Hoogspanning ter see

Nee, nie nog ‘n seerowervoorval nie.

Met windparke in die Noordsee word al meer en meer besef dat ‘n behoorlike windkragopwekking ‘n beduidende aantal groot windparke ter see gaan vereis, en dat dit weer tot ‘n behoorlike hoogspanningsnetwerk ter see aanleiding moet gee.

Die eerste samesprekings vind volgende maand plaas, maar volgens berigte moet die plan self nog gemaak word.

Enkele kabels is reeds gelê, maar is tot dusver die gevolg van bilaterale samewerking, soos die kabel tussen Nederland en Noorweë, asook tussen Noorweë en Brittanje.

Nou moet nege lande wat aan die Noordsee grens koppe bymekaar sit.

Dat Noorweë reeds per kabel met lande suid daarvan verbind is, het te make met seisoenale opwekking en gebruik. Wanneer die ys smelt, het Noorweë ‘n groter aanbod aan hidro-elektriese krag as sy eie verbruik, terwyl lande in die suide weer in die winters elektrisiteit van gasturbines en ander fosielaandrywing, of selfs kernkragsentales in die teenoorgestelde rigting onderdeur die Noordsee kan laat loop.

Groot windparke ter see vergemaklik die proses om krag beskikbaar te hê om te laat vloei na waar dit benodig word, en Nederland sien vir homself ‘n beduidende rol as “hub” hiermee. Maar dan moet al die windparke in die Noordsee aan een netwerk gekoppel word.

Van hierdie “krageiland” sal nie net die opwekking en geleiding van windenergie beheer word nie, maar ook krag wat deur gety-opwekkers opgewek gaan word.

Uiteindelik, so word gehoop, sal genoeg krag beskikbaar wees om ook aan Oos-Europa te voorsien.

Dit laat die vermoede ontstaan dat die bekendmaking van inligting oor hierdie planne bedoel is om saam te val met kommer oor die houvas wat Rusland via gasvoorsiening op voormalige Sowjet-republieke en Oos-blok-satellietlande het. ‘n Krisis het juis pas weer ontstaan toe Rusland en Wit-Rusland haaks geraak het, wat weer moontlik ‘n invloed op die huidige styging van ru-oliepryse het.

Die noordsee-hoogspanningsplanne is egter nog ietwat in die verskiet. Waar twee Nederlandse windplase ter see nou saam sowat 2000 Megawatt opwek, word die teiken van 6 000 teen 2020 gestel.

Ook die naasliggende België is besig om windparke ter see op te rig. Die jongste planne is van die firma Electrawinds wat op die Bank Zonder naam, sowat 37 kilometer see in op te rig. Hierdie projek, Electrawinds se eerste ter see, sal na verwagting genoeg krag vir 200 000 huishoudings opwek. Ander projekte is ook in die proses van beplanning, met ‘n totaal van vier windparke wat eersdaags krag sal lewer.

Omgewingstudies toon boonop dat die oprigting alge aantrek, wat weer tot ‘n toename in visbevolkings lei.

As’t ware die vang van twee zoute harings met een windmole.

Onder die Britse projekte tel een, die Londen Array, onder die bekendstes. Hierdie beoogde projek aan die monding van die Teems, sal na verwagting ‘n Gigawatt kan opwek, genoeg om ‘n kwart van Londen se huishoudings te bedien.

 

какое пуско зарядное устройство выбратьФильчаков прокурор харьков