Zuma-bruilof ‘uit Donker Eeue’

Die leier van die Christelike Demokratiese Party het president Jacob Zuma se tradisionele troue as ‘n “reuse-stap terug na die Donker Eeue” beskryf.

Die jongste huwelik van pres. Jacob Zuma met ‘n vrou by wie hy glo reeds drie kinders verwek het, en die kommerwekkende terugkeer na voorvader-aanbidding soos met die voorgenome rituele slagting van beeste by die 2010 Wêreldbeker-sokkerstadions onder die dekmantel van “tradisie” neem Suid-Afrika met rasse skrede terug na die Donker Eeue, sê ds. Theunis Botha. Leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP) en waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA).

”Dit is ‘Afrikatradisies’ soos hierdie wat Afrika geteister en in die greep van bygeloof en armoede vasgevang gehou het, en nie kolonialisme soos sommiges beweer nie. Min is nog na onafhanklikwording bereik wat nie danksy aalmoese van veral die Weste bereik is nie.

“Die vryheid wat deur sogenaamde bevryders voorgehou word, het bloot ontaard in ‘n ‘vryheid’ waar die elite hulself verryk het en banale lewensstyle aangeneem het. Intussen het die armes die armstes van die armes geword.

“Suid-Afrika word danksy mislukte regerings en magsugtiges ten noorde van die landsgrense oorstroom deur onwettige immigrante en vlugtelinge, wat so onmoontlike druk op Afrika se mees gevorderde infrastruktuur plaas.

“Dit is tyd dat Suid-Afrikaners wakker skrik en besef dat hul, hul toekoms op die spel plaas deur dit aan die huidige regering toe te vertrou.

“Afrika en veral Suid Afrika hoef nie te misluk nie.

“Wat die voorvaderaanbiddingspraktyke betref, moet kerke hul swye opskort. Politieke partye wat hulle hieroor uitspreek, terwyl kerke dawerend swyg, word in die proses maklik en onverdiend as anti-swart en rassities getipeer.“

“Kerke het ‘n verantwoordelikheid om voorvaderaanbidding aan te spreek,” het Botha gesê.

Zuma het Maandag tydens ‘n tradisionele huwelikseremonie met sy vyfde vrou, Thobeka Madiba, getrou.

Die president se ander vroue sluit in Sizakele Khumalo – met wie hy in 1973 getrou het – asook Nompumelelo MaNtuli-Zuma.

Hy was voorheen wettig getroud met Kate Zuma. Sy het in 2000 gesterf. Hy was ook getroud met Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake. Hulle is egter in 1998 geskei.

Zuma is die pa van 18 kinders.

Hy is glo ook verloof aan Gloria Bongi Ngema van Durban.

 

promoted postsОлександр Фільчаков прокурор