Dan Roodt: Vrae aan Johann Rupert oor Afrikaans en ‘Voortrekkerwaardes’, ‘n ope brief

Geagte doktor Johann Rupert,

Uit onlangse mediaberigte blyk dit dat u u negatief oor Afrikaans en die huidige taalstryd sou uitgelaat het. Blykbaar het u gesê: ““Ek is jammer om dit vir julle te sê, maar ons het groter probleme as taal.” Asook die volgende:

“Die studente op die Universiteit Stellenbosch is meer bekommerd oor hul toekoms as oor die taal. Hulle is slimmer as ons, want hulle weet teen wie hulle moet meeding. Hul mededinging is nie in Pretoria en Johannesburg nie. Dit is wêreldwyd.”

Verder was u neerhalend oor “Voortrekkerwaardes”, sonder dat u vir ons omskryf wat u daarmee bedoel. Moontlik is u toespraak nie behoorlik weergegee nie, maar dit bied vir ons in die taalstryd meer vrae as antwoorde.

Waarom is “die jeug gepla oor hul toekoms”? Weens Amerikaanse regstellende aksie wat oorspronklik vir die swart minderheid in die VSA bedink is en in Suid-Afrika klakkeloos op ‘n verarmende blanke minderheid toegepas word; ‘n ideologie wat in Engels ontstaan het. Indien Engels en links-liberale Amerikaanse denke nie so ‘n toenemende groot rol in ons land gespeel het nie, sou ons regering moontlik minder fanaties oor regstellende aksie gewees het, nie waar nie?

Nou moet ons jeug wat van die arbeidsmark uitgesluit word seker verengels om te kan emigreer na “die laaste oorblywende blanke bastion”, Australië. Wat binnekort Chinees gaan wees, indien nie moslems nie, want dit is reg langsaan Indonesië, die grootste Moslemland ter wêreld, met 202,9 miljoen mense wat Islam aanhang.

U praat self in u toespraak van “die bedreiging van toenemende radikalisme”, weereens sonder om dit verder te omskryf. Oor die afgelope week of wat was daar feitlik elke dag ‘n terreurvoorval in Duitsland waarby Moslemimmigrante betrokke was. Salafisme word beskou as ‘n radikale vorm van Islam wat die terugkeer na die waardes van “die gelowige voorvaders” (die salaf) predik. Dit impliseer ‘n terugkeer na die tradisionele waardes van die sewende eeu na Christus toe Mohammed die Koran geskryf het.

U verwerp “Voortrekkerwaardes”. In ‘n sekere sin is “Voortrekkerwaardes” soos ons dit verstaan, ook Westerse waardes wat uit ons Christelike en sekulêre beskawing ontstaan het. Moet ek daarom verstaan dat u daarteen gekant is, en liefs die waardes van radikale salifisme of oer-Afrika wil sien seëvier? Of dalk ‘n soort postmoderne, anomiese dekadensie waar geen wette, reëls of etiese kodes meer geld nie?

As ons dus Voortrekkerwaardes sou moes opsom, kom dit op die volgende neer:

  • Christelike waardes soos naasteliefde, barmhartigheid, die monogame huwelik en respek teenoor menselewens.
  • Die waardes van die Europese Verligting soos gelykheid, waaronder gelykheid van man en vrou voor die reg, respek vir die reg wat ook in ‘n grondwet vergestalt word, republikanisme, selfbeskikking en soewereiniteit soos wat die Transvaalse Voortrekkers teen 1858 aangeneem het.

Volgens twee hedendaagse akademiese kommentators, W A Dreyer & S J Botha (“Kerk, volk en owerheid in die 1858-grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek”, HTS 51/2 (1995)):

“is (dit) duidelik dat die Transvaalse ‘Afrikanen’ oortuigde republikeine was. Die heel eerste artikel van die grondwet stel dit duidelik dat die regeringsvorm van deze maatschappij zal zyn Republikeinsch. Hand aan hand met die republikeinse ideaal, loop die strewe na staatkundige vryheid wat in verskeie artikels aan die orde kom. Vir die Afrikaner in die Transvaal was selfbeskikking en politieke vryheid die hoogste ideaal. Dit blyk uit die feit dat van die artikels dikwels met die woorde ‘het volk wil’ begin. Die volk, en nie die individu nie, vorm die kern van die Transvaalse Afrikaners se politieke denke, want die yolk is volgens hulle soewerein en die hoogste gesag.”

Dieselfde twee skrywers meen dat die Voortrekkergrondwet van 1858 sterk deur ten minste twee ander elemente beïnvloed is: die Amerikaanse grondwet van 1787, asook die Patriottebeweging aan die Kaap in die 1790’s toe die denke van die Franse Revolusie tot Suid-Afrika begin deurdring het.

Uit u verwerping van “Voortrekkerwaardes”, wat dus sowel die Christendom as die Europese Verligting insluit, blyk dit dat u geheel ander waardes vir ons voorstaan. Watter waardes sou dit wees? Dié van Islam en die hedendaagse Salafisme wat dalk in u eie terme “ekstremisties” sou wees? Of is dit dalk die waardes van die revolusionêre kommunisme wat ook so sterk via die Engelse taal en Suid-Afrikaans-Engelse akademiese kultuur in ons land versprei is en steeds word?

Ek hoef u seker nie daaraan te herinner dat u eie aansienlike bates, waarvan ‘n gedeelte steeds in Suid-Afrika verkeer, deur die revolusionêre kommunisme bedreig word nie? Of is u as globalistiese miljardêr, soortgelyk aan mnr. George Soros, begerig om politieke onrus en onstabiliteit in ander lande, waaronder Suid-Afrika, te saai ten einde voordeel uit finansiële krisisse en dalings in geldeenhede te trek?

Verengelsing van kampusse en radikalisering gaan in Suid-Afrika hand aan hand. Dis nie verbasend nie, aangesien die meeste Engelstalige akademici in ons land – ten minste in die geesteswetenskappe – reeds tot een of ander vorm van marxisme of neo-marxisme verbind is en dit ook met die subsidie van die staat en die belastingbetaler aan hul studente oordra. Dis ongelukkig ‘n feit soos ‘n koei in Suid-Afrika: Engels en politieke radikalisme (“ekstremisme” in u terminologie) gaan hand aan hand.

U praat ook van mededinging in die globale markte. Dit wil voorkom asof u meen dat slegs die Engelse taal ons “mededingend” sou maak. Sou u sê dat die hoof van Volkswagen of Daimler wat Duits praat en in Duits opgevoed is, minderwaardig teenoor Britse motorvervaardigers voel? Sover ek verstaan, is daar nie veel Britse motorvervaardigers meer oor nie.

U maatskappy Richemont vervaardig luukse horlosies in Switserland, in die Genève-omgewing waar mense Frans praat. Sou u sê dat hulle nie internasionaal mededingend is nie omdat hulle nie Engels as enigste taal aanvaar het nie? Watter Britse of Amerikaanse horlosiemaatskappye verteenwoordig vir hulle ‘n bedreiging?

Sou u sê dat die Koreaanse maatskappy Samsung, wat die wêreld se grootste produsent van slimfone is en oor ‘n veel groter markaandeel as die Amerikaanse Apple beskik, ewe seer “onmededingend” is omdat hy Koreaans en nie Engels is nie?

Buite die VSA en die sogenaamde “Silikonvallei” in Kalifornië het Stockholm te voorskyn getree as ‘n stad waar van die grootste innovering sover dit programmatuur en die internet betref, plaasvind. Hoewel baie Swede ook Engels magtig is, is daar geen pogings om Sweedse skole of universiteite te verengels nie. Sweeds is ook nie ‘n baie groot taal nie en as Afrikaanse tweede- en derdetaalsprekers bygereken word, is Afrikaans selfs ‘n groter taal as Sweeds. Sou u sê die feit dat Swede aan hul moedertaal verknog is, maak hulle minder “mededingend”?

In die meeste veeltalige Westerse lande, soos Kanada, Switserland en België, geld federale politieke stelsels wat ook vir taalgelykheid voorsiening maak. Uit u toespraak blyk dit dat u nie so ‘n reëling aanvaar nie en van Engels ‘n soort “oppertaal” in Suid-Afrika wil maak, soortgelyk aan die situasie in die Britse kolonies (Kaap en Natal) tydens die negentiende eeu.

Gegewe dus u verwerping van Westerse waardes, want “Voortrekkerwaardes” is niks anders nie, asook die Westerse beginsel van taalgelykheid, watter waardes staan u self voor?

Ek glo u is aan elke Afrikaner en Afrikaanssprekende in die land ‘n antwoord verskuldig, en ek sien daarna uit om dit verneem.

Hoogagtend die uwe,

Dr. Dan Roodt
Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.