Indien die redes wat onder meer deur Malema en die ANC se regspanne aangevoer is oor hoekom hy nié die mond gesnoer moet word nie geldig is, gaan die swye wat hom nou opgelê is dié jong kroonprins se statuur ernstig aantas.
Hiervolgens gaan Malema se waardigheid ook in die oë van die wêreld ‘n knou kry omdat dit op ‘n skulderkenning sal neerkom. So asof die wêreld buite Suid-Afrika en ZANU-PF se Zimbabwe hom as enigiets anders as ‘n hofnar beskou.
Terselfdertyd sal dit aan die lig bring of Malema voortvarend genoeg is om ‘n bevel van sy organisasie en hofbevele te gminag, iets waaroor hy baie onlangs nog erg uitdagend was.
Die verwagting is egter dat Malema, wat hierdie saak betref, na pres. Zuma en die ANC sal luister, en soos ‘n prop sal opduik om deur ander uitsprake en optredes sy reputasie gestand sal doen.
Dit strek die ANC en die regering nie tot eer dat die saak eers tot hierdie vlakke moes ontwikkel nie. Slegs die mees naïewe mens sal ontken dat polarisasie in hierdie heterogene land gevaarlik in die rooi is. Dit word al lank in meningspeilings gewys. Trouens, Malema se optrede word toegeskryf daaraan dat hy die uitlaatklep is van ‘n gesindheid wat breed onder die swart jeug in Suid-Afrika teenwoordig is. Gister, op Van Riebeeckdag, moes die polisie doringdraad uitrol tussen wit en swart by die vermeende moordenaars van mnr. Eugene Terre’Blanche se eerste hofverskyning. Na meer as 350 jaar se kontakvlak is dit duidelik dat die huidige grondwet nie die kitsoplossing bied wat naïewe politici gemeen het dit sou nie.
Die regter wat Malema met ‘n interdik die swye opgelê het tot die saak in die gelykheidshof dien, het ook reg as hy sê die probleem kan nie deur hofbevele opgelos word nie. Dit moet in die harte van mense plaasvind, en dit verg nou leierskap wat aan regeringskant lamsakkig ontbreek het.
Dit is boonop nie die enigste probleem waarmee die land opgesaal is nie. Gister is ‘n betoger teen swak dienslewering in Mpumalanga tydens munisipale onrus deur die polisie doodgeskiet.
As die opoffering van Malema se sogenaamde waardigheid dan die prys is wat betaal moet word om Suid-Afrika ‘n min of meer funksionerende staat te maak en te hou, dan behoort Malema wat gereeld sy lojaliteit aan sy organisasie verklaar, voor in die tou te staan om sy bereidheid hiertoe te toon. Dit is egter meer waarskynlik dat dit nog veel beter sal wees om Malema heeltemal uit die politieke toneel te haal en herinneringe aan sy politieke tussenspel tot bloot ‘n nare herinnering te laat vervaag.
Die hoop kan alleen uitgespreek word dat die regering se eksperiment om so baie ruimte te gee van verskillende mense om die verwarde publiek met soveel teenstrydige stories te vergas, nou deur ‘n vorm van staatsmanskap aangespreek sal word. Of die agterstande wat reeds ontwikkel het oornag reggestel kan word, is egter onwaarskynlik. Daarvoor het Zuma self te veel geloofwaardigheid en waardigheid ingeboet.
Oor die kwaliteit van sy adviseurs wat hom tot by hierdie punt gebring het kan gewoon een ding gesê word: As een blinde ‘n ander blinde lei, val beide in die sloot. Zuma is, voorlopig minstens, ‘n gegewe. Sy adviseurs hoef nie noodwendig te wees nie.
