosyne besluite in die VN geneem is wat aspekte van Israel se beleid veroordeel. Almal het tot dusver op dowe ore geval, danksy Amerikaanse steun. So is daar sedert die stigting van die staat Israel in 1947 digby driehonderd besluite in die Algemene Vergadering geneem wat teen Israelse beleidsrigtings en optredes gemik is, asook tweehonderd-en-dertig resolusies in die Veiligheidsraad. Hierbenewens is Israel sedert 2013 ook nog in 45 resolusies van die VN se Raad op Menseregte veroordeel. Voorts het die Algemene Vergadering van die VN ook ‘n aantal resolusies aangeneem met die strekking dat die strategiese verbintenis tussen die VSA en Israel die Israeli’s aanmoedig om ‘n aggressiewe uitbreidingsbeleid te volg. ‘n Beter illustrasie van die onmag van die Volkereg as bostaande, is moeilik te vinde. Dis duidelik dat die Volkereg en sy hoofinstrument die VN, ‘n tandelose tier is en dat mag ten slotte die deurslaggewende faktor in internasionale betrekkinge bly.

Wat is nou die verklaring vir die weerhouding van ‘n Amerikaanse veto in die jongste VR-resolusie rakende Israel? Dit is alombekend dat mnr Obama geen ooghare het vir mnr Netanyahu nie, maar dat dit genoegsame rede is om die VSA van sy vetoreg in hierdie geval te laat afsien, lyk vergesog. Meer waarskynlik is dat Amerika weet dat sonder aktiewe Amerikaanse steun daar in elk geval geen sprake kan wees van dwangmaatreëls teen Israel nie ongeag van wat die VN besluit en dat dit dus eintlik onnodig is dat hy sy vetoreg hoef uit te oefen, veral aangesien die Amerikaanse veto in resolusies rakende Israel vir Amerika baie vyande wêreldwyd maak. As dit nodig word, sal Amerika enige VN-resolusie waarvan hy nie hou nie bloot verontagsaam. Dit sal natuurlik nie die eerste keer wees dat die VSA die prosedures en beginsels van die Volkereg ignoreer nie. Tydens die oorlog in Irak het die VSA hom gewoon afgevee aan die Volkereg sodat die sekretaris-generaal in 2004 oor die inval gesê het: “I have indicated it was not in conformity with the UN Charter. From our point of view, from the Charter point of view, it was illegal.”

Wat van mnr Trump? Ons staan op die vooraand van die intrede van mnr Trump as president met sy eie beleid en aanslag oor die internasionale politiek. Ons weet natuurlik nog nie wat sy beleid jeens Israel presies gaan behels nie, maar voorlopige aanduidings is dat hy ‘n hoogs simpatieke houding teenoor Israel gaan inneem. Hy het reeds aangedui dat hy ten gunste is van die verskuiwing van die setel van die Israelse regering van die huidige hoofstad, Tel Aviv, na Jerusalem, iets waarvoor die Jode reeds dekades agiteer en op ‘n uiterste provokasie teenoor die Arabiese wêreld sal neerkom.

Sover het ons die een en ander gesê oor die politieke, strategiese en regselemente van die “Israelkwessie”. Ons kyk dus nou na enkele van die meer fundamentele aspekte. In ‘n neutedop: Die staat Israel het tot stand gekom met die sg Balfour-deklarasie. Die Balfour-deklarasie was ‘n brief gedateer 2 November 1917 van die Britse minister van buitelandse sake, Lord Arthur James Balfour, gerig aan Baron Walter Rotschild, waarin hy onder meer die volgende sê:

“His Majesty’s government view with favour the establishment in Palestine of a national home for the Jewish people, and will use their best endeavours to facilitate the achievement of this object, it being clearly understood that nothing shall be done which may prejudice the civil and religious rights of existing non-Jewish communities in Palestine or the rights and political status enjoyed by Jews in any other country .”

En daarmee was al die bestanddele vir ‘n politieke tydbom dus byeen. Sy Majesteit se regering besluit om ‘n Joodse staat te vestig op grondgebied wat aan iemand anders behoort en deur ander mense met ‘n ander taal en geloof bewoon word. Uit die staanspoor was die stigting en bestaan van die staat Israel dus volkeregtelik onwettig. Waarom het Sy Majesteit se regering dan nie die Joodse staat gevestig in Wallis, of Northumbria of in Skotland nie, as hulle dan so vrygewig wou wees? Die rede is natuurlik dat die grondgebied wat tans deur Israel beset word in bybelse tye deur Jode bewoon is. Let wel dat Israel selfs in bybelse tye die grond van ander afgevat het. En as ons darem almal moet terugkeer na die situasie wat geheers het in bybelse tye! Amerikaanse konserwatiewes (die sg. “Christen-Sioniste”) gaan sover as om te glo dat die Jode eers na Israel moet terugkeer voor Jesus se tweede koms sal plaasvind…

Wat was egter die sin van die blote voorwaarde dat niks gedoen mog word wat die siviele en godsdienstige regte van die inheemse nie-Joodse bevolking sou benadeel nie? Wat was Sy Majesteit se regering dan nou van plan om te doen as hierdie voorwaarde nie nagekom was nie en die Palestyne se regte vertrap was, soos inderdaad gebeur het? Was die bedoeling dan om die Balfour-deklarasie op te skeur en die Jode weer terug te bring Engeland toe? Die vraag wat ‘n mens noodwendig moet vra en wat selfs baie Jode wêreldwyd vra, is of dit raadsaam was om die staat Israel hoegenaamd tot stand te bring. Kon daar ooit enige twyfel wees dat wanneer die Jode eers op Palestynse grondgebied gevestig is, hulle noodwendig sou groei en uitbrei en dat die regte van die plaaslike bevolking daardeur geraak sou word?

Net om te verstaan hoe dinge werk : In Julie 2015 is ‘n ooreenkoms onderteken deur die VSA, Duitsland, Frankryk, die VK, ‘n verteenwoordiger van die Europese Unie, Rusland, Sjina en Iran ingevolge waarvan Iran ondeneem om sy militêre kernkragprogram te staak met as teenprestasie die opheffing van ekonomiese en tegnologiese sanksies teen Iran. Die ooreenkoms is deur die Veiligheidsraad van die VN onderskryf. Israel was onversetlik teen die ooreenkoms gekant. Die logika van hierdie teenkanting is uiteraard dat Israel beide sanksies teen Iran en die staking van die Iranese kernkragplan wou hê en hierdie begeerte op die VSA wou afdwing. Deel van die ooreenkoms was dat Iran gereelde inspeksies van sy kernkraginstallasies deur die Internasionale Atoomkrag Agentskap (IAA) moes toelaat wat hulle inderdaad uitgevoer het. Vroeër vanjaar het die IAA verslag gedoen dat die Iranese regering die verbod op verdere ontwikkeling van kernwapens stiptelik nakom. In weerwil van hierdie bevinding en in weerwil van die bestaan van die ooreenkoms dus, het die Amerikaanse Kongres enkele dae gelede besluit om die sanksies teen Iran vir nog tien jaar te verleng. Vanselfsprekend het die Iranese regering aangekondig dat hulle dan ook nie van plan is om die bepalings van die ooreenkoms te eerbiedig nie.

Dis duidelik dat die bedoeling is om die Iranese te provokeer om hulle kernkragprogram te hervat wat noodwendig ‘n reaksie van die VSA sal uitlok. Hierdie is ‘n perfekte voorbeeld van die manier waarop Israel daarin slaag om die wêreld, en veral die VSA te manipuleer.

Die verontagsaming van die ooreenkoms met Iran, insluitend die vereiste van inspeksies, die bevindings waarvan dan geïgnoreer word, herinner sterk aan die situasie voor die oorlog in Irak toe die verslag van mnr Hans Blix aangedui het dat na 700 inspeksies geen tekens van wapens van massa vernietiging in Irak gevind kon word nie, waarna die VSA Irak nogtans binnegeval het.

Dis egter so dat Amerikaanse steun aan Israel geleidelik al hoe meer problematies word. Na baie jare van nek uitsteek om Israel ter wille te wees, en in die proses invloed wêreldwyd in te boet, begin die Amerikaners se geduld moontlik nou stadigaan opraak. Mnr Trump mag miskien opnuut Amerika se onvoorwaardelike steun aan Israel toesê. Daarvoor sal ons moet wag om te sien. Feit is, die een of ander tyd sal mnr Trump se geduld ook opraak.

Ten slotte dus: Ten spyte van die politieke terugslag vir Israel met die jongste VR-resolusie, sal sake in Israel voortgaan soos tevore. Israel sal nie die vestiging van nedersetings aan die Oostekant van die Jordaan staak nie en niemand sal of kan iets doen om hulle daartoe te verplig nie. Wat ook sal voortgaan en miskien nog sal vererger, is die vlaag terroriste-aanslae wêreldwyd teen Joodse en Amerikaanse teikens en teen almal wat as bondgenote van bogenoemdes beskou word: meer en meer gruweldade, meer en meer verminkings, meer en meer bloed, meer en meer trane. Want ongelukkig is dit so dat daar vir die situasie in Israel, benewens die verdeling van die land in twee volkome onafhanklike state, haas geen oplossing is nie en vir hierdie oplossing is die Israeli’s nie te vinde nie. His Majesty’s government was van al hierdie komplikasies niks te wagte nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.