Piet Croucamp dreig PRAAG oor sy ‘God en Jesus is breindood’-video

Die marxistiese, anti-Afrikaanse lektor aan die Universiteit van Johannesburg, dr. Piet Croucamp, is tans besig om PRAAG te dreig weens ‘n opname van sy “God en Jesus is breindood”-toespraak wat op PRAAG se YouTube-kanaal geluister kan word. Die opname, in Engels, bevat growwe godlasterlike uitsprake teen Christene, Moslems en Jode, asook gelowiges in die algemeen.

‘n Engelse skrywe waarin PRAAG met “onmiddellike regstappe” gedreig word, is aan die aksiegroep gerig. Omdat PRAAG hom vir taalgelykheid en gelykberegtiging vir Afrikaans beywer, is die afsender van die epos in kennis gestel dat die organisasie geensins op Engelse regskrywes reageer nie.

SONDER BENADELING VAN REGTE

Ons lei af uit onderstaande skrywe dat u na ‘n YouTube-video verwys en regsoptrede daaroor beplan.

Let daarop dat PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, geen regskrywes in die Engelse taal beantwoord nie, en op sy grondwetlike en internasionale reg aandring om sodanige skrywes in Afrikaans te ontvang.

U word dus vriendelik versoek om die versending van enige Engelstalige skrywes na dié adres te staak aangesien ons nie daarop sal reageer nie.

Die uwe,

Dr. Dan Roodt
Direkteur, PRAAG

In verdere kommentaar het dr. Dan Roodt van PRAAG gesê:

“Dr. Piet Croucamp, wat blykbaar ‘n proefskrif oor minibustaxi’s geskryf het, gedra hom meermale in die openbaar soos ‘n minibustaxibestuurder en beskik insgelyks oor die intellek van so ‘n bestuurder. Hy is iemand wat ander, veral vroue soos dr. Louise Mabille, intimideer, afdreig en op kleinlike wyse vervolg. Nie net beskou hy dit as sy reg om Moslems, Jode en Christene op ‘n growwe wyse te beledig nie, maar hy is ook sterk anti-Afrikaans en ‘n opperste Boerehater.

“In die onlangse verlede het hy dit goedgedink om Breyten Breytenbach, wat moontlik oor die afgelope 50 jaar die mees gepubliseerde digter in Afrikaans is, te beledig en uit te skel bloot omdat hy ‘n standpunt ten gunste van die behoud van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch ingeneem het. In reaksie daarop het prof. Helize van Vuuren van Port Elizabeth aan Croucamp geskryf:

“…u lyk asof u haat wil kweek, nog intenser haat teen u eie moedertaal, met u ‘bloed aan die mure’-opmerking. Duidelik het u geen besondere band met u moedertaal nie. En voel vere vir sy letterkunde.”

“Croucamp het voorheen ook beweer dat Afrikaners oor ‘n laer gemiddelde intelligensievlak as dié van ander etniese groepe beskik.

“Ons sou ons mandaat van die Afrikaanse publiek en alles waarin ons glo verraai indien ons ons deur ‘n sogenaamde ‘akademiese’ rampokker soos Piet Kopdoek laat afdreig en intimideer om ‘n bona fide-opname van wat hy as ‘n teologiese referaat beskou, van die internet te verwyder. In geen opsig het die Universiteit van Johannesburg hom nog ooit van Croucamp se standpunte en platvloerse taal wat hy gereeld in die openbaar besig, gedistansieer nie. Die enigste logiese afleiding is dat die universiteit hom inderdaad met Croucamp se menings en terme vereenselwig.

“As patriotiese Afrikaner en liefhebber van Afrikaans, vind ek dit hartverskeurend dat die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) tot so ‘n lae vlak kan daal as om hom met Croucamp se anti-Afrikaanse, godslasterlike, kwetsende en onnosele uitsprake te vereenselwig.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.