Leon Lemmer: Naspers: Perspektief op 100 jaar (Deel 2)

My bespreking van die boek, ‘n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en Oorgange (2015), met Lizette Rabe as die samesteller, word hier voortgesit.

Khulu Sibiya

Khulu Sibiya, ‘n oudredakteur van City Press, beweer dat sedert die Naspers-oorname in 1984 “the political militancy of City Press increased” (2878). Hy tref die volgende, myns insiens interessante, onderskeid. City Press het die frase “bridge building” gebruik, terwyl die Sowetan “nation building” verkies het (2883). Deesdae word ons alewig gekonfronteer met die opdrag dat ons aan nasiebou moet meewerk terwyl daar weens diepgaande kultuur- (oftewel leefstyl-) verskille myns insiens geen realistiese moontlikheid is dat blankes en veral Afrikaners ooit ‘n integrerende deel van ‘n oorwegend swart nasie kan word nie. Brugbou is meer sinvol as nasiebou.

‘n Brug word oor iets soos ‘n rivier, treinspoor of pad gebou om ‘n verbinding tussen die twee kante te bewerkstellig. Omdat wit en swart tans saam in dieselfde land woon, is dit wenslik dat daar, wanneer dit in albei se belang is, verbindingsweë of oorbruggingsmeganisme tussen die twee groepe bestaan. Maar die brûe moet nie onnodig word omdat die blankes en veral die Afrikaners hulle kultuur dermate laat verwater het dat dit nie meer duidelik van die swartes se kultuur onderskei kan word nie. Dan het nasiebou geslaag maar die blankedom, insluitende die Afrikanerdom, is in dié proses vernietig.

Lees ook: Leon Lemmer: Naspers: Perspektief op 100 jaar (Deel 1)

Ruda Landman

Ruda Landman verwys na die Nasionale Party en die destydse SAUK as behorende tot “dieselfde dampkring” (2946). In 1996 het die SAUK egter die SABC geword (2946) en ‘n heeltemal ander (naamlik sterk ANC-) karakter aangeneem. M-Net is in 1985 as ‘n Naspers-televisiebetaalkanaal gestig en Carte Blanche is van 1988 af (3124) as ‘n aktualiteitsprogram aangebied, met Landman as een van die aanbieders. Volgens Landman was hierdie program van die begin af anders as “sy eweknieë op die SAUK: ons wou vir almal uitsaai en almal se stories vertel … alles is moontlik” (2988). ‘n Kanadees het ‘n medewerker geword. Sy het “niks van die ingeboude vooroordele en stereotipes van ons wat hier grootgeword het” gehad nie (2997). Daar was “‘n vryheid en kreatiwiteit wat totaal nuut was” (3001).

Anders as (sommige) koerante het Carte Blanche glo nie “‘n kruistog aangepak” nie (3001). Die program het sinoniem met ondersoekende joernalistiek geword, maar waarheen het hulle groot vryheid hulle gelei? “Ons het die silo’s wat apartheid en die regering se houvas op die media so effektief gebou het, begin afbreek. Veral in die begin was ons gehoor oorweldigend wit. In ons stories het hulle swart mense ontmoet uit elke laag van die samelewing, ook wit mense wat nie deel was van die establishment nie” (3015). Word daar dus inderdaad vir almal uitgesaai en almal se stories vertel (net so geredelik ook dié van die regses) en geen kruistog gevoer nie? Landman antwoord: “Ons was nooit doelbewus sosiaal ativisties nie. Ons het gaan stories soek, en enigiets wat ons eie en die kykers se vooropgestelde idees in die wind geslaan het, was ‘n goeie storie” (3036). “‘n Mens kan natuurlik nie sê ons was neutraal in die openbare debat nie. Sonder om ooit eintlik daaroor te praat [en sonder om daaroor te dink?], het ons die Nuwe Suid-Afrika-projek heelhartig ondersteun, en dit was die ondertoon van alles wat ons gedoen het” (3040). Kortom kan ‘n mens seker sê dat hulle gewillige bondgenote van die ANC was. Landman noem dit egter “onafhanklike joernalistiek” (3045).

“Dit was ons trots dat ons nie goed sou skeeftrek nie, dat ons die hele waarheid sou vertel” (3050). “Miskien [kon ons] soms daarin slaag om albei kante na die ander se standpunt te laat luister” (3054). Landman, wat van Keimoes af kom, is dikwels verkwalik omdat sy so graag onnodiglik Engels op ‘n tweetalige program gepraat het. In haar teks skryf sy bv van “HIV-positief” (3068) terwyl dit MIV-positief moet wees. Met die koms van kykNet in 1999 het Carte Blanche eentalig Engels geword (3129). Wat het ‘n eierdans soos die bostaande en die vra van verskoning by die WVK vir Landman in die sak gebring, afgesien van bekendheid en geld? In 2011, kort nadat die Universiteit Vrystaat ‘n eredoktorsgraad aan Oprah Winfrey toegeken het, het die Universiteit Stellenbosch ons eie Ruda Landman op dieselfde manier vereer. Sy het ook ‘n direkteur van Media24 geword.

Ebbe Dommisse

Ebbe Dommisse, oudredakteur (1990-2000) van Die Burger, begin sy opstel deur te vra of koerante gaan verdwyn. “Kan hulle soos die fiets herlewe en ‘n nuwe bloeitydperk belewe?” (3309). “Belangriker as die vraag of die samelewing nog koerante nodig het, is of gehalte-joernalistiek nog nodig vir die samelewing is” (3145). “Dis nie soseer koerante wat gered moet word nie, dis die samelewing – en daarvoor bly gehalte-joernalistiek onontbeerlik” (3148). Sy uiteindelike gevolgtrekking is: “Die samelewing het nie koerante nodig nie. Wat ons wel nodig het, is joernalistiek” (3315) wat deesdae ook op ander platforms, dus op ander massamedia (radio, televisie, internet) as in gedrukte koerante en tydskrifte, beoefen word.

Televisie en die internet het gedrukte koerante op die agtervoet gedwing. Dit het tot besparingsmaatreëls aanleiding gegee, soos die sentralisering van redaksies (3272) – “een kombuis, vele restaurante” (3290) – personeelbesnoeiings en groter gebruikmaking van vryskutjoernaliste (3276). Die koerante van dieselfde maatskappy kan op ‘n kafeteria-grondslag na goeddunke onder die berigte wat uit die “kombuis” kom, uitsoek watter hulle wil publiseer (3290). Sentralisering is egter strydig met die bevinding “dat tuiskoerante koning kraai wat plaaslike nuus betref” (3357). “Rasionalisasie en herstrukturering het daartoe gelei dat in krimpende redaksies veral van senior joernaliste ontslae geraak is” (3234). Die resultaat is “juniorisasie” en “die verdomming van die nuuskantoor” (3243). “Vertolking van nuusgebeure en die gewig en relevansie wat daaraan geheg word [en] die seleksie van nuus [vereis] dat eers ‘n paar sakke sout opgeëet word” (3239). Gehalte-joernalistiek word dus al hoe moeiliker haalbaar. As Naspers se globale posisionering in ag geneem word, is die vraag of “ten beste iets beter as goedaardige verwaarlosing” by sy gedrukte media verwag kan word. “Het die Afrikaanse publikasies, die fondament waarop Naspers opgebou is, die hoeksteen geword wat verwerp is?” (3333). “Die waghond-funksie van die media [moet] nooit geringgeskat word nie” (3343). Dink aan bv Nkandla.

“Een van die sorgwekkendste simptome van die toenemend bloedarmoedige redaksies was die vermindering en selfs verdwyning van hoofartikels. In gehalte-joernalistiek is en was ‘n koerant se hoofartikels, meesal twee of selfs meer per uitgawe, nog altyd ‘n sluitsteen, die basis van die publikasie se wêreldbeskouing … daarmee word leiding gegee oor sake van die dag” (3295). “Tog is hoofartikels afgeskaal en meesal tot een per uitgawe beperk. Die agteruitgang het ‘n laagtepunt bereik met die besluit van Rapport in 2014 om hoofartikels heeltemal te staak … ‘n meningsvormende koerant sonder ‘n mening. Die Sondagblad het wel ná ‘n rukkie besin, en by tye ‘n soort swewende standpunt (‘Rapport Sê’) geplaas wat sporadies in die koerant rondgeskuif is” (3299).

“Die verslegtende situasie was ook merkbaar in die meningskolomme van koerante. Briewerubrieke waarin vroeër daelange polemieke oor brandende vraagstukke van die dag gevoer is, het na die gemoedelik-lokale begin oorhel. Die oop gesprek het die gevaar van vervlakking begin loop” (3304).

In 1988 het Dommisse met die ANC in Londen gesprek gevoer (554, 2688). Deesdae skryf hy met groot helderheid oor die nuwe Suid-Afrika en verwys daarna as ‘n “eenparty-dominante staat … wat hegemonie [oorheersing] op alle terreine nastreef. En op tipies post-koloniale Afrika-styl het die voormalige koloniale taal, Engels, reeds oorheesend in die sakewêreld, ook die dominante taal van die staat en regering geword – tot nadeel van kleiner tale soos Afrikaans” (3211). “Nog ‘n faktor wat teen Afrikaans en Afrikaanse joernaliste begin werk het, was ras-gegronde wetgewing, veral swart ekonomiese bemagtiging en sogenaamde regstellende aksie. Die drakoniese toepassing van die ras-gebaseerde Wet op Gelyke Indiensneming berus op die apartheidsbeleid se rasseklassifikasie en het eintlik ‘n replika van die apartheidsjare se werkafbakening (‘job reservation’) geword “(3216).

“Voorsiening moes gemaak word vir sogenaamde demografiese verteenwoordiging: swart (‘African’) 79,3%, wit 9,3%, bruin (‘Kleurling’) 8,8% en Indiër 2,5%. ‘Demografiese verteenwoordiging’ is ‘n beleid met fascistiese wortels – dit strek terug tot Nazi-Duitsland, toe Hitler se regering dit op beroepsvlak veral teen Jode gemik het. In Suid-Afrika het die ‘nie-rassistiese’ ANC-regering nogtans hierdie beleid – dit is blykbaar permanent; daar is geen afsnypunt nie – al hoe strenger begin toepas as ‘n vorm van maatskaplike manipulasie wat tot een van die omvattendste in sy soort ter wêreld uitgebult het. Swart ekonomiese bemagtiging behels weer telkaarte waarvolgens koppe op grond van ras getel word om sake met die staat te doen. ‘n Sorgwekkende gevolg vir maatskappye wat in die lig van die ‘regulatoriese omgewing’ teen wil en dank ‘regstellende’ aanstellings moes doen, is dat mense in poste beland het waarvoor die nodige opleiding, ervaring en kundigheid ontbreek” (3220). Uiteraard belemmer dit onder meer gehalte-joernalistiek. Teen die einde van sy opstel verwys Dommisse na ‘n waarheid wat Franz Kafka gemunt het: “dat revolusies in die slym van ‘n nuwe burokrasie eindig” (3348).

In 1990 het Dommisse Die Burger se formele bande met die Nasionale Party (NP) verbreek (505, 2103, 3931). Hy wou nie hê dat die koerant voortgaan om as spreekbuis vir FW de Klerk en later Marthinus (Kortbroek) van Schalkwyk se NP op te tree nie. Daarmee is ‘n verbintenis verbreek wat kom uit die tyd van DF Malan as redakteur, toe die NP ingewillig het dat Die Burger se redakteur koukusbyeenkomste mag bywoon. Dommisse het die WVK as ‘n “heksejag teen Afrikaners” beskou (2797) en Afrikaners se kollektiewe skuld ontken (2803). Volgens hom is kollektiewe skuld “een van die gevaarlikste dogmas in die menslike geskiedenis” (2808). Dit hou ‘n wesenlike gevaar in vir ‘n minderheidsgroep soos die Afrikaners. Dit is “hoe die Jode [tydens die Tweede Wêreldoorlog] vermoor is” (2808).

Willie Esterhuyse

In sy opstel herleef Willie Esterhuyse eintlik sy rol as geheime agent vir die NP-regering. “Media-betrokkenheid laat gewoonlik vredesgesprekke misluk” (3441). Soos Antjie Krog onderskei hy nie tussen medium (enkelvoud) en media (meervoud) nie: “‘n professionele en goeie media óók ‘n goeie storie wil vertel” (3455). Dit wil voorkom asof Esterhuyse hier soos die ANC kla dat joernaliste nie genoeg mooi broodjies oor die nuwe Suid-Afrika bak nie. Hy beskou sy destydse agentdade as ‘n bydrae tot vrede terwyl ons sedertdien in werklikheid in onvrede lewe. Ons moet glo nie vergewe en vergeet nie, maar vergewe en onthou (3417): “‘n Onthou wat nie op vergelding gerig is nie, maar wat deklameer [benadruk] nóóit weer nie” (3422). Tog sit ons myns insiens steeds met erge rassediskriminasie, die doelbewuste benadeling van die (potensieel) voortreflikste inwoners, golf op golf misdaad, sistemiese droogmakery, doodgewone onreg, ens. Die gewaande politieke lente het nie tot ‘n somer gelei nie (3552).

“Daar bestaan tans ‘n sterk negatiewe elite-konsensus onder Afrikaners oor Suid-Afrika se oorgangsproses” (3560). Hy verwys bv na “die Afrikaner-‘ikoon’ Steve Hofmeyr” en breek, soos glad te dikwels, ‘n lansie vir sy vriend Thabo Mbeki (3564). Suid-Afrika is inderdaad ‘n “geknelde land” (3469). Daar is ernstige “fragmentasie in terme van ras- en klasverskille. Maatskaplike kohesie is slegs ‘n droom” (3569). Het Esterhuyse werklik rede gehad om iets anders te verwag? Daar is darem hierdie erkenning: “Verteenwoordigers van homo sapiens [kan] baie maklik ánder mense se regte en waardigheid … vertrap” (3422), maar hy dink hier seker eerder aan die NP as die ANC.

Vir die disinformasie wat oor die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit “gestook” is, verkwalik hy heeltemal tereg vir Beeld. Die repudiëring is glo “met té sagte hande” gedoen (3582). In die geval van sy alma mater, Universiteit Stellenbosch, wat aan hom ‘n eredoktorsgraad gegee het, verkwalik hy Die Burger omdat dié oor ‘n moontlike mosie van wantroue in Russel Botman berig het. “Ook in dié geval is die spelbreker-aksie met sagte hande deur die US-raad gehanteer. Daar was nie ‘n amptelike ondersoek na wie die disinformasie veroorsaak het nie … Persoonlik is ek van mening dat dié tipe gedrag ook verband hou met ‘n vervlakking op hoë vlak van wat professionaliteit in die media beteken” (3582).

Die Afrikaanse media kan hulle in die “siekeboeg” bevind (3591). Die Burger kry by Esterhuyse die skuld vir die US-berig en nie die aktivistiese gedrag van die US-rektor nie. Vir Esterhuyse is dit blykbaar heiligskennis as enige US-raadslid Russel Botman se verderflike verpolitisering van die akademie sou probeer teenwerk. Daarna kry sy lesers die klou by die oortjie. Dít is waarop Esterhuyse as ‘n ANC-simpatiseerder die hele tyd afstuur: “Die Afrikaanse media behoort in die lig van dié analise moontlik ernstige introspeksie te doen oor waar hy homself sien in terme van ‘n ‘informed intermediary’ om ‘n konstruktiewe rol in ‘n inklusiewe Suid-Afrikaanse samelewing te speel – eerder as ‘n destruktiewe rol in ‘n eksklusiewe Afrikaanse omgewing” (2591).

Zelda Jongbloed

Die hoogtepunt in Zelda Jongbloed se joernalistieke loopbaan was sekerlik toe haar etniese genoot, Henry Jeffreys, haar bo twee adjunkredakteurs, blanke mans met doktorsgrade, tot senior adjunkredakteur van Die Burger bevorder het (3617). Haar insig is dat Jakes Gerwel “‘n deurslaggewende rol gespeel het” om die Universiteit van Wes-Kaapland “tot ‘n universiteit van [eerder politieke as akademiese?] uitnemendheid [te] ontwikkel. UWK het bewys die manier waarop iets aangewend en uitgebou word, kon later belangriker word as die rede vir sy ontstaan of bestaan” (3644). Laat ek verduidelik waarop Jongbloed hier sinspeel.

Die UWK is in 1960 deur die “apartheidsregime” in sy goedertierendheid as ‘n universiteit vir bruin studente gestig. Dit het baie beter geleenthede in hoër onderwys aan bruines gebied as wat voorheen bestaan het. Die UWK is teen groot koste uitgebou tot ‘n volwaardige universiteit; die akademies beste van die nie-blanke universiteite, met die moontlike uitsondering van die Universiteit van Durban-Westville (UDW). Maar die moontlike akademiese meerderwaardigheid van UDW kan aan slegs een faktor toegeskryf word: hy het Indiërstudente gehad wat oor die algemeen akademies beter as bruines presteer. Gerwel het die wense van die “apartheidsregime” geminag en verontagsaam, die toelatingsvereistes verlaag en die etniese eksklusiwiteit van die universiteit opgehef, gevolglik is die kampus spoedig met swart studente oorstroom. Daar is geen poging tot ideologiese neutraliteit aangewend nie. Waar die UWK tradisioneel vry van indoktrinasie was, het die kommunistiese Gerwel openlik verkondig dat die universiteit die tuiste van politieke linksgesindes is. Dit is die soort “uitnemendheid” wat Jongbloed aanprys.

Sy lys die name van “gerespekteerde akademiese leiers” soos Gerwel en Franklin Sonn en kerkleiers soos Allan Boesak en Russel Botman (3659). Die name van “bekende en gerespekteerde [bruin] joernaliste soos [Conrad] Sidego … ekself [!], [Johann] Maarman … [Henry] Jeffreys … en Heindrich Wyngaard” word gelys (3771). Maarman is “een van die mees bedrewe woordsmede” en tans die adjunkredakteur van Die Burger (3824). Jeffreys is glo ook ‘n “toekomskundige” (3810). Hulle is almal “sogenaamde bruinmense” (3693), want polities korrek wil hulle “swart” heet. Jongbloed skryf bv van “‘bruin’ joernaliste” (3787). Sy vertel hoe sy en ander joernaliste in die Ekstra-bylaes van Naspers-koerante “die struggle” aangestook het.

Gemeenskapsprojekte is ook geloods, soos die een met die Kaapse titel “Crime issie Cool” (3724). Sy beweer egter hulle beriggewing was “eties verantwoordbaar en getemper deur ‘n diep liefde vir Afrikaans” (3748). Maar dan vertel sy dat sy haar “moedertaal-Afrikaans om politieke redes aanvanklik verwerp het” (3796). Anastasia de Vries het ‘n “fassinasie” met “die taal wat onse mense oppie Kaapse Vlakte praat” (3771). Dit het vir De Vries “altyd opgeval hoe maklik dit was vir mense van weerskante in die Afrikaanse taalfamilie om in terme van stereotipes van en met mekaar te praat in ‘n omgewing waar almal veronderstel was om bevry te wees van die apartheidsborstrok en hul hovaardigheid oor standaard-Afrikaans” [Standaardafrikaans] (3781). Met ander woorde, in hierdie oorbruggingsoefening word dit van die blankes verwag om die gehalte van hulle Afrikaans te verwater; selfs tot die vlak van ‘n mengeltaal soos Kaaps. Sowel wittes as bruines moet “Afrikaanses” (3791) word. Daarenteen verkies ek Afrikanerskap en Standaardafrikaans.

Jongbloed verstaan die geskiedenis van Afrikaans soos volg: Daar is by bruines ‘n besef dat “die geskiedenis van Afrikaans nie wit is nie, maar in die kombuise van destydse koloniale heersers deur slawe uit die Ooste ontwikkel is om kommunikasie met Nederlandse werkgewers te vergemaklik … Hierdie ‘kombuistaal’ is later deur die Afrikaner gekaap om sy politieke doelwit van Afrikanernasionalisme te bereik” (3800). Ek het hierdie ongenuanseerde weergawe van hoe Afrikaans onstaan en ontwikkel het reeds by talle geleenthede op Praag gekritiseer.

Die “bruin” bylaes van Afrikaanse koerante was finansieel nooit werklik suksesvol nie (2758), met ander woorde blanke koerantkopers het hulle gesubsidieer. In die nuwe Suid-Afrika het hierdie bylaes almal doodgeloop. “Die angst oor kleur en politiek wat in die ou Suid-Afrika amper deel van die Ekstras se ink was, is in die nuwe Suid-Afrika nie meer nodig nie” (3844). Sedert 2014 is Jongbloed ‘n DA-parlementslid (3814, 3857). “Toe Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is, was dit ek, as Ekstra se redakteur, wat die storie vir die koerant gedek het en ‘n onderhoud met hom kon kry. En wat was die wêreldikoon se eerste woorde by hierdie ontmoeting? ‘Dankie vir die rol wat Rapport Ekstra gespeel het in die struggle’ … ja, dit was alles die moeite werd” (3839).

Michael le Cordeur

Michael le Cordeur haal soos volg uit Lizette Rabe se biografie oor Rykie van Reenen aan: “Geskiedskrywing as ‘meestal die brose uitdrukking van wit, manlike historici se beperkte perspektiewe’ was ook van toepassing in Suid-Afrika” (3897). Waarom het vroue en nie-wittes dan nie met wyer perspektiewe en sterker uitdrukking na vore gekom nie? Le Cordeur vra vir ‘n herskrywing van ons geskiedenis. Dan spring hy na Afrikaans: “Indien Afrikaans sy plek in die toekoms wil behou, [is] ‘n gebalanseerde weergawe van Suid-Afrika se geskiedenis in die skoolkurrikulum nodig” (3903). Daar is in werklikheid sterk beswaar teen die ongebalanseerde geskiedenis wat in die nuwe Suid-Afrika aan skoliere opgedis word. Soos in swart geledere in die VSA word die geskiedenis plaaslik herskryf soos wat swartes dit idealisties wil hê. Die resultaat is nie ‘n weerspieëling van hoe die werklikheid voorheen was nie. Dit is die voorgesette uitdrukking van ‘n revolusionêre gees, wat ook uitdrukking vind in Le Cordeur se begeerte dat Standaardafrikaans hergestandaardiseer moet word.

Arrie Rossouw, ‘n oudredakteur van Die Burger, word ‘n “progressiewe” genoem (3931). ‘n Afrikaanse fees, soos die KKNK, het hy ‘n “boerebasaar” of ‘n “Afrikanerparty” genoem (2769). Rossouw se anti-Afrikanergesindheid wek goedkeuring by Le Cordeur. Hy kom knaend met die volgende soort uitlating: “Deur die rol van bruin en swart mense in die ontstaan van Afrikaans te ontken, is Afrikaans gestigmatiseer as witmanstaal” (3950). Wêreldwyd is iets waarmee wittes geassosieer word myns insiens eerder aanbevelingswaardig as afkeuringswaardig. Om Afrikaans met blankes te assosieer, is om dit op ‘n agbare vlak te plaas. Die mate waarin nie-wittes ‘n rol in die ontstaan van Afrikaans gespeel het, word nie ontken nie. Dit word byvoorbeeld in die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl uitgebeeld sodat almal wat oë het dit kan sien. Wat terselfdertyd erken moet word, is dat dit feitlik uitsluitlik blankes was wat Afrikaans ontwikkel en gestandaardiseer het en leesstof en naslaanwerke in Afrikaans geskep het.

Pleks van hierdie feite te erken, kom Le Cordeur met A Deurmert se mening: “standaardisering is ‘n strategiese proses om die apartheidsideologie en Afrikanernasionalisme te bevorder” (4006). Le Cordeur beywer hom vir skoolhandboeke in Kaaps. Elke keer lei sy pleidooie tot niks omdat Kaaps nie gestandaardiseer is nie. Hy kan gerus die wittes wat Afrikaans gestandaardiseer het nadoen deur Kaaps, desnoods ooreenkomstig sy ideologiese voorkeure, te standaardiseer. Afrikaans is glo “‘gesuiwer’ van Khoi-, Maleisiese en slawe-invloede. Standaardafrikaans is gesien as ‘beskaafde’ Afrikaans wat gehalteonderrig fassiliteer, teenoor ander variëteite soos Kaaps wat as ‘onbeskaaf’ beskou is” (4006). Is daar nie dalk (heelwat) waarheid in hierdie siening nie? So ‘n situasie kan nie goedsmoeds aan apartheid toegedig word nie, want dwarsoor die wêreld neem die gestandaardiseerde taal (feitlik) noodwendig die algemeen-beskaafde vorm aan.

Le Cordeur se swartmag-manie vind uitdrukking in stellings soos die volgende: Henry Jeffreys was in 2006 die eerste “swart” redakteur van Die Burger (3930). “Jakes Gerwel was die eerste swart voorsitter van Media24 en hy is opgevolg deur die eerste swart vrou, Rachel Jafta” (3962). Russel Botman was die eerste “swart US-rektor” (4055). Soos Zelda Jongbloed is Le Cordeur gepreokkupeer met kleur en soos by Jongbloed se swartes is al die genoemde swartes in werklikheid bruin. Adam Small se Kanna hy kô hystoe, met teks wat nie as Standaardafrikaans kwalifiseer nie, word deur Le Cordeur bestempel as “die beste drama in Afrikaans” (3985). “Basil Kivedo het as voormalige MK-vegter vertel dat hy sy vryheidstryd in Afrikaans geveg het” (3968). Strek dít Afrikaans tot eer of is dit veel eerder ‘n ernstige stigmatisering van Afrikaans? As Europees-geöriënteerde mens kan ek eintlik net werklik trots op Afrikaans wees wanneer dit in ‘n beskaafde milieu gebruik word. Wanneer Rapport net oor die referate van twee wit sprekers berig en nie oor wat drie bruin sprekers (waarvan een Le Cordeur was) kwytgeraak het nie, is sy beskuldiging: “Bruin mense word dikwels deur die Afrikaanse media misbruik om politieke punte aan te teken” (3974).

Jonathan Jansen word soos volg aangehaal: “White-dominant campuses are morally unacceptable” (4050). Le Cordeur vervolg: “Die debat verdiep omdat bruin mense nie dieselfde verwagtinge koester van Afrikaans as ‘n wetenskaps- en universiteitstaal nie. Hoewel ek in ‘n vorige studie bevind het dat bruin mense wel taal as deel van hul identiteit beskou, blyk dit dat wit sprekers meestal die taal beskou as ‘n saak van identiteit en taalregte, terwyl dit vir bruin sprekers weer oor bemagtiging gaan” (4050). Daar is sekerlik ‘n gesindheidsverskil oor Afrikaans by enersyds blanke en andersyds bruin Afrikaanssprekendes. Dit is waarom sommige Afrikaners hulle vir die behoud van Afrikaans as universitêre onderrigtaal beywer en bruines grootliks onbetrokke bly en geen poging aanwend om die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland te herstel nie. ‘n Kenmerkend onverskillige en dwase reaksie is dié van Nico Koopman wat beweer “dat taal as gebruikstaal geleef moet word en dat die hoër funksies minder belangrik is” (4055). In dieselfde kategorie is Henry Jeffreys se stommiteit: “dat taalstryde slegs polariseer en dit is teenproduktief” (4055). Met ander woorde, moenie vir Afrikaans veg nie, dan sal alles wel wees.

Soos Nico Koopman kan Le Cordeur hom nie genoeg verlustig in Russel Botman se sluwe ras- en geslagsgelaaide teenoormekaarstelling van die (wit) plaaseienaar se seun en die (bruin) dogter van die plaaswerker nie. Hierdie keer noem Le Cordeur dit “aangrypend” (4063). Ek het Botman se vergelyking voorheen in besonderhede bespreek (Praag 20.07.2014). Soos Jonathan Jansen en Heindrich Wyngaard wend Le Cordeur ‘n poging aan om Botman se dood aan beswadderende kritiek toe te skryf (4075). Blankes kry dus die skuld vir sy dood. Die christelike religie word deesdae deur politiek-geprokkupeerdes vertolk asof daar ‘n spesiale sagte plekkie vir nie-wittes moet wees. Le Cordeur brei hierdie sentiment uit na die Afrikaanse koerante. Hy skryf: “Toekomstige Afrikaanse redakteurs … moet sensitief wees vir diversiteit, veral vir die menings van bruin en swart Afrikaanssprekendes” (4081).

Le Cordeur maak geen geheim daarvan nie dat hy homself as ‘n lid van die bruin intelligentsia beskou. Onder Afrikaanse organisasies beveel hy dié aan wat in hulle getransformeerde toestand die kluts die ergste kwyt is, te wete die Afrikaanse Taalraad en die ATKV (4098). Dit is waar Le Cordeur tuisvoel en sy uitlatings ernstig opgeneem word. Dit sluit eise soos die volgende in: Die Afrikaanse media sal “hulself moet herdefinieer en die mening van die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap [‘n sinoniem vir Michael le Cordeur] in ag moet neem deur hul beheptheid met ‘suiwer’ Afrikaans te laat vaar en die diversiteit van Afrikaans laat herleef. Deur ‘n bevryde Afrikaans vlerke te gee, bied die media die geleentheid om die volle verhaal van Afrikaans en sy sprekers te vertel én nasiebou te bevorder” (4103). Daardie “bevryde Afrikaans” sal nie vry van onnodige Engels wees nie en sal weens die grootskaalse omarming van Engels ondergaan. Die “vlerke” wat Le Cordeur aan Afrikaans gee, sal sekerlik veroorsaak dat Afrikaans in sy moer in vlieg.

Ferial Haffajee

Ferial Haffajee is die redaktrise van City Press en het die nuus gehaal weens haar probleme met haar personeel wat uit oorwegend swart joernaliste bestaan. Natuurlik bestempel sy haarself ook as “swart”, maar sy word genoop om tussen “multi-racial” en “non-racial” te onderskei (4140). Van kleurblindheid is daar kwalik sprake. Haffajee het volgens eie erkenning ‘n “cappuccino complexion” en word met “Pan-Africanism and black consciousness” gekonfronteer (4241). Sy is blykbaar ‘n Indiër en is aangestel as die opvolger van ‘n egte swart redakteur. Transformatories word haar aanstelling deur haar swart personeel as ‘n terugwaartse stap beskou: “I’d be silly not to recognise that some of the race conflicts we’ve experienced have to do with what I represent – the displacement of a black African person” (4241). “Where there were black people, we were often coloured” (4250).

In hierdie bydrae en dié van bv Zelda Jongbloed en Michael le Cordeur is daar ‘n deurlopende afwisseling van die gebruik van die terme “swart” en “bruin” vir bruines. Die ANC se beleid is egter onlosmaaklik op die rasse-indeling van apartheid gegrond. Waarom dan nie elke groep uitdruklik daarvolgens, dus volgens wat hulle in werklikheid is, aandui nie: dus wit, bruin, swart en Indiër/Asiaat? Oor ‘n honderd jaar sal kwalik van lesers verwag kan word om hierdie sotlike rondspringery tussen “bruin” en “swart” deur bruines te verstaan.

As ‘n “swart vrou” wat haar spore met “struggle journalism” (4161) verdien het, geniet Haffajee die ongekwalifiseerde ondersteuning van vroue soos Esmaré Weideman, die uitvoerende hoof van Media24, en Rachel Jafta, die voorsitter van Media24. Hierdie drie vroue beveel mekaar onderling sterk aan (4145). As “struggle”-joernalis onderskryf Haffajee die ANC se demografiseringsbeleid: “I have a working definition of non-racialism and non-sexism that serves me well in making teams. These should, as far as possible, represent the make-up of South Africa to live true to the constitution of the country, which holds non-racialism and non-sexism as pillars” (4255). Daardie pilare is in werklikheid ydele drome. Wat sy te kenne gee, is dat verdienste/meriete, anders as demografie, nie ‘n deurslaggewende oorweging is nie. “My core argument was that we won’t get anywhere if we continue to classify empowerment as a risk and not as an opportunity” (4255).

Esmaré Weideman

Ek het eers met die Naspers-eeufees besef in hoe ‘n mate Esmaré Weideman (voorheen Van der Merwe, 4615) eintlik ‘n anti-Afrikanerrol, onder die dekmantel van anti-apartheidsgesindheid, speel. Sy was een van diegene wat die verbanne ANC in Lusaka gaan opsoek het (4676). Tydens Naspers se eeufeesviering op 25 Julie het sy dit wys en nodig geag om in die “sleuteltoespraak” verskoning vir apartheid aan te bied, 18 jaar nadat sy dit by die WVK gedoen het (Netwerk24, 26 Julie). “Daar is baie om oor trots te wees, maar ook baie waaroor jy jou kop in skaamte laat hang.” Hier verwys sy nie na Huisgenoot of die Naspers-koerant Son nie. Trouens, in die hele bundel is daar nie ‘n enkele verwysing na Son wat daagliks in Kaaps verskyn nie. Dit is eienaardig dat iemand soos Le Cordeur nie heftig beswaar hierteen gemaak het nie. Weideman gaan soos volg voort met haar toespraak: “Vanaand vier ons ons suksesse met trots, en erken ons foute in nederigheid. Ons erken aandadigheid aan ‘n moreel onverdedigbare politieke regime en die pynlike manier waarop dit in ons nuuskantore en raadsale neerslag gevind het.”

Le Cordeur haal Weideman aan waarvolgens die Afrikaanse media ‘n verantwoordelikheid het om opvoedkundige en geletterdheidsinhoud van gehalte te versprei om op hierdie manier hul lesers te “bemagtig”. “Die dae van Afrikanerjoernaliste wat hulself gesien het as ‘boerekrygers vegtend met die pen in die hand’ is verby” (4092). Iemand soos Le Cordeur vind dit ‘n hoogs misbruikbare stelling. Dit is ironies dat Weideman, wat Huisgenoot ‘n dekade lank suksesvol rioolwaarts bestuur het, hoogheilig ‘n pleidooi vir inhoud van gehalte lewer. Primêr bedoel sy seker kommersiële gehalte; teks wat geld laat invloei.

In 2001 het Weideman die redaktrise geword van You, wat ‘n soort onegte Engelse kind van Huisgenoot is en veral gemik is op bruin lesers wat nie met ‘n Afrikaanse tydskrif gesien wil wees nie. Die jaar daarna het sy ook die redaktrise van Huisgenoot geword en mettertyd ook van Drum. Sy het in al drie gevalle die sirkulsiesyfers opgestoot met ‘n suksesresep wat gehalteverlaging van die inhoud behels: “snot-en-trane-joernalistiek, die oordosis bloed en geweld, die sogenaamde tweekop-kinders” (4307). “Ons behou die reg om oor die wêreld se naarhede te skryf, al is dit skokkend” (4386). Onmiddellik daarna kom sy uit by ‘n baba wat in Upington verkrag is (4391). “Ons as meningsvormers moet standpunt inneem” (4400). Hannelie Booyens het een van die treffers geskryf (4400). “Niemand het nog vir Huisgenoot soveel beteken soos Diana nie” – ‘n “wonderlike sirkulasiebouer” (4414). “Tjekboekjoernalistiek” (4428) speel ook ‘n groot rol.

Ten spyte van die toestand waarin die land verval het, het “trots Suid-Afrikaans” Weideman se leuse geword (4316). Mense met ‘n bietjie pit en sin vir geestelike dinge vermy myns insiens al drie hierdie tydskrifte. Huisgenoot is lankal nie meer “die arm man se universiteit” nie (4340). Dit blyk ook uit Weideman se loslit-Afrikaans. In haar opstel is daar seker meer Engelse woorde as in enige van die ander Afrikaanse bydraes. Sy kom uiteraard ook uit by “Steve Hofmeyr se teegooiery” (4344). Later word daar weer na hom verwys (4433). Die “droomredaksie” (4433) bestaan glo uit “‘n groot klomp slim mense” (4355; ook 4382) en oorheersend uit vroue (4369). Pleks van ‘n tydskrif ‘n tydskrif te noem, verwys sy daarna as ‘n “boek” (4364, 4448).

Salie de Swardt

Salie de Swardt verwys na eens Afrikaanse maatskappye, soos Rembrandt en Sanlam, en skryf: “Hoofsaaklik om praktiese redes, is daar min van Afrikaans in die groepe oor” (4624), Vanweë sy verbintenis met nog ‘n verlore skaap, Naspers, lewer hy geen kritiek op hierdie toestand nie.

Chris van Wyk

Chris van Wyk karakteriseer Naspers as “die beheermaatskappy van ‘n multinasionale tegnologie- en mediakonglomeraat wat in sowat 133 lande sake doen. Die groep is die agtste grootste mediagroep ter wêreld en, volgens aandelemarkkapitalisasie, die grootste mediagroep buite Amerika en China” (4833). “Vir sewentig jaar sedert stigting in 1915 het Naspers uitsluitlik op gedrukte media staatgemaak – deesdae in Media24 saamgebondel. Naspers 2015 snel voort op die elektroniese hoofweg en konsentreer op internetbesigheid en betaaltelevisie. ‘n Ingrypende transformasie van Naspers het dus die afgelope dertig jaar plaasgevind” (4840). Vorentoe wil Naspers hom meer tot organiese groei as samesmeltings en oornames wend (4964). Bedrywighede het veral mobiele platforms (selfone en tabletrekenaars) op die oog (4961).

Van die gekommersialiseerde Naspers kan deesdae kwalik danige aalmoese ten bate van Afrikaans en veral Afrikaners verwag word. Daar is egter twee bemagtigingsprojekte wat blankes uitsluit: Welkom Yizani van Media 24 (4945) en Phutuma Nathi, wat nie-wittes via Multichoice bevoordeel (4950). Hoewel beleggers veronderstel is om te aanvaar dat hulle aandelebeleggings nie noodwendig winsgewend sal wees nie, wou Media24 nie sy nie-wit aandeelhouers hierdie elementêre les leer nie en is R330 miljoen bestee om die nie-winsgewendheid van Welkom Yizani vir sy nie-wit aandeelhouers te neutraliseer (4950). Phutuma Nathi, daarenteen, “het sy deelnemers tot dusver ryklik beloon” (4954).

Slot

Die gevierde skryfster Antjie Krog, wat vir ‘n wyle as ‘n joernalis by Die Burger gewerk het, het met haar emosie-belaaide verbeelding te kenne gegee dat Naspers, eintlik Media24, in ‘n sin ‘n rotnes is. Joernaliste word glo verplig “om al hoe flouer op al hoe kleiner spasies te skryf, terwyl die gerugte van ‘toemaak’ en ‘afskaf’ soos rotte oor hulle keyboards [toetsborde] klouter” (2473). Moenie van Krog verwag om ‘n Afrikaanse sin sonder ‘n onnodige Engelse woord te voltooi nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • leonlemmer

    ‘n Resensie van die boek verskyn in Die Burger (By, 15 deser, p 7) en op Netwerk24 (17 deser).
    As iemand nog nie oortuig is van Naspers/Media24 se anti-Afrikaans en eintlik anti-blanke gesindheid nie, kyk in Die Burger (Snuffelgids, 15 deser, p 10 en 11). Drie Media24-poste word uitsluitlik in Engels in hierdie Afrikaanse koerant geadverteer, te wete vir ‘n “administrative clerk”, “hawker developer” en “street sales coordinator”. In twee van hierdie advertensies staan: “Given the Employment equity policy of Media24, preference will be given to suitable candidates from the designated groups”. Dit beteken dat voorkeur gegee gaan word aan kandidate wat nie wit is nie en dat teen veral blanke mans gediskrimineer sal word.
    Hierdie advertensies is myns insiens meer verwerplik as die van Rhodes University was ‘n pos vir ‘n Afrikaansdosent in dieselfde koerant (p 12) in Engels adverteer.

    • Karel Combrinck

      Daar het ons dit weer , die veragtelike politiek korrekte kodetaal: “Designated groups”. Swart vrouens en mans en ‘n mespuntjie wit vrouens, in daardie volgorde, sal voortaan bekend staan as “designated groups”. Bravo Me. Esmaré Weideman en Rachel Jafta, julle kwalifiseer nou as “designated groupers”. Julle en julle verfoeilike koerante laat ‘n mens stik van walging.

      • RSA PATRIOT

        En om te dink hierdie mense dink hulle is relevant/speel ‘n belangrike rol in mense se lewens.

  • Jared van Niekerk

    Dit is interessant dat dieselfde ou foute oor en oor herhaal word. Ten spyte van die klaaglike mislukking van die bylaes op bruines gemik, het RSG onlangs nog ‘n mislukte eksperiment uitgevoer met sy sogenaamde “Ghoemanuus” – ‘n onsamehangende gebrabbel in ‘n deurmekaar taal wat meestal uit Engels met ‘n Afrikaanse woord hier en daar gepleeg is. Ghoemanuus het probeer om RSG se luisteraars te vergas op nuusgebeure op die Kaapse Vlakte – Sus en So is in hegtenis geneem vir sy besit van tik, Jan Rap het al sy voortande getrek, en hierdie een se banjo is gebreek en hy kan dus nie meer aan die Klopse deelneem nie.

    Ghoemanuus het ook toe ‘n stil dood gesterf, en verskyn nie meer op Vrydagoggende op Spektrum nie.

    • Betzie van Rensburg

      Ja, en mens kan ook net so lank teem oor rieldansers en Grietjie se ‘ Jan, die lekker ou Jan ‘.

  • RSA PATRIOT

    Selfhaat is ‘n siekte en om te lees van sulke mense wat terminaal ly aan hierdie siekte, en ander mense ook met hul siekte wil aansteek, maak my sommer siek. Ek moet die heeltyd sien hoe kots sulke mense op die blaaie van koerante en Netwerk24 se webwerf. Gelukkig weet ek dat die jong generasie immuun is teen hierdie siekte. Korliks, ek haat die selfhaatsiekte (witskuldsiekte), en die lyers nog meer.

  • david ras

    In 1787 verwys die Engelse eerste minister in ‘n toespraak na die “three estates of the realm (die drie dele van die staatsbestel)–“the royalty, the clergy and the commoners”. Daarna draai hy na die persbanke en se: “and yonder sitis the fourth estate, more powerful than them all !”
    Leon Lemmer se uiteensetting beskryf die Afrikaanse “fourth estate” honderd present korrek.
    En dit is juis ons probleem vandag–die Afrikaanse nuus- en beriggewing is total in Naspers se beheer.
    Moenie dink dat die harde blaaie (koerante ) is nie meer belangrik nie, hulle is. Om al ons hoop op die elektroniese media te plaas (soos die internet) is foutief.
    Laasgenoemde is te blootgestel aan manipulasie van buite af en die gebruik daarvan kan te maklik deur regerings druk beheer word.
    Dit is nie soos ‘n koerant waarvan die eienaars die papier en drukperse besit, en dehalwe kan maak soos hulle wil nie, in die elektroniese media word ons slegs toegelaat om ‘n kanaal wat aan iemand anders behoort , te gebruik. . Ons is dus nog steeds blootgestel aan ‘n mate van inligtingsbeheer.
    Ek kan net die vir Naspers se— dis ‘n gesegde wat ek uit my matriek geskiedenisklas kan onthou:
    “die pen is wel magtiger as die swaard, maar hy wat die mag van die pen misbruik, sal uiteindelik in die mag van die swaard vaskyk”