Leon Lemmer: Naspers: Perspektief op 100 jaar (Deel 1)

Deel op

Nasionale Pers is in 1915 gestig. In 1998 is die naam na Naspers verander; nie net om die naam te verkort nie, maar blykbaar ook om die maatskappy duideliker van assosiasie met die Nasionale Party en apartheid te distansieer. ‘n Eeu na die stigting is fees gevier en ‘n boek gepubliseer: ‘n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en Oorgange (Kaapstad: Tafelberg, 2015, 341p; Amazon Kindle $23.93). Lizette Rabe is die samesteller van hierdie bundel opstelle, wat in groot mate deur vorige en huidige Naspers-werknemers geskryf is. Maar daar is ook die gebruiklike verdagtes wat in hierdie geledere verwag word, soos Sampie Terreblanche, Willie Esterhuyse en Michael le Cordeur, wat bydraes aangebied het of daarom gevra is. As Naspers oor ‘n honderd jaar nog bestaan en ons almal dood is, kan hierdie dokumentering gebruik word om vas te stel hoedanig die siening van hierdie outeurs in 2015 was. Daar is waarheid in die Chinese spreekwoord wat lui: “Die dofste ink is beter as die beste geheue” (Kindle 3248).

Die outeurs is multi-etnies en hulle bydraes is in sowel Afrikaans as Engels. ‘n Mens kan wonder in hoeverre Afrikaans in 2115 gelees sal word. Heel moontlik sal dit vreemd voorkom dat die bundel oorwegend in Afrikaans is. Die maatskappy is begin met die doel om “Afrikanerbelange te bevorder” (6), ‘n “propageet vir Afrikanernasionalisme” te wees (47, volgens Lizette Rabe), wat sekerlik Afrikaans insluit. Sedertdien het die maatskappy ‘n hoogs winsgewende internasionale onderneming geword met hoofsaaklik Engels as voertaal. “Toe Naspers in 1994 op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is, is die maatskappy se geleidelike skuif van sektariese idealisme na internasionale kommersialisering geformaliseer” (2755). Maatskappybelange het toenemend gedraai om “internasionale pop kultuur, veral eers op televisie en later die internet” (2760). Naspers het in ‘n sin die wêreld gewen maar sy siel verloor. Mammon word aanbid. Piet Cillié het as voorsitter verkies om (half apologeties) van surplusse te praat (4520), maar deesdae gaan dit onbeskaamd om die grootste moontlike winste.

Amanda Botha skryf: “Meer stemme registreer kommer dat Naspers ten koste van Afrikaans en sy skeppende produkte, binne groter globale kragte sy roepingsentiment met sy stigting ‘n eeu gelede versaak deur winste en aandeelhouers se beursies as enkele maatstaf te verhef” (2587). Daarom is bv verliesmakende boekwinkels en gehalte tydskrifte, soos Standpunte* en Insig,** gesluit. Kultuur is geweeg en baie ligter as geld bevind. Ton Vosloo verduidelik: “Ons probleem was dat ons nooit ‘n kommersiële boekwinkel wat op Afrikaans gerig was, suksesvol kon bedryf nie, want daar is net nie genoeg voete nie … ons het geleidelik uitbeweeg uit die kleinhandel” (2750).

[* “Gehalte” verwys hier nie na die laaste uitgawes van Standpunte toe André P Brink as redakteur met sy uittartende politiekery vorendag gekom het nie. “In 1975 het Brink Abraham Fischer geloof as ‘n groot Afrikaner wat die begrip Afrikanerdom verruim en verryk het” (2515). In 1983 het Piet Cillié as Naspers-voorsitter gewaarsku dat Naspers nie “blatante wanorde en anargie” sou subsidieer nie (2525). Oor die sluiting van Standpunte in 1986 het Brink gesê: “Die moord op Standpunte – nie net die feit daarvan nie, maar die manier waarop hy nekomgedraai is – sal dalk eendag nog geëien word as een van die skandaligste kleiner hoofstukke in die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner” (2536).

** “Gehalte” verwys hier eerder na die vroeëre uitgawes van Insig, bv dié onder die redakteurskap van Koos Human, as na die latere uitgawes, onder die redakteurskap van bv Elmarie Rautenbach, toe stukkies en brokkies met foto’s gepubliseer is.]

In haar voorwoord skryf Esmaré Weideman, die besturende direkteur van Media24, dat daar in Naspers se geskiedenis baie is “waaroor jy jou kop in skaamte laat hang, maar net so baie om op trots te wees” (15). Hiermee berei sy die lesers voor op haar linkse politieke inslag: Dié boek is ‘n “storie oor die transformasie van ras en geslag, die afgooi van politieke en sosiale jukke, sodat ons vandag met trots kan sê gelykheid en vryheid van spraak vorm waarlik die hoekstene van ons maatskappy” (19). “Dikwels het ons geheul, ja. Maar net so dikwels stem dikgemaak, bevraagteken, die vergrootglas laat skyn op ongeregtigheid in al sy fasette” (23). Lizette Rabe verduidelik die boektitel soos volg: Dat “Naspers etlike revolusies oorleef het – en selfs help aanstig het – en elke keer finansieel en struktureel met meer soepelheid op sy voete geland het” (34). Hierdie omwentelinge of innoverings was van ‘n tegnologiese, politiese of kulturele aard (38). Daar is ‘n preokkupasie met (linkse) politiek dwarsdeur die boek terwyl Naspers deesdae ‘n “kommersieel eerder as ideologies gedrewe maatskappy” wil wees (56).

Die trots wat uit die boek straal, neem dikwels die vorm van jakkels-prys-sy-eie-stert aan. Die outeurs word “groot geeste in die Suid-Afrikaanse mediawêreld” genoem (6092). Daar is selfs outeurs wat hulle verwonder aan hoe goed hulle eintlik is (veral Zelda Jongbloed, Michael le Cordeur en Esmaré Weideman). Hulle bekronings en pryse word deur hulleself of ander outeurs in die teks genoem, of redaksioneel aan die einde van bydraes vermeld, saam met ‘n outeursfoto. Le Cordeur se redaksionele aanbeveling (eintlik CV) is die langste. Wat as goed beskou word, het dikwels ‘n politieke konteks, bv Naspers-koerante “het meegehelp om die pad te begin oopmaak vir wat uiteindelik ‘n demokratiese Suid-Afrika sou word” (65). Max du Preez is een van diegene wat nie hiermee saamstem nie (499).

Die feministiese Lizette Rabe verwys na die “glasplafon”* wat in die “vroue-revolusie” deurbreek is en natuurlik ook die “kleurplafon” (69). “Maar een van die grootste omwentelinge was dalk die finale afwerp van ‘n sekere patriargale gesagstruktuur met die ‘WVK-revolusie’ toe jonger joernaliste teen die maatskappybesluit in voorleggings aan die WVK [Waarheids- en Versoeningskommissie] gemaak het” (69). Ek skryf hier onder in besonderhede oor hierdie WVK-insident. [* Martie Retief Meiring noem dat die frase “glass ceiling” in 1984 deur Gay Bryant in die VSA geskep is “vir daardie frusterende hoogte wat vroue in die korporatiewe wêreld wel kan bereik, maar dan net nie kan deurbreek na die hoogste sport nie” (1113).]

Daar is so baie opstelle in die bundel dat ek kwalik almal kan bespreek. Ek beperk my kommentaar tot geselekteerde aspekte, sowel hoogte- as laagtepunte; dus dinge waarin Praag-lesers moontlik belangstel. Die volgorde van my uiteensetting is dieselfde as in die boek. Daar is heelwat oorvleueling en herhaling in die bundel. Dit wek die indruk dat sekere kern-inligting aan outeurs beskikbaar gestel is, of dat party outeurs insae in die bydraes van sommige van die ander outeurs gehad het. Te veel tikfoute het drukfoute geword. Die taalkundige versorging kon ook beter gewees het, bv “uit huis uit” (1393, 3804) pleks van “van huis uit” en “tot mindere mate” (3634, 3639) pleks van “in mindere mate”. Esmaré Weideman gebruik in haar voorwoord die steurende anglisisme “soveel so” (19), ens.

Sampie Terreblanche

Sampie Terreblache is vertrou om die politiek-ekonomiese agtergrond te skets. Hy begin met ‘n “(wit) elite-sameswering” in 1909, toe swart politieke regte uit die Unie-grondwet gelaat is, en hy eindig met ‘n “elite-sameswering tussen die drie grootste magsblokke” in 1990/1994: “die Amerikaans-geleide neoliberale globale empire, die wit beheerde kapitalistiese (of korporatiewe) sektor, en die swart elite wat deur die ANC beheer is” (101). Tereg merk hy op dat “die Suid-Afrikaanse politieke stelsel streng gesproke nie as ‘n demokratiese politieke stelsel beskryf word nie, maar eerder as ‘n politiek-ekonomiese stelsel wat op ‘n proporsioneel-verkose meerderheidsregering [dus swart mag] gebaseer is” (105). Soos John Stuart Mill noem hy dit “die tirannie van die meerderheid” (109).

Leopold Scholtz

Leopold Scholtz vestig die aandag op ‘n interessante historiese gebeurtenis: “In die loop van 1941 het ‘n groep Afrikaners, onder wie dr Hendrik Verwoerd, ‘n konsep-grondwet aanvaar vir die republiek waarna hulle gestreef het. Dit het bepaal dat Afrikaans ‘as die taal van die oorspronklike blanke inwoners van Suid-Afrika’ die eerste amptelike taal sou wees, met Engels ‘as ‘n tweede, aanvullende taal’. Stemreg sou gereserveer word vir diegene ‘van wie verwag kan word dat hulle volksopbouend optree'” (391). Hoewel beter sou so ‘n taalopset nie vir sowel Suid-Afrika as Namibië gewees het nie? Ook behoort stemreg beperk te word tot diegene wat tot die heil van die land bydra. Diegene wat op ander parasiteer, voorspoed saboteer en hulle aan misdaad skuldig maak, behoort nie politieke inspraak te hê nie.

Scholtz vertel van ‘n onderonsie wat die joernalis Schalk Pienaar met Verwoerd gehad het en hy maar teruggekrabbel het: “Wanneer ‘n skilpad die boer met ‘n graaf in die hand sien aankom, hy hom eenvoudig in sy dop terugtrek” (426). Dit is Pienaar wat al in 1968 van “bruin Afrikaners” gepraat het (477). Scholtz maak gewag van PW Botha se “vulkaniese styl” en vertel: “By geleentheid het hy Beeld en Rapport se joernaliste daarvan beskuldig dat hulle ‘lunsrieme’ is wat ‘op hitte raak'” (545).

Met die redakteurskap van Arrie Joubert (2000-2006) het Die Burger se linkse politieke era in alle erns momentum gekry. Kritiek op die ANC het “aansienlik sagter” geword en daar was selfs “negatiewe kommentaar op diegene wat vir Afrikaans, byvoorbeeld aan die Universiteit Stellenbosch, wou veg” (565). Hierdie dwaasheid loop myns insiens in groot mate deur tot op hede. Hoe ‘n Afrikaanse koerant hom nie-geroepe kan voel om vir Afrikaans in die bres te tree, gaan my verstand te bowe. Die linkse Gabriël J Botma beweer egter: “Die Burger het wel een sentrale aspek van Afrikanernasionalisme uit die vorige era na die nuwe bedeling ‘oorgedra’ – sy rol as advokaat vir die behoud van die amptelike politieke en ekonomiese funksies van Afrikaans” (2711). Botma toon om politieke redes dieselfde wrewel as Herman Wasserman, wat myns insiens ‘n afkeur het van omtrent enigiets waaraan Afrikaners waarde heg: “Ek het een of twee keer probeer om te vra waarom dit [Afrikaanse kunstefeeste, soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn] so oorwegend Afrikaans is … met [die meer kultureel-inklusiewe Nasionale Kunstefees in] Grahamstad in gedagte … waarom daar nie meer swart mense was nie” (2779). Sowel Botma as Wasserman het verskoning by die WVK gevra (2788). Botma verkwalik Die Burger selfs omdat die koerant “die ANC dikwels gekritiseer [het] vir sy toewyding tot [eintlik: aan] die gewapende stryd,” asook sy bondgenootskap met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (2792).

Hermann Giliomee

Hermann Giliomee vertel dat hy die skepper van die benaming “die groot krokodil” vir PW Botha is (597). “Myns insiens was [Piet] Cillié saam met HF Verwoerd en NP van Wyk Louw die heel belangrikste Afrikaanse meningsvormers van tussen die middel 1950’s en die laat 1970’s” (597). Cillié was ‘n “politieke dier vir wie partypolitiek ‘n ‘bloedsport’ was” (612). Giliomee vind dit tereg werkwaardig dat in die Kemptonpark-onderhandelings “feitlik geen aandag aan die kiesstelsel gegee is nie – en tog bepaal ‘n kiesstelsel die hele politieke stelsel en kultuur wat daaruit ontwikkel het” (648). Dit is maar net een van die opsigte waarin daar tydens die grondwetlike onderhandelings erg drooggemaak is. Giliomee sê later glad te sagkens: “Die NP-onderhandelaars [het] by Kempton Park nie indrukwekkend vertoon” nie (809). Die Westminister-stelsel berus op “die wenner-vat-alles-beginsel” (652) “wat eintlik ‘n demokratiese tirannie beteken” (656). Cillié het myns insiens met die volgende ‘n wysheid verkondig: “Mense aanvaar net besluite van instellings en die uitslag van verkiesings as dit die magsverhouding in die samelewing korrek weerspieël” (665). In die nuwe Suid-Afrika word die blankes en (dalk) veral die Afrikaners onderwaardeer, om dit sagkens te stel.

“Apartheid was ‘n Bolandse idee” (681). Giliomee sê dit omdat DF Malan en die politici en akademici (van Stellenbosch) in sy binnekring in die Wes-Kaap gesetel was. Myns insiens moet die klem eerder gelê word op die feit dat rasse-segregasie die tradisionele beleid van die blanke en by uitstek die Britse koloniale bewind was (hier en elders in die wêreld) en dat apartheid ‘n verfynde of aangepaste voortsetting hiervan was.

Piet Cillié het met Ben Marais, ‘n liberalistiese teoloog, swaarde gekruis oor sy boek, Kleurkrisis van die Weste (1952). Marais het geredeneer dat etniese groepe weinig verskil ingevolge wat deesdae hulle DNS genoem word. Cillié het teengewerp: “Hoe help dit byvoorbeeld Jode en Arabiere in Palestina om te weet dat mense meer eenders is as anders?” (690). Die punt is dat mense individueel en groepsgewys kultureel verskil, dus wat lewenswyse betref, en daardie verskil blyk glad nie uit hulle DNS nie. “Kleur in Suid-Afrika was inderdaad belangrik omdat dit ook die grens tussen ‘volke’ of ‘nasies’ was. Vir Cillié het dit gegaan om ‘nasionale instinkte’ … Apartheid moes Afrikaners en die groter wit gemeenskap help om mag oor hulself te behou” (690). Dit het dus primêr om selfbehoud gegaan en nie om meerderwaardigheid of onderdrukking nie.

LE Neame, ‘n redakteur van die Cape Argus, het Cillié gesteun. Neame “het die opvatting verwerp dat apartheid suiwer gebaseer is op die aanspraak dat die wit ras inherent meerderwaardig is. Vir hom was kleurvooroordeel nie die kern van die saak nie. Die probleem was “national rather than pigmental. Differentiation is not enforced as a brand of inferiority but as a bulwark against the infiltration of people of another civilization” (695). Apartheid het nie ondergegaan omdat dit so onredbaar sleg, soos wat deesdae aan ons voorgehou word, was nie. Giliomee gee ‘n aanvaarbaarder rede: “Die wittes se verswakkende demografiese posisie was die grootste enkele oorsaak van die disintegrasie van apartheid” (738). Blanke Suid-Afrikaners is verswelg deur die getalle-oorwig (gerugsteun deur gewelddadigheid) van die swartes. Dit is die lot wat blankes in die res van die wêreld (bv Amerika, Europa, Australië) na verwagting mettertyd ook gaan tref. “Rotterdam [in Nederland, ‘n land wat apartheid heftig gekritiseer het] het reeds maatreëls vir instromingsbeheer wat soos dié van apartheid lyk” (747).

As kritikus van apartheid vra Giliomee: “Hoe was dit moontlik dat Afrikanernasionalisme so lank met so ‘n harde en wrede beleid kon volhard? ‘n Verklaring hiervoor moet begin by die Afrikaners se veiligheidsvrese en hul klein getalle – een van die belangrikste feite oor die Afrikaners. Hulle is gemaal tussen Engelsprekendes, kultureel en ekonomies soveel sterker, en swartes, met hul getalsterkte. Vir Afrikaners om te probeer voortbestaan as volk deur hulle op die redelikheid van die ander party, of op beginsels van samewerking te verlaat, was ‘n hopelose saak” (809). Tog is daar by Giliomee ‘n sprankie (ydele?) hoop: “Ons weet uit ons eie geskiedenis dat ‘n volk wat sy sout werd is, op die duur nie in ‘n vreemde regering sal berus nie” (832).

Lizette Rabe

Lizette Rabe noem dat Piet Cillié en Hendrik Verwoerd teen 1960 as van “die skerpste intellekte in Suid-Afrika beskryf is” (863). Maar ons weet dat ‘n kommentator heel onlangs om verskoning gevra het omdat hy dit durf waag het om iets goeds van Verwoerd te sê, te wete dat hy slim was. Schalk Pienaar het gesê “Suid-Afrika het net twee gevaarlike leiers geken: lord Milner, ‘n Duitser van geboorte, en Verwoerd, ‘n Nederlander van geboorte” (873). In die nuwe Suid-Afrika is daar myns insiens ‘n hele aantal gevaarlike leiers, maar Rabe verwys nie na enige van hulle nie. Dit is glo Die Burger se rubriekskrywer “Dawie” (dus Cillié) wat in 1959 eerste die frase “klein apartheid” gebruik het (923). Hy het (profeties) geskryf “dat as Nasionaalgesinde koerante en hul joernaliste ”n klomp betaalde papegaaie en ‘n klomp hoera-blaaie’ word, hulle so seker as die son sou ondergaan, gevolg deur die regering, die NP en Afrikanerdom” (933).

Daar het ‘n hewige stryd tussen Cillié en Verwoerd gewoed oor Cillié se voorspraak dat die bruines deur hulle eie mense in die parlement verteenwoordig moet word. “Terwyl die een [Cillié] op ‘n intellektuele vlak wou debatteer, het die ander [Verwoerd] die laagste, brutaal-ongesofistikeerde sluise van Afrikanerdom oopgetrek” (966). Cillié is uit intellektuele geledere gesteun. Daarom het hy geskryf: “Pas maar op vir die houding dat die ‘intellektuele’ kan gaan bars! Moet jul eie volk nie onthoof en dink dat hy deur die moeilikhede vorentoe kan beweeg sonder ‘n kop nie” (1001). Sit ons deesdae nie dalk met ‘n koplose regering nie? Cillié het na Verwoerd as “daardie man” (1015) en “die ander man” (1038) verwys en gesê: “Hy het die Neanderdaller in ons mense opgeroep” (1015). “Cillié het geskryf hy het gemeen Afrikanerdom sou ná republiekwording [1961] ‘groter, buigsamer en behendiger’ word – ‘die Afrikanerdom van De Wet en De la Rey eerder as van Piet Joubert en Cronjé'” (1047).

Martie Retief Meiring

Die feministiese Martie Retief Meiring verwys na die regsgeleerde CJ Langenhoven se mening “dat die vrou as onbevoeg vir ‘n regterspos beskou moet word omdat ‘sy vrou is en hoe beter vrou hoe meer regeer die gevoel en nie die verstand nie. In die meerderheid van gevalle is haar instink reg. Maar die beoefening van daardie instink beteken dat sy op onvoldoende gegewens tot ‘n gevolgtrekking kom. En daardie oordeel is vir ‘n regbank noodlottig'” (1139). MER[othmann] was in die voor-feministiese era ‘n joernalis by Die Burger. Sy het geskryf: “Ons Afrikaanse vrouens in die algemeen is nie partydig vir die vrouestemreg nie, ons is ook nog maar twyfelagtig oor die wenslikheid van vroulike dokters … ‘n vroulike predikant sou vir ons ‘n onding wees en ‘n vroulike regter ondenkbaar” (1143). Retief noem dit “klassieke fluweelhandskoen-joernalistiek” (1143). Aanvanklik is net vrouesake aan vroue joernaliste toevertrou. “Ons [het] spottend na ons afdeling as die ‘vrouedele’ van die koerant verwys” (1173).

Ton Vosloo

Ton Vosloo skryf oor hoe hy as voorsitter van Naspers die WVK-versoek om ‘n verskyning, getuienis en seker ook ‘n verskoning gehanteer het. Hy beweer apartheid het “ontaard in ‘n onmenslike wreedheidsbeleid” (1366). “‘n Mens moet die fout erken en om verskoning vra aan ons mede-Suid-Afrikaners” (1371). Maar hy wou dit nie by die WVK doen en sy geëerde voorgangers en mede-werknemers veroordeel en verloën nie. Die WVK “het politieke offers gesoek in die naam van versoening, of straftoemeting” (1366), terwyl Naspers “dit onomwonde stel dat hy hom nie skuldig ag aan enige skending van menseregte of ander gelykluidende misbruike nie” (1334) “en het nie ‘n belydenis te doen of ‘n apologie te lewer nie” (1455). Vosloo het hierdie verweer geskryf omdat “sowat 150” (1348, 1634) Naspers joernaliste en oud-joernaliste as indiwidue ‘n verklaring aan die WVK gestuur en verskoning aangebied het. Hieroor skryf Tim du Plessis in besonderhede.

Tim du Plessis

Die begeerte om verskoning by die WVK te vra, is blykbaar deur veral Tim du Plessis en Arrie Rossouw, toe adjunkredakteurs by Beeld, as ‘n soort rebellie (1640) teen die besluit van Naspers aangestig (1575). Daarin is hulle sterk gesteun deur iemand soos Christi van der Westhuizen: “As joernalis het ek ‘n spesifieke belang by die geskiedenis van die media in die land: ek wil verstaan hoe my bedryf meegedoen het aan, maar ook weerstand gebied het teen, die ongeregtighede wat gedurende die eras van kolonialisme en apartheid gepleeg is” (1445). Tobie Wiese, toe adjunkredakteur van Insig, het die eerste weergawe van die gesamentlike verklaring geskryf.

Du Plessis haal die finale verklaring volledig aan (1539). Daar word bv verklaar: “Dit is my oortuiging dat (1542): Die koerante van die Nasionale Pers ‘n integrerende deel was van die magstruktuur wat die stelsel van apartheid in stand gehou en toegepas het, onder meer weens die steun wat die meningsvormende koerante in verkiesings en referendums aan die Nasionale Party verleen het” (1547). Dit het vir die beswaardes om bv die erkenning van onreg, nasiebou en “‘n volwaardige demokrasie met geregtigheid” gegaan (1544). Hulle het mede-verantwoordelik vir “vergrype” gevoel (1553) en daarom “opregte verskoning” aangebied (1557). Die sowat 127 ondertekende verklarings (1570, 1601) is aan Dumisa Ntsebeza en John Allen van die WVK oorhandig (1595). [Ntsebeza is verdink van aandadigheid aan die St James-kerkslagting in Kenilworth by Kaapstad in 1993 waarin 11 mense gedood is. Allen was Tutu se biograaf en is met ‘n WVK-pos beloon.]

Wat hierdie ootmoediges gedoen het, het uiteraard uistekend in die kraal van Desmond Tutu gepas. “Binne ure” na die ontvangs van die joernaliste se belydernisse het Tutu ‘n verklaring uitgereik: “Their submission is an extraordinary powerful statement … I want to commend the journalists warmly for following their consciences in the face op very considerable opposition. Theirs is a very significant contribution to reconciliation and the process of healing our land” (1605). Vosloo het eerbaar gereageer: “Die optrede word natuurlik verwelkom deur dr Desmond Tutu en die ongebalanseerde WVK, want die individuele versoekskrifte is feitlik deur die bank eendersluidend en heeltemal eensydig in sy verswyging van byvoorbeeld ANC-wandade. Dit was ook allesbehalwe individueel gedryf, maar georkestreer en daar is inligting van onbehoorlike druk op kollegas … Hulle het nou hulle doel bereik en die bewys daarvan is die gretige omarming van hul standpunt deur die WVK” (1615). Kort daarna het Vosloo verwys na die pyn wat hy ervaar het “van ondeurdagte dislojaliteit teenoor ‘n groot instelling” (1624). Die oorverligte Arrie Rossouw het gedink hulle optrede was “‘n goeie PR- [public relations] oefening” met die oog op Naspers se herposisionering in die nuwe Suid-Afrika (1640). Tim du Plessis betrag sy gedrag steeds “met trots” (1645).

Die filosoof Friedrich Nietzsche het oor die omkering van waardes besin. In die nuwe Suid-Afrika word dit deesdae as ‘n prestige-saak beskou as jy die blanke bewind en apartheid verguis en selfs as jy die terrorisme van die ANC goedkeur. Op ‘n soortgelyke manier gee dit deesdae in Naspers-geledere blykbaar ekstra glans aan iemand as hy/sy daarop aanspraak kan maak dat hy/sy by die WVK om verskoning gevra het. Du Plessis lys die name van al die ondertekenaars wat aan hom bekend is (5320). Maar hy wil niemand die oneer aandoen om sy/haar naam weg te laat nie. Vandaar die volgende versoek: “Die outeur wil graag die lys so volledig moontlik maak: Ondertekenaars wie se name nie hier verskyn nie, kan vir Tim du Plessis kontak” (5350).

Conrad Sidego

By die Naspers-eeufees op 25 Julie het Esmaré Weideman, die uitvoerende hoof van Media24, die volgende halwe waarheid aan die aanwesiges opgedis: “Conrad Sidego vertel hoe hy Parade toe moes loop om te gaan piepie omdat hy nie die badkamer kon gebruik nie. In daardie storie is dekades se leed en vernedering opgeteken. En daarvoor vra ons vanaand amptelik om verskoning” (Netwerk24, 26 Julie). Dit lyk asof haar jare lange redakteurskap van Huisgenoot Weideman hier gehelp het om sensasie te wek. Kom ons kyk na die feite soos deur Sidego self geboekstaaf.

Sidego was aanvanklik ‘n onderwyser wat as die eerste bruin joernalis by Die Burger aangestel is. Hy het “soos ‘n koejawel in ‘n piesangboom” gevoel (1690). Aparte toiletgeriewe was vir die bruin bodes en vir die wit joernaliste beskikbaar. Sidego ag hom toe soveel hoër as die bodes dat hy nie hulle toiletgeriewe wou gebruik nie: “Die toilet, wat ek veronderstel was om met die bodes te deel, het ek vermy” (1704). Ingevolge apartheid kon hy eintlik ook nie die blankes se toiletgeriewe (Weideman se “badkamer”) gebruik nie. Sidego se standpunt is dat hy reg het deur nie geriewe met sy mede-bruines te deel nie. Ook dat hy reg het deur dieselfde geriewe as blankes te wil gebruik; dus dat blankes verkeerd, harteloos, ens, is deur hom uit te sluit. Hy het “instede die lang pad aangedurf na die Parade se openbare geriewe” (1704) om, in Weideman se Huisgenoot-terminologie, “te gaan piepie”.

Hierna het twee dinge gebeur waaroor Weideman doelbewus swyg omdat dit afbreuk aan haar “goeie” Huisgenoot-storie sou doen. Eerstens het Sidego spoedig eie reg gebruik deur na die blankes se toilet te gaan: Ek het “dit wel reggekry om myself in die ‘wit’ toilette in te kry” (1704). Tweedens, na twee jaar het hy by Rapport gaan werk. “Hierdie keer was ek beter voorberei en gemakliker om van die begin af kanse te vat. In die gang af, om die draai, in Rapport se kantore by Waalstraat het die bordjie op die toiletdeur ook duidelik gesê: ‘Blanke mans’. Van die eerste dag af het ek dit geïgnoreer” (1724). Sidego het dus, soos die “Afrikaanses” in die Kaap sê, “vere gekry”. Hy het selfs sover gegaan om vadalisme te pleeg: “Een probleempie het ek opgelos deur ‘n skroewedraaier werk toe te bring. Op ‘n laatwerk-aand was ek persoonlik daarvoor verantwoordelik om ‘Blanke mans’ vir goed te laat verdwyn” (1733).

In ‘n onlangse onderhoud met Murray la Vita het Sidego vertel dat hy te ordentlik deur sy ma grootgemaak is en dat hy eintlik nooit hardegat oor apartheid was nie. In die boek vertel hy ‘n ander storie, bv dat hy op Britstown so kwaad was omdat hy as joernalis ‘n ander winkelingang as die blankes moet gebruik dat hy daardie dag graag ‘n vryheidsvegter, oftewel terroris, sou geword het (1812). Pleks daarvan het die meetsnoere vir hom in lieflike plekke geval. Soos hy dit stel: “Die kanarie … het oorleef – veel meer as oortleef. Gefloreer” (1852). Hy het ambassadeur in Denemarke geword en is tans die burgemeester van Stellenbosch, al woon hy in Rondebosch.

Sidego verwys na die South African Council on Sports (SACOS) se slagspreuk: “Geen normale sport in ‘n abnormale samelewing nie” (1786). “Oor een ding het hulle [“ons sportgemeenskap”] saamgestem: Almal was teen diskriminasie” (1790). Het ons nou ‘n normale samelewing en normale sport, of sit ons met ‘n inploffende staat en samelewing en oorwegend nie-presterende sportspanne omdat dit met diskriminerende rasteikens en -kwotas deurtrek is? Sidego verwys darem later na ‘n “nog steeds onperfekte samelewing” (1848).

Tony Heard

Tony Heard is ‘n oud-redakteur (1971-1987) van die Cape Times. Hy verwys na Schalk Pienaar wat Suid-Afrika se militêre inval in Angola “‘n ligte mistykie” genoem het (1968). PW “Botha’s finger-waving” word “flying boerewors” genoem (2002). Ek wonder steeds waarom Botha so heftig en dikwels gekritiseer word omdat hy met sy vinger gewys het, terwyl Nelson Mandela, wat as ‘n vredemaker en versoener voorgehou word en natuurlik nie as ‘n moeilikheidmaker en terroris nie, telkens kritiekloos sy gebalde vuis in die lug mag rondgeswaai het.

Amanda Botha

Amanda Botha haal Piet Cillié soos volg aan: “Om liberaal te wees, kom minstens vir die Afrikaners op ‘nasionale selfmoord’ neer” (2370). In 1975, toe die Sestigers in die mode was en skrywers soos André P Brink dit noodsaaklik geag het dat hulle by die politiek “betrokke” (2387) moet wees, het Die Burger in ‘n hoofartikel geskryf dat hulle “net ‘n verbygaande berugtheid” soek (2392). Cillié het gepraat van “julle klein skrywertjies … met julle voëltjiebreine” (2404). Nadat Afrikaanse skrywers uitgeweke ANC-lede by die Victoria-Waterval ontmoet het, is Antjie Krog “geesdriftig as tjankende naïeweling in die Naspers koerante beskryf” (2443). “In 1977, toe Human & Rousseau deel word van Naspers, het Krog haar verhouding met haar uitgewer verbreek. Sy het haar besluit so verwoord: ‘Mens was voortdurend bewus van ‘n volledig korrupte Afrikanerleierskap wat klakkeloos op die hande gedra is deur Naspers. Toe H&R saamsmelt kon mens waaragtig nie met selfrespek voortgaan nie” (2447).

By Krog vind ‘n mens selde ‘n ewewigtige, rasionele standpunt. Het sy al beswaar teen ‘n “volledig korrupte” ANC-leierskap geopper? Dan is dit waaragtig sy wat, sonder om tussen medium (enkelvoud) en media (meervoud) te onderskei, sê: “Mens sou dink dat ‘n media [Die Burger] met so ‘n skandelike verlede met alles tot sy beskikking ‘n nuwe samelewing sal wil skep deur met sorg ‘n in-diepte, brawe en veelkantige artikulasie te stimuleer” (2469).

Gabriël J Botma

Gabriël J Botma verwys na Die Burger se kommentaar op die byeenkoms van Afrikaanse skrywers en ‘n ANC-afvaardiging by die Victoria-Waterval. In 1989 is dit onder die opskrif “Linkse fascisme” gepubliseer. Die kulturele boikot teen apartheid is met die onderdrukking van kunstenaars, akademici en wetenskaplikes in Nazi-Duitsland en “alle kommunistiese lande” vergelyk (2672). Die hoofartikel het die groep daarvan beskuldig dat hulle kuns “in diens van politiek stel” en die “totalitêre” idees van die ANC ondersteun (2672).

Botma verwys na ‘n beeld van DF Malan wat “jou voor die hysers ingewag” het in dié koerant se kantore in die apartheidsjare (2707). “Iewers ná die einde van apartheid en die begin van demokrasie het die borsbeeld van DF Malan skielik uit die openbare oog verdwyn” (2712). As selfs Die Burger dit deesdae nie meer nodig en sinvol vind om ‘n beeld van sy eerste redakteur uit te stal nie, wat is die kans dat die Universiteit Stellenbosch, met ‘n rektor soos Wim de Villiers, veel langer die DF Malan-beeld in sy Coetzenburg-sentrum (voorheen die DF Malan-gedenksentrum) sal duld?

Lees verder: Leon Lemmer: Naspers: Perspektief op 100 jaar (Deel 2)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.