Kovsies nou ‘n ‘Nazi- of kommunistiese heropvoedingskamp’

Deel op
Jonathan Janse, 'Führer van Kovsies wat net soveel eerbied soos Jesus Christus verdien'
Jonathan Jansen, ‘Führer van Kovsies wat net soveel eerbied soos Jesus Christus verdien. “Die Universiteit van die Vrystaat, en veral die koshuise, is in ‘n heropvoedingskamp van die Nazi- of kommunistiese tipe verander.” Só sê ‘n derdejaarstudent op die kampus wat uit vrees vir viktimisering naamloos wil bly.

Nog ‘n koshuis op die kampus, JBM Hertzog, is in Februarie gesluit en studente is van alternatiewe akkomodasie voorsien ten einde hulle in heropvoedings- en breinspoelingsprogramme te plaas. Die studentedekaan van die universiteit, Rudi Buys, ‘n radikale NG-predikant wat van Stellenbosch afkomstig is, het die rektor Jonathan Jansen met Jesus Christus vergelyk en gesê dat die staat die waardes van kinders moet bepaal en nie hul ouers nie.

In ‘n video-opname wat deur Die Volksblad gemaak is, betreur Buys die feit dat ouers en familie steeds invloed op studente uitoefen wat veroorsaak dat hulle in Afrikaans wil studeer en die Afrikaanse kultuur en tradisies op die kampus wil handhaaf. Jonathan Jansen en Buys is volgens mediaberigte fanaties daaroor “om die universiteit van sy Afrikaanse en wit geskiedenis te stroop”.

JBM Hertzog-koshus se naam gaan blykbaar verander word na dié van die swartmagaktivis, Steve Biko. Dis veral Hertzog se standpunt ten gunste van Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika wat aanstoot gee. Rudi Buys en Jonathan Jansen bevorder aktief Engfrikaans en Kaaps op die kampus. Buys het byvoorbeeld die Engelse woord “ultimate” gebruik om sowel Jesus as Jonathan Jansen mee te beskryf.

Studente van JBM Hertzog word geteiken omdat hulle nie na Jonathan Jansen met die nodige piëteit, agting en eerbied opsien nie. “Jonathan Jansen is die Führer op die kampus en jy moet op jou knieë val en hom aanbid oral waar hy gaan,” het ‘n inwoner van JBM Hertzog gesê.

As straf omdat studente blykbaar by een geleentheid verlede jaar nie na Jansen “soos na Jesus” geluister het nie, is alle gedenkwaardighede en Afrikaanse simbole uit die koshuis verwyder, selfs Springbokrugbytruie.

Rudi Buys is aangehaal waar hy gesê het:

“Ná ’n voorval verlede jaar het ek en prof. (Jonathan) Jansen en nog ’n paar van die senior bestuur van die UV met die inwoners gaan praat. Ek het gesien hulle luister nie vir prof. Jansen nie, toe staan ek op en sê: ‘Ek is ’n Christen. As ek in die kerk is, is Jesus Christus die stem wat sê dis hoe dit is. As hy praat luister ek, hy is die ultimate’.

“Toe sê ek: ‘As jy by ’n universiteit is en die rektor roep jou vir ’n vergadering, die top-persoon by die universiteit, en jy luister nie, dan is dit soos ek, wat in my geloofstradisie, sê ek luister nie na Jesus nie.’ Dis wat ek gesê het. Ek het eintlik ’n belydenis gemaak oor my eie geloof!”

Die woordvoerder van die UV, Lacea Loader, het verklaar dat heropvoeding by die koshuis nodig geraak het, ook vanweë “ongerymdhede met eerstejaarsontgroening”. Die eufemisme wat die universiteit vir heropvoeding gebruik, is “dinkskrums”. Sy sê:  “Dit sluit onder meer in dat studente aan dinkskrums moet deelneem om die waardes van die koshuisgemeenskap te heroorweeg en elke tradisie en simbool daaraan te meet, insluitend die naam.”

Tydens sy video-onderhoude met Die Volksblad het Rudi Buys verder verklaar dat Amerikaanse metodes van heropvoeding soos dit by Harvard en elders gebruik word, by die UV toegepas sal word. Sulke metodes is daarop gerig om witskuld en ‘n gevoel van minderwaardigheid by blanke studente te vestig sodat hulle anti-wit diskriminasie en swart-op-wit geweld met gelatendheid sal aanvaar as “iets wat hulle en hul ouers verdien”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.