Zimbabwe se MDC verwerp tweede ronde

 

Image

Zim-vroue by ‘n perskonferensie

Bronne binne die Zimbabwiese verkiesingskommissie meen dat Morgan Tsvangirai van die Beweging vir Demokratiese Verandering tussen 48% en 50% van die stemme in die presidentsverkiesing op hom verenig het. Ander bronne beweer dat Tsvangirai 47% van die stemme verkry het en Mugabe 43%.

Omdat Tsvangirai nie ’n volstrekte meerderheid bereik het nie, sou dit beteken dat ’n opvolgverkiesing tussen Tsvangirai en Mugabe gehou moet word.

Die MDC het egter die gedagte van ’n opvolgverkiesing om die presidentskap verwerp. In Johannesburg het ’n woordvoerder van die opposisieparty, George Sibotshiwe, herhaal dat sy party nie aan ’n opvolgverkiesing sou deelneem nie aangesien slegs verkiesingsbedrog Tsvangirai van ’n volstrekte oorwinning kon beroof.

Volgens Sibotshiwe was daar geen waarborg dat Mugabe die uitslae van ’n opvolgverkiesing sou aanvaar nie aangesien hy nie die huidige uitslae wil aanvaar nie.

Vanuit die ZANU PF-kamp het die minister van justisie, Patrick Chinamasa, geweier om op die moontlike uitslag van die presidentsverkiesing kommentaar te lewer.

“Ek is nie bewus van so ’n syfer nie. Ek was gister by die voorsitter van die verkiesingskommissie, regter George Chweshe, en hy het steeds gewag op uitslae van verskillende kiesafdelings. Ek het sekerlik geen idée waar daardie syfers vandaan kom nie.”

Die president van Liberië, Ellen Johson Shirleaf, het gewaarsku dat die gevaar bestaan dat die konflik na buurlande in Suider-Afrika kan oorspoel. Sy het ’n beroep op Afrikaleiers gedoen om te verseker dat die uitslae die wil van Zimbabwiërs weerspieël.

Shirleaf het die leiers daarop attent gemaak dat Liberië se burgeroorloë tydens 1989-2003 die dood van 200 000 mense veroorsaak het, weens die “onderdrukking van die volkswil en -keuse.”

“Daarom is ek een van daardie Afrikaleiers wat aan ons leiers en ons kollegas sê, dis tyd om iets oor Zimbabwe te doen,” het Shirleaf in New York gesê.

воздушный компрессор промышленныйФильчаков прокуратура харьков