Zuma gebraai deur Joodse gemeenskap

Van “oningespireerd” tot “plat op die aarde” en “vol selfvertroue” was van die wisselende menings wat deur lede van die Joodse gemeenskap oor Jacob Zuma uitgespreek is.

Zuma is genooi om by ʼn forum oor Suid-Afrika se toekoms te praat wat deur hoofrabbi Warren Goldstein aangebied is. Dit het by Investecbank in Sandton plaasgevind.

In sy toespraak het Zuma gepoog om “paniek” oor die ANC-leierskap te besweer deur te sê dat die nuutverkose leiers van die regerende party “ervare kaders” is wat glad nie nuut is nie.

Toe hy gevra is oor die misdaadrekords van lede van die nasionale uitvoerende komitee, waaronder Tony Yengeni en Winnie Madikezela-Mandela, het Zuma gesê hy kon nie daaroor oordeel nie en het dit na die ANC verwys.

Een lid van die gehoor het gevoel dit was een van vele gevalle waar Zuma agter sy party geskuil het.

Die vrou wat graag anoniem wou bly, het gevoel dat Zuma “praatjies gemaak het”.

“Nee wat, ek is nie beïndruk nie. Hy praatjies gemaak, maar wat het hy werklik gesê? Niks spesifieks nie. Dit was teleurstellend. Hy het agter die ANC weggekruip,” het sy gesê.

Nog ʼn vrou, wat ook anonimiteit versoek het, het gesê dat sy positief aan die einde van apartheid was, maar sedertdien ontnugter is.

“Ek dink Zuma was baie oninspirerend en vervelig. Ek vertrou hom nie want hy is vol korrupsie,” het sy gesê.

“Die ANC het getoon dat dit nie met blanke Suid-Afrikaners wil saamwerk nie. Hulle het hoogs opgeleide en uitstekende Suid-Afrikaners uitgesluit.”

Zuma is gebraai oor ʼn verskeidenheid kwessies vanaf misdaad tot Suid-Afrika se hantering van die die Zimbabwekrisis.

Hy het toegegee dat misdaad in Suid-Afrika ʼn probleem bly en het meer “radikale wette” voorgestel om dit aan te spreek.

Anne Klein, ʼn lid van die groot gehoor – sommiges was gretig, ander versigtig, mar almal het fyn geluister na die man wat moontlik “Suid-Afrika se volgende president mag word – het gesê dat sy meesal deur Zuma beïndruk is.

“Hy lyk baie intelligent en hy weet waarvan hy praat.”

Nog ʼn man wat die forum bygewoon het en homself as rabbi Klein geïdentifiseer het, het gesê dat die bui in die Joodse gemeenskap “terneergedruk” was met die kragkrisis en die onlangse moord op ʼn Joodse vrou in Balfourpark.

Maar hy het gevoel dat Zuma se toespraak mense “opgebeur” het en hulle meer optimisties gestem het.

Hy meen dat vele Jode Suid-Afrika verlaat, hoofsaaklik weens misdaad.

Toe hy gevra is oor toenemende emigrasie, het Zuma geantwoord: “Ons (Suid-Afrikaners) het getoon dat ons in staat is om probleme op te los.”

Hy het gesê dat kwessies wat veroorsaak dat mense die land verlaat, aangespreek behoort te word en mee gehandel behoort te word.

Regstellende aksie was ʼn ander saak wat meer betrokkenheid en bespreking nodig het, het hy gesê.

Op ʼn vraag hoe lank dit afgedwing gaan word, het Zuma gesê hy dink dat daar nog nie genoeg tyd was om die saak te “hanteer” nie.

Hy het gesê dat “sekere mense” eeue lank ontmagtig is.

“Hoe lank het ontmagtiging geduur… ek weet nie. Hoe lank sal bemagtiging neem… ek weet nie.”

Hy het gesê die kwessie was hoe om die saak te hanteer op ʼn manier wat nie die persepsie skep dat ander deur regstellende aksie ontmagtig word nie.

Nog ʼn luisteraar, Cecil Kramer, was nie beïndruk deur Zuma se toespraak nie maar het die antwoorde op soms ongemaklike vrae verwelkom.

“Sy toespraak was swak. Ooglopend het hy dit nie self geskryf nie en waarskynlik het hy dit vir die eerste keer gesien.

“Maar sy antwoorde op vrae was goed. Ek dink hy was nogal uitgeslape. Nie wonderlik nie, maar dit was nie sleg nie. En die hoofrabbi was uitstekend,” het hy gesê.

Goldstein het ʼn beroep op Zuma gedoen om “ʼn regering van medelye” te lei, sou hy tydens die algemene verkiesing in 2009 tot president verkies word.

ʼn Regering van medelye, het hy gesê, sou die “gewig en verantwoordelikheid” daarvan om die lewens van 45 miljoen Suid-Afrikaners in hul hande te hou, besef.

сколько носят брекетыпрокурор Фильчаков