Oud-kmdt. Willem Ratte, ‘n held van die Bosoorlog, en nege van sy studente is gister op sy plaas in Balmoral in hegtenis geneem weens beweerde oortredings van die wapenwet. Volgens ‘n berig in Beeld word ‘n klag van “terrorisme” teen Ratte ondersoek.
Ratte het die afgelope paar jaar ‘n kadetkursus vir jong Afrikanerseuns met dwelm- of huislike probleme op Balmoral aangebied. Met die hulp van mnr. Jaap Kelder is ‘n sweisakademie op die plaas, wat ook ‘n konsentrasiekampkerkhof uit die Tweede Vryheidsoorlog en ‘n Volksmoordmuseum bevat, opgerig waar jongmense as vakmanne opgelei word.
Beeld, wie se inligting blykbaar van ‘n polisiebron afkomstig is, berig soos volg oor die sweisakademie:
“Daar word beweer mense word by die opslagplek in terrorisme opgelei, al word dit glo voorgehou as ’n plek waar hulle geleer word om sweiswerk te doen.
Benewens die wapens is daar ook op ou weermaguniforms en stewels beslag gelê.
’n Mens kan ’n Vierkleur op die plaas tussen Bronkhorstspruit en Witbank sien wapper as jy op die N4 verby ry.”
Blykbaar is 5 000 rondtes amunisie op die plaas gevind, maar van die wapens waarop beslag gelê is, is gelisensieerd. Daar is “onder meer” op ‘n R4-, twee jaggewere, haelgewere, voorlaaiers en rondtes ammunisie beslag gelê.
Ratte het in 2001 agt maande in die tronk deurgebring omdat hy na bewering by die militêre basis op Pomfret saam met tien ander probeer inbreek het.
Vriende van Ratte meen dat hy die afgelope paar jaar baie pessimisties oor die politiek was en hom eenkant gehou het, met sy maatskaplike werk onder tienerseuns met probleme as hoofaktiwiteit. Sy inhegtenisname op klagtes van “terrorisme” word met ongeloof begroet.
‘n Oud-weermagkollega van Ratte het dit as ‘n “propaganda-oefening deur die ANC-bewind” bestempel. “Willem Ratte is intelligent en was reeds in die tronk. Dat hy hom by onwettige bedrywighede sou inlaat, kan ek skaars glo. Die gedagte dat dit ‘n oortreding is om ou weermaguniforms en stewels, asook ‘n vierkleur op jou plaas aan te hou, is eenvoudig verregaande.”
