Lina Spies oor Flip Buys se Afrikaner

Deel op
Lina Spies
Lina Spies

Ek het al kommentaar gelewer (Praag 8 Des) op Flip Buys se onlangse opmerkings oor die Afrikaner (Maroelamedia 4 Des). Die Burger en Beeld het heelwat later dit wys geag om Buys se teks te herpubliseer. Lina Spies het pas in ‘n brief daarop gereageer (Die Burger, 2 deser, p 13). Spies is ‘n gevierde Afrikaanse digteres, ‘n oud-Afrikaans-dosent aan die Universiteit Stellenbosch en iemand wat as US-raadslid saam met onder andere Hermann Giliomee (tevergeefs) vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Botman-US geveg het. Uitgaande van die veronderstelling dat Spies se kommentaar Praag-lesers kan interesseer, haal ek haar brief in sy geheel aan.

“Oor die bedanking deur mense van hul Afrikanerskap het Leopold Scholtz ‘n keer geskryf dat dit nie sommer net so by wyse van spreke gedoen kan word nie en bygevoeg: ‘Ek is ‘n Afrikaner, omdat ek een gebore is.’ Ook ek is as Afrikaner gebore en opgevoed. Van huis uit het ek respek vir ander geleer en dit mettertyd leer verstaan as nie-eksklusiewe medemenslikheid.

“By die lees van Flip Buys se artikel ‘Afrikaner-saak word só erg benadeel’ (19.12) het ek egter volkome vervreem gevoel van wat Afrikaners is soos hy hulle voorstel.

“Van die titel tot die slot gebruik Buys die retoriek van ‘n verbygegane era. Dié retoriek skree in teen die voelbare en gedemonstreerde verbondenheid van Suid-Afrikaners van alle groepe met Madiba se dood en begrafnis. Wat is die ‘Afrikaner-saak’ en die ‘pro-Afrikaner-standpunt’ in die 21ste-eeuse Suid-Afrika waaroor Buys dit het? My ouers en hul tydgenote het ‘n Afrikanersaak gehad om voor te stry: die ekonomiese en kulturele emansipasie van die Afrikaner en die ontwikkeling van Afrikaans tot ‘n taal, bruikbaar op alle vlakke van menswees. Maar wat is die ‘goeie saak’ waarvoor nou gestry moet word en waarvoor ‘ons niks opeis wat ons ander nie gun nie’?

“Aan sy slot bereik Buys ‘n hoogtepunt van retoriese vaagheid: ‘Ons droom is om ‘n toekoms te skep waarin die Afrikaner ook blywend, vry, veilig en voorspoedig kan wees.’ Hoe skep ons so ‘n plek? Ons kan nie terug na die verlede en van Suid-Afrika weer ‘n verre, geïsoleerde, onbekende land aan die voet van Afrika maak nie. Dit het onteenseglik geblyk met Madiba se begrafnis toe Suid-Afrikaners – op ‘n klein minderheid na – hulle trots deel gevoel het van die wêreld, sigbaar in ons midde.

“Wie is die mense, behalwe Dan Roodt, teen wie se wit meerderwaardigheid Buys skryf, wat met hul ‘dom optrede’ ‘nog meer verbete vyande vir Afrikaners maak’? En as hy beweer dat ‘ons reeds een van die mees gehate groepe in die land is’, wil ek vra hoeveel onse daar in sy pond is.

“Nee, meneer Buys, jongmense en jeugdige senior burgers voel hulle nie onder skot van die ‘kanonkoeëls van vooroordele’ nie. Hulle leef vry en gelukkig in ons multikulturele samelewing en die globale werklikheid, en hulle sal hulle beslis distansieer van die omgekeerde rassisme wat aan die grond van u artikel lê.”

Leon Lemmer

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.