Die geskatte jaartal vir die wit meerderheid in die VSA om te verdwyn is met agt jaar teruggesit – na 2050 – omdat die resessie en ‘n strenger immigrasiebeleid die invloei van buitelanders na Amerika effens verstadig het.
Die Amerikaanse sensusburo het Woensdag ‘n hersiene skatting uitgebring van verlede jaar se beraming dat wit kinders teen 2023 ‘n minderheid sal wees en die wit bevolking in sy geheel teen 2042.
Daar is vandag 308 miljoen mense in die VSA, tweederdes van hulle nie-Latynse blankes.
Teen 2050 sal die totale bevolking na 399 styg en volgens nuwe projeksies sal blankes dan 49,9% van die bevolking wees. Swartes sal 12,2% wees, feitlik onveranderd van die huidige persentasie.
Latyns-Amerikaners, wat tans 15% van die land se mense uitmaak. sal teen 2050 na 28% styg.
Asiate sal van 4,4% na 6% toeneem.
Die geboortesyfer van minderhede sal ook verstadig en eers in 2031 sal wit geboortes deur anderskleuriges verbygesteek word.
Diegene ouer as 85 en ouer gaan teen 2050 verdriedubbel na 18,6 miljoen.
Die sensusburo waarsku egter dat ‘n hele aantal faktore die vooruitskattings nog kan beïnvloed. Omstandighede wat ekonomiese en kulturele faktore insluit asook natuurrampe en immigrasiebeleid, kan ‘n rol speel.
Indien die VSA ‘n beleid van “zero-immigrasie” volg, sal blankes tot in 2050 die meerderheid wees, naamlik 58% van die bevolking. In daardie geval sal die Latyns-Amerikaanse bevolking na 21% toeneem vanweë ‘n hoër geboortesyfer en jonger bevolking.
