6,8 miljoen stemme vir Franse Front National: ”n verloorder wat swaar weeg’

Deel op

Uiteindelik het die Front National van mevrou Marine Le Pen geen enkele streek in Frankryk kon inpalm nie: soos meningsopnames op die vooraand van die tweede rondte van die verkiesing voorspel het. Nietemin het die steun vir dié regse party skouspelagtig toegeneem en het hy 6,8 miljoen stemme op hom verenig. Vandaar die hoofopskrif van die koerant Le Parisien vanoggend: “Front National, ‘n verloorder wat swaar weeg”.

‘n Aspek wat ook allerweë in die media verswyg word, is dat die streeksparty wat meer onafhanklikheid vir die eiland Korsika bepleit, die Sosialiste verslaan het om ‘n verrassende oorwinning aan te teken.

Tydens haar toespraak ná die aankondiging van die uitslae en dat sy slegs 45,5% van die stemme gekry het, het Marion Maréchal-Le Pen gesê: “Daar is sommige oorwinnings wat die oorwinnaar in die skande steek.” Die regse en linkse partye wat in PACA en Nord-Pas-de-Calais-Picardie teen die Front saamgestaan het, het gewen maar het die argument van die FN dat hulle die “enigste ware opposisie” teenoor ‘n “verrotte en korrupte politieke klas” is, gestand gedoen.

Die Sosialistiese eerste minister, Manuel Valls, het gisteraand gesê dat “die gevaar van die Front National nog nie verby is nie”. Sy party het ook die belangrike Île-de-France, die streek van 12 miljoen mense rondom Parys wat 30% van die land se BNP verteenwoordig, met slegs 60 000 stemme aan die Republikeine se Valérie Pécresse moes afstaan. Die Sosialistiese kandidaat, Claude Bartolone, het hom hewige kritiek op die hals gehaal toe hy die “rassekaart” gespeel het deur te sê dat sy opponent die ryk voorstede en “die blanke ras” verteenwoordig.

Die Front National het sy aantal verkose streeksverteenwoordigers met drie vermenigvuldig, vanaf 118 tot 358, sedert die vorige verkiesing in 2010, iets waaroor Marine Le Pen gisteraand in haar noppies was. “Niks gaan ons keer nie,” het sy tydens haar toespraak in die dorpie Hénin-Beaumont gesê. “Die verdeling loop voortaan tussen globaliste en patriotte. Die globaliste beywer hulle vir die afwatering van Frankryk en sy volk.”

Die sentrum-regse Republikeine het sewe streke ingepalm, die Sosialiste vyf, terwyl die Korsikaanse nasionaliste dié op hul eiland gewen het.

Vir hierdie verkiesing is die aantal streke van 22 tot 13 verminder. Indien die ou, kleiner streke nog geldig was, sou die Front National onder mnr. Louis Aliot op grond van gister se stemme die streek Languedoc-Roussillon net-net gewen het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.