Kwaliteit van leierskap laat veel te wense oor

“As ‘n mens die TV-onderhoud van pres. Jacob Zuma met e-TV na die afloop van die ANC se 90ste verjaardag kan met twee woorde opgesom word – onpresidensieel en onvoldoende,” aldus die leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP) en waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA), ds. Theunis Botha.

“Terwyl hy besluiteloos voorgekom het, het hy vaaghede en veralgemeneings ingespan in antwoord op sake van nasionale belang. Hy het oor kwessies soos die onafhanklikheid van die vervolgingsgesag, nasionalisasie en die impak op buitelandse beleggings, die swak opvoedkundige uitslae, werkskepping en die moontlike vrywaring van Shabir Shaik met vernuftige voetwerk die sake so ontduik dat kykers niks wyser is nie.

“Die skuld vir ANC-mislukkings is opnuut op die verlede geplaas, en oplossings in die toekoms is beloof wat opnuut beteken dat die teenswoordige in die gange van vergetelheid moet verrot.

“Dit het, volgens Zuma, agt maande geneem om die nuwe regering saam te stel en dat prestasie nou aan die beurt gaan kom. Op munisipale vlak is egter nog bitter min reggeruk, en ons hou in die komende jaar weer verkiesing wanneer die proses van voor af begin word. Die bedoeling van ‘n monteerbaan is dat hoë gehalte voltooide produkte gelewer word, nie hersirkuleer en net herontwerp word nie.

“Pres. Zuma wys op die nypende tekort aan vaardigheid in die staatsdiens. Hy en die ANC word die afgelope 16 jaar van goeie raad bedien oor hoe om die probleem aan te spreek, en ook wat om nie te doen nie. Met ongeveer ‘n miljoen kundige Suid-Afrikaners in die buiteland is die grondslag van brouwerk voor die hand liggend.

“Is dit die kwaliteit van die leierskap waarmee Suid-Afrika in die toekoms mee opgesaal moet sit?”

 

casinoДанильченео