Aurora se direkteure voor vir bedrog

‘n Eis van R1,7 miljard teen die insolvente mynmaatskappy, Aurora Empowerment Systems gaan vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria voort.

Die likwadateurs hou onder andere vir oudpresident Nelson Mandela se kleinseun, Zondwa Mandela en president Jacob Zuma se neef, Khulubuse Zuma aanspreeklik vir die beweerde bedrog wat by Aurora plaasgevind het.

Die direkteure van Aurora gaan na verwagting om uitstel vra, het RSG berig.

Die beskuldigdes doen alles in hul vermoë om die twee-en-‘n-half-jaar lange saak te vertraag en die reg te dwarsboom.

Die maatskappy is in Oktober 2011 gelikwideer en daarvan beskuldig dat myn-infrastruktuur gestroop en verkoop is, wat tot duisende werksverliese gelei het.

Orkney-myn brand

‘n Brand het Woensdag by die Aurora Empowerment Systems’ Orkney Myn, wat deur Nelson Mandela se kleinseun Zondwa Mandela bestuur word, uitgebreek, het die maatskappy gesê.

Die maatskappy het Donderdag in ‘n verklaring gesê dat “alle personeellede veilig ontruim is na die sistematiese uitvoering van die myn se noodprosedure.”

Die departement van minerale hulpbronne (DMR) is in kennis gestel en het onmiddellik gereageer.

“DMR het saam met die myn se bestuur gewerk om die situasie te evalueer en het ‘n plan van aksie in werking gestel.”

“Orkney se mynreddingsdiens is uitgeroep en die nag- en dagskof van die Nommer 4 skag is afgestel weens veiligheidsredes.”

“Die brand behoort deur die loop van die dag geblus te word.”

“Ons kan bevestig dat niemand dood of ernstig beseer is nie. Ons is baie dankbaar vir al die harde werk en innoverende denke van almal wat betrokke was. Hierdie is die uitkoms waarna ons strewe in elke noodgeval,” het Dawid Stander, hoofbestuurder van Aurora se goudmynwerke gesê.

Die presiese oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

дизайн прихожей освещениетопкарго