Yahoo! se aandeelprys het gister met vyftien persent gedaal en sommige aandeelhouers is onsteld hieroor. Twee van die grootste aandeelhouers het onlangs aan die New York Times gesê dat Microsoft se prys van $33 per aandeel min of meer reg was en dat hulle bereid was om te verkoop, maar dat die raad van Yahoo! die aanbod verwerp het.
Sommige ontleders meen dat Microsoft tog uiteindelik daarin sal slaag om die internetmaatskappy te koop aangesien hy nodig het om 'n internetstrategie teen die heersende speler op die web, Google, te ontwikkel. Die mark vir internetadvertensies is besig om snel te groei en Yahoo! se kliëntebasis op die net verteenwoordig 'n aanloklike manier vir Microsoft om daaruit munt te slaan.

Die hoof van die internetmaatskappy Yahoo!, Jerry Yang, het nou 'n toeskietliker houding jeens Microsoft ingeneem, nadat die programmatuurreus oor die naweek sy aanbod vir Yahoo! teruggetrek het.