‘n Gewone dag by my township-skool

Deel op

deur Latashia Ray

Jou ma se poes!

Ek sit by my lessenaar en tuur uitdrukkingloos oor die rommelbestrooide skoolwerf uit. My vinger trommel liggies op die natgeswete pen in my hand. ‘n Siniese glimlag speel-speel om my mondhoeke. Ek dink terug aan die eerste keer toe ek hierdie gruwelwoorde moes aanhoor.

Dit was drie jaar gelede. Ek het met trane in my oë my eerste dag by hierdie township-skool begin. God het my gestuur. Soos ‘n Jona van ouds sou ék die verskil kom maak. Ek kan nog die bewoënheid in my gemoed onthou toe die eerste klas ingestap het. Drie en sewentig (‘n klas met hierdie afmetings akkommodeer gewoonlik so dertig kinders) nuuskierige paar oë op my gerig, ons almal in die kleinste klassie in die hoek ingeprop. Drie-drie by ‘n bank. Behalwe een dogter, Taslin. Sy was so groot soos vier en het alleen in die voorste bank gesit.

Ek was besig om ‘n emosiebelaaide eerste toespraak in my kop op te sê, toe ‘n seun sonder tande in sy mond, terwyl hy nuuskierig na my kyk, Taslin aan haar boud beetkry.

Jou ma se…, het Taslin verwoed gegil terwyl sy die tafel met woede opgelig het en vorentoe gestamp het. Die spoeg het drooggeword in my keel. Die tafel het in twee stukke verby my kuite gespat. Die seun het skaterend agtertoe gehol, sommer so bo-oor die tafels. Die klas het saam gelag. Dit was toe dat ek gesien het hoe min van hulle eintlik voortande het. Ek het die klas probeer kalmeer. Tevergeefs. Die toespraak moes maar eers in my kop bly: Ek is hier. (Juffrou, die heldin… moes ek seker op daardie oomblik gedink het.) Juffrou is hier om julle onder haar vlerk te neem. Juffrou wil julle leer, van die taal, maar ook van die lewe. Juffrou wil vir julle die weg wys. Juffrou wéét die meeste van julle bly in tweevertrekkaias saam met hope ander familielede, maar maak nie saak nie. Juffrou wéét baie van julle het dae laas geëet. Maak nie saak nie. Juffrou gaan vir julle die pad na sukses wys: Hoe om uit hierdie rookgehulde sinkhokkienes met sy baie rondloperhonde en rommel en walgreuke en vloekgraffiti los te kom. ‘n Sinvolle lewe te begin. Juffrou kom julle hande vat… want Juffrou is deur God gestuur.

Dit is drie jaar later. Ek het tot vandag toe nog nie my toespraak gemaak nie. Om die waarheid te sê, daar was min kere in hierdie afgelope drie jaar wat dit stil genoeg was om enige iets in enige van my klasse te sê. Jou ma se… is woorde wat ek ten minste tien keer ‘n dag hoor. Niks skok my meer nie.

‘n Klip beland op my tafel. Al weer my wang rakelings gemis. Ek staan verveeld op en klap die venster bokant my toe. Ek doen nie eers meer moeite om af te kyk om te sien wie die klipgooier is nie. Deur te kyk, vermeeder ek net sy plesier. Toe my eerste ruit, drie jaar terug, in die middel van ‘n les stukkend gegooi is, het ek nog so ewe moeite gedoen om ‘n kind met ‘n dringende brief na die adjunkhoof toe te stuur: Naam. Van. Klas. Tyd. Ooggetuie. Alles netjies volledig aan Mnr. Booysen gerapporteer. Siestog, hoe naïef en onskuldig was ek toe nog nie. Mnr. Booysen het my nie eers iets terug laat weet nie. Hoekom moes hy ook? Daar is buitendien so min vensters in die skool oor. Hoekom nou so ‘n groot bohaai oor een venster maak?

Ek sit my nat pen neer en gaan verwissel die transparant. Daar is darem so drie uit die sestig kinders wat vandag moeite doen om af te skryf. Terwyl ek truprojektor toe loop, sien ek hoe ‘n geel urinekol onder deur my deur begin vloei. Iemand klop tergend aan die deur en ek hoor hoe ‘n jillende klomp seuns weghardloop. Twee kinders in die voorste bank sien dit, spring skreeuend-laggend op, hardloop deur toe om te sien of hulle die skuldige kan uitvang. Die res van die klas sien nie eers die klein dramatjie afspeel nie. Hulle is almal êrens in hulle eie hoekie besig om uittand uitspattig te lag oor hulle eie grappe, of oor die tafels weg te hardloop vir ‘n gekke gestoei.

Die klas vol agterkoppe, dink ek sinies. Niemand kyk eers meer bord toe nie. En ek probeer hulle nie eers meer stil maak as ek die nuwe transparant begin verduidelik nie. Te veel strategieë al probeer. Alles in die boek. Geen pedagogiese, dissiplinêre steen onaangeraak nie. (Behalwe met die lat inklim. Maar díé mag ek buitendien nie doen nie. Teen die wet. Sal my werk verloor. Tien duisend rand per maand is immers tien duisend rand per maand.)

Een of ander pedagogiese drukgroep het mos gesê pakslae verneder die kind. Hulle sê, julle sê, almal sê, sê, sê, sê, praat, praat, praat… ons is vasgepraat… sê ek!

Die klok lui. Ek groet. Drie van die jillende hansworse groet terug. Die ander stamp verby ons, gooi my klas se deur hard oop en spring vloekend-laggend oor die urine. Passop vir die pis! skree een dogter vir ‘n seun wat besig is om sy broek se gulp op te trek.

Het dít nou weer in my klas gebeur? wonder ek stil terwyl ek probeer herroep watter dogter hierdie periode naby hom gesit het.

So agt maande terug, tydens eksamen, het ek dít vir die eerste keer gesien. Ek het ek op die boonste verdieping gestap toe ek ‘n dogter benoud op die onderste verdieping hoor gil: Los my, Lappies! Nee, Lappies! Ek het onder toe gehardloop en die seun op die dogter gekry. Besig met dít. Op en af. Terwyl sy hom probeer afstamp van haar lyf af. Voor die meisiestoilet. Sommer so in die middel van die stoep. Ek was histeries… maar ek het sedert daardie insident ook maar geleer, om nie eers oor só iets ontsteld te raak nie. Die skoolbestuur was nie veel gepla nie. Ook nie die speurder nie. Ook nie die staatsaanklaer nie: “Nee wat, ons gaan die saak laat vaar. Daardie dogter…” Ek weet wat ek gesien het , maar my weet het tot dusver nie veel in hierdie skool gehelp nie.

Weer. Twee maande daarna. In een van my kollegas se klas. ‘n Ander seun. Sommer so voor die klas. Gooi die dogter teen die bord. Kry haar van agter af beet. Ook niks van gekom nie.

Die volgende klas kom in en ek kyk moeg na my horlosie om te sien hoe lank dit nog voor huistoegaantyd is. Dalk kom die skool vandag vroeër uit. ‘n Seun het vanoggend die hoof se kar se ruit stukkend gegooi, miskien…

Ek sien Petro inkom, die stil dogter van doer êrens agter in die klas. Ek het al aan die begin van die jaar agtergekom dat sy nie ‘n enkele woord kan lees of skryf nie. Graad agt. Ek het haar belowe dat ons haar gaan help. Sy het soos ‘n sluis oopgebars toe ek haar daardie dag se pouse agtergehou het. Rou seer van jare se vernedering, het snikke uit haar keel laat skeur.

Ek tel my pen van my tafel af op. Ek kon nie my belofte aan Petro hou nie. Ek het haar situasie gaan aanmeld waar ‘n onderwyser ook al maar kon dink om so ‘n geval aan te meld. Niks het daarvan gekom nie. Ek self was ongelukkig elke liewe middag sedertien besig met matriek-mondeling, matriek-ekstraklasse, matrieks dié, matrieks daai… En as dit nie matrieks was nie, hierdie vergadering, daardie vergadering, merk, modereer, opleiding hier, opleiding daar… Ons onderwysers op voetsoolvlak is al blink opgelei! Ek wonder of die klomp daarbo nie sal skrik as hulle ons reekse kwalifikasies moet sien nie. Maar nee, al wat hulle kan uitdink vir ons brandende skoolstelsel, is nóg ‘n opleidingsessie hier en nóg ‘n opleidingsessie daar! Iemand maak geld.

In elk geval, my hart is stukkend en ek is verleë, maar ek kon regtig nie my belofte aan arme, hartseerogie-Petro hou nie. Sedertien het ek buitendien ontdek dat veertig ander kinders van dieselfde klas aan dieselfde probleem – sommige in ‘n mindere, andere in meerdere mate – as sy ly. Deur die skoolsisteem gepomp, sonder dat hulle ooit leer lees of skryf het! As ek lank genoeg aanhou met die rapportering van hierdie haglike situasie, kan ek maar die gewone verwag: Ek word verantwoordelik gehou vir hierdie kinders se swak prestasie. As ek stilbly – soos die meeste van my kollegas al ter wille van oorlewing in die onderwysstelsel aangeleer het – sal die probleem darem op een of ander stadium iemand anders s’n word.

Petro gaan sit in haar hoekie, haal ‘n boek en pen uit en begin so ewe iets neerskribbel: Sani banti kranti santi banti, ek weet dit is die woorde wat sy skryf, want dit is dieselfde woorde wat sy op elke liewe antwoordstel neerskryf.

Ek gaan staan by my klas se deur en sien dat hulle dit weer met swart kokipen bekrap het: Fuck… Ek lees nie verder nie. Ek het net twee dae terug weer al die vloekwoorde en graffiti toegeverf.

Wat dóén ek by hierdie plek? Wat ek hier doen en hier wíl doen, is twee verskillende dinge. Ek sou graag die klas stil wou laat instap, vriendelik groet en entoesiasties my les wat ek (soos ‘n aap) gisteraand voorberei het (met media en al), wou aangebied het, maar dit is my weer eens nie beskore nie.

Ek gaan staan voor die klas. Niemand luister na my nie. Hulle kyk nie eers na my nie.

Al praat ek op my hardste en al fluister ek geheimsinnig op my sagste, niemand slaan ag nie.

Ek gooi ‘n transparant op en gaan sit maar weer by my tafel. Ek kyk na die sirkus wat hom weer histeries voor my afspeel: Skreeu-gil, oor die tafels, lag, gooi, lag, skreeu-harloop… vyftig minute lank… sestig gesigte…

Die hoof se stem probeer êrens onder die gedonder deur iets oor die interkom sê. Nie een klas in die skool is stil nie. Ek staan stadig op en loop interkom toe. Ek gaan staan reg onder die interkom en hoop om darem een woord te hoor… Ja, soos ek gedink het: Iets van die geraasvlakke is te hoog… Ek lag in my mou. Dit is die naaste wat hy ooit aan skoolbestuur kom: Blaf soos ‘n siek hond oor die interkom ‘n streng dissiplineles uit…

Ek is skielik naar en wil dameskleedkamer toe gaan, maar ek weet ek moet maar uithou. As ek nou my klas verlaat, kom ek terug en niks is oor nie. Nie die pepermentjie in my laai nie, ook nie die skryfboeke in my rak nie. Niks. Buitendien wat wil ek in ‘n kleedkamer gaan maak waar die een toilet nie werk nie en die ander toilet so besmeer is dat ’n várksog twee keer sal dink voor sy daaraan sou raak. Ek hou uit.

‘n Dogter met ‘n ver swanger boepie, kom lui-lui die klas ingestrompel. Sy het ‘n papier in haar hand. Sy vra my nie eers toestemming nie en begin sommer met die klas te praat: “Juffrou Samson wil weet hoeveel van julle ook swanger is…” Die ses wat haar hoor, steek almal laggend hulle hande op. Sy ignoreer hulle, kyk self rond vir boepies en skribbel ‘n getal op die papier neer.

Ek gaan sit maar weer by my tafel. Ek grou in my laai vir my dagboek en begin skryf. Op die eerste bladsy waarby ek oopmaak, in groot rooi letters, skryf ek: Ons skole brand en ons kinders skree en hulle verkoolde kadawers ruik in donker hole by die verdroogde trane van ‘n verlore geslag…

En skielik weet ek glashelder: Die uurglas loop leeg!

Latashia Ray is die skuilnaam van ‘n gewese onderwyseres in die Wes-Kaap. Sy het onlangs ‘n reeks artikels oor haar wedervaringe geskryf, waarvan hier die eerste gepubliseer word.

прокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.