Met die publikasie van Gustav Venter se debuutroman van 91 000 woorde, Die amigdala van Alrina Smal, het praag.co.za ‘n onderhoud met hom gevoer.
Ten eerste, wat het u besiel om so ‘n omstrede tema te kies (seksuele aanranding van ‘n swartman op ‘n blanke vrou, gevolg deur haar abnormale rassehaat jeens alle swartes)?
Ek het dit aanvanklik as ’n kortverhaal beplan in reaksie op die beskuldiging, of eerder belediging, van “blanke vrees”. ’n Paar jaar gelede is daar baie in die liberale pers en vanuit swart geledere gesmaal oor wat hulle as ’n onredelike vrees onder blanke mense vir swart mag gesien het. Vir hulle was redelike voorsorgmaatreëls soos beveiligde woongebiede asook die uitvlug van blanke mense na die buiteland, ’n manifestasie van hierdie vrees.
Ek het nooit ontken dat dié vrees bestaan nie, maar het deurgaans geredeneer dat hierdie nie ’n ongegronde vrees is nie. Hierdie is ’n redelike en intelligente vrees. Ek dink daar is te min van hierdie vrees. Ons neem die bedreiging nie ernstig genoeg op nie en daarom sterf soveel van ons mense wreedaardig.
Die vraag wat ek as skrywer gevra het, is wanneer word hierdie vraag ’n nagmerrie en in watter fiktiewe feitestel is dit op sy ergste. Dit gaan natuurlik oor weerloosheid en niks is meer weerloos as ’n vrou wat magteloos in die greep van ’n man is nie.
Is Alrina Smal se vrees na haar ervaring ’n abnormale vrees? Ek dink juis dit is normaal, ’n geregverdigde vrees, as jy dan wil.
Hoe lank skryf u al fiksie en waarom het u tot nou toe gewag om ‘n roman te publiseer?
My eerste poging om ’n roman te skryf was as sewejarige in Laerskool Bredell! My onderwyseres, Tannie Wolla Troskie (sy was my ma se boesemvriendin) het met elke langpouse die notaboekie waarin ek dit geskryf het, personeelkamer toe geneem om dit vir die ander onderwysers voor te lees, tot hulle groot vermaak. Dit was onbeskaamde plagiaat van Mikro se Ruiter in die nag.
Daar is verwag dat ek ’n boek voor my tiende verjaarsdag sou gereed hê. Ek is nou vyftig, so ek is veertig jaar agter skedule.
Is dit omdat ek vir iets gewag het? Ek weet nie. Dis nie dat ek nie probeer het nie. Ek het ’n stapel onvoltooide boeke in my “laai”. Miskien ’n gebrek aan vertroue in my ambagsvermoë. Ek wou nie iets uitgee voor ek nie seker is dat ek darem die basiese vaardighede van ’n skrywer opgedoen het nie, en het deurgaans hard daaraan gewerk om dit te slyp. Kom ons sê dan maar dat dit net ’n baie lang vakleerlingskap was. Wat natuurlik ver van voltooi is.
In Die amigdala van Alrina Smal is daar heelwat sprake van kliniese sielkunde en selfs neurologie. Moes u heelwat oor dié onderwerpe oplees en vanwaar die belangstelling daarin?
Een skrywer wat vir my goedbedoelde raad gegee het was Oom Hendrik (HS) van Blerk. As seun het ek op ’n Voortrekkerkamp, sonder dat ek weet hy kan my hoor – hy was die busbestuurder – verklaar dat ek ’n skrywer wil word. Hy het verskyn en vir my gesê as ek ’n skrywer wil wees, moet ek “alles onder die son weet”. Ek het nie presies geweet wat hy bedoel het nie (ek weet nou nog nie) maar ek het van toe af myself beywer om feite te versamel soos ander mense sê nou maar posseëls versamel. So ek het ’n belangstelling in heeltemal te veel dinge.
Ek vind neurologie, en veral die ontploffing van kennis daaroor wat deur nuwe tegnologie moontlik gemaak is, baie interessanter as sielkunde. My belangstelling is eerder in sielkundiges as sielkunde. Wat is dit wat iemand laat glo hy kan in ’n ander mens se kop rondkrap en dit herbedraad om gedrag te verander?
Nou is dit so dat ek ’n hele paar sielkundiges leer ken het en almal van hulle is nou goeie vriende van my. Hulle is almal kleurryke mense en heeltemal openhartig oor wat hulle doen, hoe hulle dit doen en wat hulle daarmee wil bereik en nie bereik het nie. Vir ’n skrywer kan daar beswaarlik ’n boeiender gedaante as die sielkundige wees.
Die boek speel in Johannesburg af, ‘n stad wat slegs by rare geleenthede in Afrikaanse romans beskryf word. Waarom Johannesburg en nie, sê maar, Pretoria, Kaapstad of een of ander plattelandse dorp nie?
Ek meen die Noord-Johannesburgse Afrikaner bevind hom in ’n besondere, liberale geologiese stratum. In sosiale bewussyn ag hulle hulle as darem ’n trappie hoër as die Pretorianer. Hulle is nog nie verlam met die angs van selfveragting soos ons dit in blanke Engelse kringe aantref nie, maar hulle voel hulle het die lewe in die rassismeslykpoel oorleef en leef nou werklik in ’n postrassebestel. En hulle glo hulle kan dit doen sonder om hulle blanke identiteit op te offer.
Wat rassebewussyn betref, bevind hulle hulle op die presiese breuklyn wat ek vir my storie nodig gehad het.
Hoe sou u die politiek van Alrina Smal en haar man, Darren, beskryf?
O, ek sou dit heeltemal anders as hulleself beskryf. Soos baie Afrikaners weet hulle instinktief dat die oorplanting van ’n Westerse politieke stelsel op Afrika eintlik saad op die rotse is. Hulle sien nie kans om vir die ANC te stem nie, maar het terselfdertyd ’n afsku in die Afrikaner se politieke geskiedenis. Hulle kan polities nie vorentoe nie en hulle kan nie agtertoe nie. So hulle beskou hulleself as “apolities”. Verhewe bo politiek. Raak nie daaraan nie, proe nie daaraan nie. Eintlik het hulle maar net politieke oogklappe op.
Op enkele plekke laat sekere karakters of figure in die boek hulle baie negatief oor swartmense uit en gebruik byvoorbeeld die K-woord. Dink u daar is genoeg spraakvryheid in Suid-Afrika om so iets te verdra of gaan dit dalk hewige reaksie ontketen?
Ek dink gereeld aan die swart predikant in Alan Paton se Cry the Beloved Country se sombere waarskuwing dat blankes eers vir swartmense sal leer omgee wanneer die swartes al begin het om blankes te haat. Dit was ’n bekende tema in die oorgangsjare, van Harald Pakendorf, Rian Malan, Chris Louw en ander wat probeer het om mense in te lig oor “swart woede”.
As skrywer is dit vir my belangrik om sterk poele van emosie te vind en daarin te delf. Soos wat die heersersklas van die verlede swart woede onderskat het, dink ek blanke woede word nou te gering geag. Geregverdig of nie, daar is ’n smeulende lawastroom van woede wat deur die blanke gemeenskap strek. Politici en sosialiste het dalk hulle eie redes om verby dit te kyk, maar ek as skrywer wil dit nie miskyk nie.
Gaan dit ’n wyer, heftige reaksie ontlok? Ek kan maar net so hoop, hoewel dit vir my vergesog voel dat my ou werkie op die wyer gesamentlike bewussyn sal registreer. Maar wie weet? Miskien moes ek dit dan maar onder ’n skuilnaam uitgegee het. Soos Francois Strydom. Hy was ons hoofseun op hoërskool en hy kon die aandag verwerk.
Ja, die liewe “K-woord.” Ek voel dit is oneerlik om dit so te gebruik. Die woord is “kaffer”. Ek bepleit nie die gebruik daarvan nie, maar ek dink dit is teenproduktief om voor te gee dat die woord “kaffer” nie wyd gebruik word nie. En ja, as daar iets in my boek is wat mense sal ontstel, dan is dit seker dít. In hierdie verwronge gemeenskap is die gebruik van die woord “kaffer” ’n veel gruweliker misdaad as die aanval van ’n man op ’n vrou in haar eie huis.
Toe André Brink in 1973 sy Kennis van die aand gepubliseer het, het die boek destydse norme oortree vanweë die aantrekkingskrag tussen rasse wat dit voorgestel het. Die amigdala van Alrina Smal beeld die teenoorgestelde, naamlik die afstotingskrag tussen rasse, uit. Oortree u ook die huidige sosiale norme wat op rasseharmonie soos op die TV-advertensies ingestel is?
Kan geveinsdheid ’n werklike sosiale norm wees? Ek is skepties daaroor. Ek het ’n afsku in die advertensiebedryf se waan van omnipotensie. Dit kom voor asof hulle dink hulle kan ’n denkbeeldige wêreld skep en dan as ’n matrys op die gemeenskap afdruk. Dit lyk vir my duidelik dat geen werklike norme gehaal kan word uit ’n denkbeeldige gemeenskap in ’n denkbeeldige wêreld nie.
Die advertensiebedryf besef dit en daarom, al verbeeld hulle die Nuwe Suid-Afrika as ’n land waar een en elk se beste pel iemand van ’n ander ras is, is hulle nog katvoet om gemengde paartjies in advertensies te gebruik. Hulle weet dit is teen die werklike norme. So oortree ek denkbeeldige norme? Sekerlik. Anders as A.P. Brink wat werklike norme van sy tyd oortree het.
Brink en ander skrywers het hierdie weersin in liefdesverhoudings oor die rassegrense heen as ’n swakheid gesien wat hulle vir dramatiese doeleindes kon uitbuit. Die swakheid in ’n boek soos Kennis van die aand as politieke beswaarskrif is dat Brink nooit bereid was om daad by woord te voeg nie. Hy het self nooit ’n swart vrou gehad nie. Dis dieselfde swakheid wat die liberalis se onstuimigheid teenoor my boek ongedaan sal maak.
Is u bekend met die werk van Georges Bataille, die Franse skrywer en filosoof?
’n Verbygaande kennis, ja. Ek tref ’n onderskeid tussen literêre kritiek en literêre teorie. As skrywer het ek, dalk dwaaslik, nog altyd probeer om literêre teorie te vermy, miskien uit bygeloof dat dit my ontwikkeling as skrywer sou knel. Of is dit net my manier om te sê dis bo my vuurmaakplek? In elk geval, hy is een van Oom Hendrik se “dinge onder die son”, en ek kan nie ontken dat ek van sy menings, en die dinge wat hy gedoen het, fassinerend gevind het nie.
Georges Bataille het ‘n hele teorie gebou rondom die beginsel van “oortreding”, dat dit juis die taak van die skrywer is om sosiale norme te bevraagteken en te oortree. Sou u sê daar is ‘n Batailleske element in Die amigdala van Alrina Smal? Of gaan dit eerder om die openbaring van houdings en reaksies wat daarbuite geld, maar wat moontlik bloot deur die media en deur ander skrywers verswyg word?
Ek het geen persoonlike sosiale opdrag wanneer ek skryf nie. Ek sien my taak eenvoudig om ’n versameling karakters se doen en late te volg terwyl hulle met al hulle manjifieke hartstog en ywer en onbeholpenheid deur situasies spartel. As ek hulle volg en hulle vertrap die slap grensdrade van swak of uitgediende norme, dan is dit maar hoe dit is.
Ek vind dat bymotiewe slordig by ’n fiksiewerk inpas. Dit is, volgens my mening, die sentrale swakheid van ’n andersins goeie skrywer soos John Irving. Wanneer ek van sy goed lees, is ek by tye so verveeld met sy persoonlike gesanik in die mond van sy protagonis dat ek wil sê: “Ag tog. Hou op kerm en vertel my wat met Owen Meany gebeur het.”
As daar ’n Batailleske element, soos u dit noem, in my boek is, is dit ’n gevolg eerder as ’n oorsaak.
Tog is ek nie blind vir die krag van fiksie om as ’n soort laboratorium te dien nie. Daarin kan ons elemente waarvan ons weet saammeng en skud en kyk wat gebeur. Dit is wat ek probeer doen het. En ek daag enige iemand uit om vir my te sê hierdie elemente bestaan nie in die teenwoordige Suid-Afrika nie.
Opvallend in die boek is ook die fyn beskrywings van vroulikheid en hoe Alrina as vrou reageer, nie net op haar seksuele aanranding nie, maar ook in ander situasies. Is daar ‘n sluimerende feminisme by Gustav Venter of ten minste by sy verteller?
Ha! Ek sal erken dat vroue my gunstelinggeslag is. Ek vind vrouens oneindig fassinerend. Ek was vir sewe jaar getroud en het die uitsonderlike voorreg gehad om ’n ingewikkelde, begaafde, uiters intelligente en temperamentele vrou in die fynste besonderheid te kon waarneem. Ek het toe al begin aantekeninge maak met die hoop dat ek eendag ’n vrou se gedrag sal kan raak beskryf. Het ek dit reg gekry? As iemand so sê, sal dit die grootste kompliment wees wat ek as skrywer kan kry.
Ek kom uit ’n gemeenskap waar die vrou ’n uitsonderlike, onaantasbare plek het. Die geykte uitbeelding van die Afrikanervrou as beteuterde wesentjie wat deur ’n bombastiese, paternalistiese mansfiguur oordonder word, is vir my niks anders as ’n karikatuur nie. Ek vind Afrikanervrouens is sterk, seker van hulle vroulikheid en verseker oor hulle plek in die huis en die gemeenskap. Ek het by geen ander volk gesien dat vrouens met soveel respek behandel word soos deur die Afrikaner nie. As feminisme daaroor gaan om die vrou se regte te beskerm en haar posisie te koester, was my oupas albei feministe, my pa ook en dan ek ook. Ek meen Hermann Giliomee skryf ook iewers oor die vroeë dae aan die Kaap waar die Afrikanervrou ’n hoë mate van emansipasie en gelykheid teenoor die man geniet het, en ook eiendom kon besit, anders as in Katolieke lande, byvoorbeeld.
Sou u sê dat Die amigdala van Alrina Smal vir ons ‘n blik op die Nuwe Suid-Afrika, ‘n baie sombere blik, bied?
As skrywer vra ek myself af of ek ’n lewensgetroue weergawe van die omgewing waarin die verhaal afspeel, geskep het. My doel is om te rapporteer, nie om te beoordeel nie. Maar as ek my werk reg gedoen het, ja, dan sal dit ’n somber blik wees. Deels is dit omdat die verhaal en die karakter se optrede dit dikteer. Wat met haar gebeur, is ’n daad van duisternis.
Ek vind Suid-Afrika nie ’n sombere plek nie. Hier is soveel opwinding en energie en hansworsery elke dag te sien. En dit is juis hoekom hierdie gruwel waaraan soveel van ons vroue onderwerp word, so skel is – in teenstelling.
Op ‘n stadium redelik vroeg in die boek, tydens haar eerste terapiesessie met doktor Ters van Jaarsveld, sê Alrina: “Hierdie ding, hierdie fobie wat gekom het na Dít Wat Met My Gebeur Het, het my verander, presiés in dít wat ek nooit wou wees nie, wat ek in ander mense verag het. As ek maar ’n pedofiel was, as ek maar ’n reeksmoordenaar was. Maar nou is ek iets erger, iets veel erger. Ek is die ellendigste van alle mense. Ek is ’n rassis.” Maar is sy werklik ‘n rassis of is haar reaksie teenoor swartmense onwillekeurig, juis vanweë haar amigdala?
Hierdie is een van daardie ja-en-neegevalle. Sy het ’n afkeer van swartmense, alle swartmense, ontwikkel. So sy is ’n rassis, ongetwyfeld. Tog kan sy nie skuldig wees nie. Uit my opgeskorte loopbaan as student in die reg, onthou ek dat opset of nalatigheid ’n onmisbare element in ’n delik is. Alrina het haar afkeer nie deur nalatigheid en sekerlik nie met opset bekom nie. Daarom is sy nie skuldig nie. Die persoon wat verantwoordelik – en skuldig is – aan die opwekking van Alrina se rassisme is haar aanvaller, Godfrey Semase. Maar dit druis in teen die algemene liberale opvatting in Suid-Afrika waarvolgens net blankes aan rassisme skuldig kan wees.
Dit is die ellende van die hedendaagse Suid-Afrika. Rassisme word eerlikwaar as meer afkeurenswaardig as moord, verkragting of pedofilie gesien. Solank hierdie wanopvatting ons denke strem, sal ons nooit ’n openhartige gesprek oor ras en rassisme kan hê nie.
U is bekend as ‘n aanhanger van Tom Wolfe, die vader van Amerikaanse “nuwe joernalistiek” en die aanbieding van feite met fiksionele of literêre tegnieke. Is Die amigdala van Alrina Smal bloot fiksie of gebruik u fiksie en die vryheid daarvan om sekere skokkende aspekte van ons werklikheid uit te beeld?
As dit nie vir Tom Wolfe was nie, so ek seker twintig jaar gelede al ’n boek vir publikasie aangebied het. Dit het my ’n bykomende tien jaar geneem om soos hy te probeer skryf en nog tien jaar om op te hou om dit te probeer.
Ek dink die vraag wat Wolfe wou beantwoord, werk eintlik andersom. Hy wou weet of die verslaggewingstegnieke wat hy in sy joernalistiek gebruik het, vir fiksie aangewend kon word. Die essensie van die “nuwe joernalistiek” was lewensgetrouheid. Skrywers soos hy, Hunter Thompson, Gay Talese en Jimmy Breslin was nie tevrede met die idee om bloot ’n lys feite aan te bied nie. Hulle wou die presiese gevoel van ’n situasie ook oordra. Vandaar hulle ingesteldheid op die fynste besonderhede van wat Wolfe mense se “statuslewe” noem.
Die amigdala van Alrina Smal is op die mees basiese vlak uit en uit fiksie. Daar bestaan nie ’n persoon met daardie naam sover my kennis strek nie. Maar as ek my werk reg gedoen het, en dis nie vir my om te oordeel nie, is hier ’n groter waarheid ter sprake.
Is Alrina Smal werklik deur ’n swartman aangeval? Nee. Sy is ’n fiktiewe karakter.
Word blanke vrouens, duisende van hulle per jaar, deur swartmans aangeval? Ja. Dit is nie fiksie nie. Dit is die harde, ongenaakbare en uiters tragiese waarheid.
Ek probeer nie mense se optrede verander nie, maar as daar een brokkie raad is wat ek hoop haak aan mense vas wanneer hulle die boek lees, dan is dit dat dit soms wys is om te vrees.
Wat kan ons nog in die toekoms van Gustav Venter as skrywer verwag?
Sug. Ek het in 2002 ’n boek met die titel “In skaapsklere” geskryf en ek skryf dit nou al vir tien jaar oor. Dit gaan oor ’n godsdiensswendelaar. Miskien sal ek nou die momentum hê om dit te voltooi.
Maar eers speel ek met die gedagte om die verhaal van die Smal-gesin se trauma voort te sit, dié keer uit die oogpunt van Alrina se man, Darren.
Laai ‘n gratis uittreksel van 24 bladsye in PDF-formaat hier af.
Koop die eBoek (in drie gewilde formate, waaronder PDF) hier of stuur ‘n e-pos aan inlig[by]praag.org.
