Anton van Niekerk se gewraakte artikel oor ‘regse radikale’

Deel op

Prof. Anton van Niekerk se uitsprake oor ‘regse radikale’, wat ook  ‘n implisiete pleidooi vir sensuur verteenwoordig, het vandeesweek allerlei reaksies uitgelok, ook hier op PRAAG. Afgesien van Leon Lemmer se rubriek, is daar briewe van J.S. van der Merwe en John White. Omdat Van Niekerk se rubriek, wat oorspronklik blykbaar in Die Burger geplaas is, moeilik toeganklik is, haal ons dit hier volledig aan, ten einde die reaksies daarop te belig.

Hou oog op die regse radikale

deur Anton van Niekerk

Verstaan ons die verskynsel van regse radikalisme en die versugting na wit oppermagtigheid (white supremacy), soos dit sigself vandag in die wêreld voordoen, reg?

Die onlangse tragiese moorde in die Emanuel African Methodist Episcopal kerk in Charleston, Suid-Carolina, deur Dylann Storm Roof en sy fantasiewêreld van vrese vir ’n “volksmoord op wit mense” noop ons om opnuut oor hierdie vraag te besin.

In ’n insiggewende diepte-artikel deur Morris Dees en Richard Cohen, wat op 22 Junie in The New York Times verskyn het, voer die skrywers (myns insiens tereg) aan dat ons maklik geneig is om oor fundamentalistiese Islam-bewegings soos Al-Kaïda en die Islamitiese Staat te dink as bewegings wat internasionaal georganiseer en bedryf word.

Daarenteen is ons geneig om aan regse radikale soos Roof, Anders Behring Breivik en selfs ons eie “Wit Wolf” van die tagtigerjare, Barend Strydom, te dink as versteurde individue wat hul misdade op hul eie beplan en deurvoer. (Breivik is die Noor wat in 2011 meer as 70 mense in Noorweë vermoor het omdat hy “Europa van die Islam wou vrywaar”.)

Om só te dink is egter verkeerd. Dit begin duidelik word dat ekstreemregse individue en groepe veel meer moeite doen om hulself internasionaal te organiseer as wat vroeër vermoed is.

Dit blyk sonder meer uit die makabere tentoonstelling van die ou Suid-Afrikaanse en Rhodesiese vlae op ’n Facebook-foto van Roof. Dit is sekerlik nie toevallig dat hy vir dié selfvertoon die vlae gekies het van twee regimes wat wit minderheidsregering eensydig en ondemokraties op hul samelewings afgedwing het nie.

Ander foto’s van Roof is opgespoor op ’n webwerf wat veelseggend Last Rhodesian genoem word en wat in sy naam geregistreer was.

Op dié webwerf dreig Roof (die waarskynlike outeur) om oorheersing in Amerika en Europa vir die “wit ras” te herwin.

Daardeur lê Roof ’n band tussen homself, sy waardes en wat hy verstaan as soortgelyke sentimente en oriëntasies in ander dele van die wêreld.

Volgens Dees en Cohen sien deesdae se wit oppermagtiges al hoe minder grense tussen lande; hulle sien veeleer ’n “wit stam” wat oor die hele wêreld heen deur “anderskleuriges” bedreig word.

Wat met demokratisering in die voormalige Rhodesië en Suid-Afrika gebeur het, is vir hierdie regses onomstootlike bewyse van ’n apokaliptiese toekoms vir alle wit mense wêreldwyd: “. . . a white genocide that must be stopped before it’s too late.”

Hulle fulmineer veral teen die propagering van die begrip “diversiteit”. “Diversity means chasing down the last white person,” word op van hul webwerwe verklaar.

Die ou Suid-Afrikaanse vlag het ook al opgeduik in sogenaamde White Men Marches wat in die VSA gehou word om ’n bewussyn van die dreigende wit volksmoord te probeer kweek.

Die res van Dees en Cohen se artikel is ’n uitvoerige relaas van ’n hele aantal van die internasionale kontakte van hierdie regse bewegings. Hul gevolgtrekking lui dan:

“The days of thinking of domestic terrorism as the work of a few Klansmen or belligerent skinheads are over. We know Islamic terrorists are thinking globally, and we confront that threat. We’ve been too slow to realize that white supremacists are doing the same.”

Verskynsels en figure soos die AWB (veral hul abortiewe en roemlose poging om “Bophuthatswana” teen demokratisering te “vrywaar”), Barend Strydom (wat in Pretoria lukraak met ’n vuurwapen losgebrand en sewe swart mense doodgeskiet en nog 15 gewond het) en die Boeremag-verhoor (van mense wat demokratisering met geweld wou keer en lang vonnisse opgelê is) herinner Suid-Afrikaners aan die werklikheid van ekstreem-regse sentimente en die geweld wat voortdurend dreig om daaruit te ontspring.

Enigeen wat meen dat die gevaar van regse geweld en terrorisme in Suid-Afrika onbelangrik is, maak ’n groot fout.

Sodanige regse verset word oor ’n lang tyd gevoed – selfs aangeblaas – deur kru rassistiese sentimente wat daagliks en (op die oog af) onbelemmerd in sosiale media en die internetkommentaar-afdelings van regse webwerwe uitbasuin word.

Hier volg slegs twee van die aansienlik makker voorbeelde van die tipe rassistiese uitsprake waarvan daagliks talle in die kommentaar-afdelings van regse webwerwe verskyn: “Die swartes se agtergeblewenheid en agterlikheid kan nie voor die deur van die blanke geplaas word nie. Dit is in hul natuur en gene. Hulle agtergeblewenheid is histories van aard. Hulle wil hulle self nie ophef nie. Hulle het nie die politieke wil om vooruit te gaan nie” Rooi Antjie Krog sê blankes ‘moet toilette in lokasies gaan skrop’

En: “Dit is nie in ’n swarte se geaardheid om geskool te moet word nie. Hulle werk slegs op instink. Die beste waartoe hulle in staat is, is om soos ’n sirkusdier ’n klompie truuks te leer. Laat daardie dier terug in sy habitat, en hy vergeet daardie truuks. Swartes handel presies op dieselfde wyse” Leon Lemmer: Anton van Niekerk se leuens weer aan die kaak gestel

Ook die internetkommentaar-afdelings van die hoofstroommedia (veral koerante) kan hierdie soort rassisme in hul kolomme moeilik vermy.

Die probleem is nie eenvoudig nie, want ons leef in ’n demokrasie en is genoodsaak om die reg op vryheid van spraak en gewete te erken.

Laasgenoemde is eenvoudig een van die pryse wat ons vir demokrasie moet betaal.

Die kritiese vraag aan die hoofstroomkoerante is egter waarom soveel rassistiese sentimente in internetkommentare onder skuilname toegelaat word.

Ons het sekerlik die reg op vryheid van spraak. Maar het mense die reg om hul diepgesetelde rassisme te laat botvier in openbare uitsprake sonder om hul naam daaraan te koppel? Waarom moet ordentlike media ’n platform skep vir regse (of ook linkse) ekstremiste wat enigiets wil kan kwytraak, maar weier om enige verantwoordelikheid daarvoor te dra?

Hoofsaak is dat ons sal verstaan dat regse radikalisme lankal nie meer ’n verskynsel is wat slegs broei en aangestook word in private sitkamers en langs braaivleisvure nie – en daarom relatief onskadelik bly nie. Ons het toenemend te make met ’n verskynsel wat versterk word deur internasionale kontakte en daarom omgeef word met die allure van groter geloofwaardigheid.

Ons moet ons oog in die seil hou oor hierdie saak, anders is daar die gevaar van ’n groot addisionele probleem in ’n land waarvan die probleme dreig om heeltemal te veel te word.

Bron: M. Dees en J.R. Cohen: “White­ Supremacists without Borders”, The New York Times, 22 Junie 2015.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.