Leon Lemmer: Anton van Niekerk se leuens weer aan die kaak gestel

Deel op

Dit is belangrik dat die leuens wat deur die ANC en oorverligtes, soos Anton van Niekerk, oor bv die verlede versprei word, met betroubare inligting teengespreek word. Met verwysing na een van Hermann Giliomee se boeke het ek op 20 deser op Praag aangetoon hoe vals Van Niekerk se aantygings teen Bantoe-onderwys is. Hierdie gerespekteerde historikus het pas self Van Niekerk tot orde probeer roep. Omdat Giliomee verdere inligting verskaf, haal ek sy brief (Die Burger, 26 deser, p 14) in sy geheel aan.

“In sy artikel ‘Wat is versoening?’ (DB, 11.06) noem prof Anton van Niekerk as een van die onregte van apartheid ‘die sistematiese ontneming van onderwysgeleenthede tot op die punt waar miljoene vandag nog steeds ly aan onagterhaalbare agterstande’. Uit navorsing blyk die teendeel, naamlik dat onderwysgeleenthede onder die NP-regering dramaties uitgebrei het.

“Onder die VP-bewind het kerke en sendinggenootskappe die grootste verantwoordelikheid vir onderwys vir swart en bruin kinders geneem. FRA Hoernlé, leidende liberaal van sy tyd, het in 1939 geskryf dat dit ‘selfmoord’ vir enige Volksraadslid sou wees om hom daarvoor te beywer dat die staat die finansiële verpligtinge vir bruin en swart onderwys oorneem.

“Tussen 1948 en 1994 het swart kinders op skool gegroei teen ‘n gemiddelde koers van 5,5% per jaar en die bywoningskoers van ‘n skrale 24,5 tot 84,5%. Tussen 1954, toe dr Hendrik Verwoerd die sogenaamde Bantoe-onderwysstelsel ingevoer het, en 1986, het swart getalle op sekondêre skool van ongeveer 5 000 tot 1,2 miljoen gegroei. In hierdie tyd het die getal swart studente van onder 2 000 in 1954 tot 50 000 gespring. Dieselfde stygings het in bruin en Indiër-onderwys plaasgevind.

“Baie swart en bruin matrikulante is tot die middel sewentigs toegang tot die beste universiteite ontsê, maar, soos prof Richard van der Ross by geleentheid gesê het, is aan bruin en swart kinders die geleentheid tot universiteitsonderrig op ‘n veel breër basis beskikbaar gemaak as voorheen.

“Daar was aansienlike rassediskriminasie in per kapita-besteding op die verskillende groepe, veral vanweë die snelle toename van leerders in ‘n konteks van bevolkingsgroei. Maar die begroting vir swart onderwys het dramaties toegeneem. Dit het bv net van 1977 tot 1982 met meer as 200% gestyg.

“Dr Kathleen Heugh, ‘n gerespekteerde navorser oor onderwys, het onlangs in die gesaghebbende Annual Review of Applied Linguistics geskryf dat daar tussen die middel 1950’s en die middel 1970’s in swart skole ‘n stewige verbetering in geletterdheid en syfervaardigheid was.

“Dit was danksy moedertaalonderwys vir die eerste agt jaar, goeie teksboeke en vaardige onderwysersopleiding. Dit het gelei tot ‘n slaagsyfer van 83% in matriek in 1976. In 2008 het dit gedaal tot 56%. Tussen 1975 en 2008 het die proporsie swart leerders met universiteitstoelating van 36% tot 13% gesak. Heugh besluit dat ‘Bantoe’-onderwys uit twee fases bestaan het. Voor 1976 het swart skoliere daarby gebaat; ná 1976 was dit tot hul nadeel met onder meer moedertaalonderrig beperk tot drie jaar.”

Die ANC en sy meelopers loof 1976, toe die Soweto-skoolopstande plaasgevind het, as ‘n wonderjaar en vier hierdie gebeure jaarliks met ‘n openbare vakansiedag, genoem Jeugdag (16 Junie). Dit is duidelik dat dit ‘n politieke viering is, want sedertdien het skoolonderwys vir veral swartes drasties agteruitgegaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.