Die Amerikaanse tydskrif Forbes het so pas sy jongste lys van dollarmiljardêrs gepubliseer en Bill Gates is steeds die rykste man op aarde met ‘n fortuin van $77,7 miljard. Slegs sewe Suid-Afrikaners verskyn op die lys, waarvan drie Afrikaners is.
Mnr. Christo Wiese (foto hier bo), die kleinhandelmagnaat wat die beherende aandeel in Shoprite besit, beskik oor ‘n persoonlike boedel van $7,1 miljard (ongeveer R100 000 000 000). Hy is tans die rykste man in Suid-Afrika. Mnr. Nicky Oppenheimer, erfgenaam van mnr. Harry Oppenheimer wat jare lank die rykste man in die land was, staan deesdae in die tweede plek met ‘n fortuin van $6,7 miljard.
In die derde plek verskyn Johann Rupert van die Richemont- en Rembrandtgroep, insgelyks die erfgenaam van die bekende Afrikanersakeman, wyle Anton Rupert. Hy beskik oor rykdom van $5,4 miljard. Onlangs was hy in die nuus weens sy uitlatings oor die Afrikaanse taalstryd.
In die vierde plek op die Suid-Afrikaanse lys verskyn die belegger Allan Gray, die enigste nie-Joodse Engelsman op die lys, met $1,9 miljard.
‘n Kortkop agter hom, op $1,8 miljard, figureer mnr. Koos Bekker van Naspers wat danksy sy maatskappy se belegging in die Hongkongse maatskappy Tencent meteoriese opgang gemaak het. Bekker is tans die vyfde rykste man in die land.
Hoewel mnr. Nicky Oppenheimer van Joodse afkoms is, was sy vader ‘n bekeerde Christen wat met ‘n Engelse vrou getroud was, dus word hy nie meer deur die Joodse gemeenskap as Joods beskou nie. Die sesde rykste man in Suid-Afrika, mnr. Stephen Saad van die Aspen- farmaseutiese groep, speel wel ‘n leidende rol in die Suid-Afrikaanse Joodse gemeenskap wat reeds verskeie toekennings aan hom gemaak het. Hy beskik oor bates van $1,5 miljard en het veral begin ryk word toe tenders vir die verskaffing van generiese Vigs-medisyne deur die ANC-regering aan sy Aspen-groep toegeken is. Dié medisyne word ook gedeeltelik deur die Amerikaanse regering se USAID befonds.
Die enigste swartman op die lys van sewe SA dollarmiljardêrs is Patrice Motsepe. Die randwaarde van sy aandeelhouding in African Rainbow Minerals het die afgelope aantal jare aansienlik gedaal weens die probleme in die mynbedryf, dus staan sy fortuin tans min of meer gelyk met dié van Stephen Saad op $1,5 miljard.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.