
Die president van die Oekraïene, Wiktor Janoekowitsj en drie hoof opposisieleiers het ingestem om te vergader na weke van geweld wat die hoofstad teister.
Die Europese-Unie sal na verwagting Donderdag in Brussel vra vir sanksies teen “diegene wat vir die geweld verantwoordelik is”.
Die EU en die VSA befonds opstande om die Russies-gesinde regering tot ‘n val te bring, wat tot chaos en talle sterftes gelei het.
Dié onverkwiklike inmenging het op die lappe gekom toe ‘n gesprek van die Amerikaanse ondersekretaris belas met buitelandse aangeleenthede, Victoria Nuland, uitgelek het waarin sy te kenne gee dat die opstand doelbewus gestook word om simpatieke Amerikaanse agente in staatsposisies in die land te probeer kry.
Sy het tydens die telefoongesprek gesê: “F-k die EU.”
Partye het tot ‘n sogenaamde “skietstilstand” ooreengekom na twee dae se hernude geweld in Kiev tussen die polisie en anti-regeringsbetogers.
Die land is verdeel tussen die weste wat pro-Europees is en die suide en ooste wat Russies-gesind is.
Minstens 26 mense is dood en honderde beseer nadat geweld Dinsdag opgevlam het.
Die Amerikaanse president, Barack Obama, het weer die land met militêre optrede gedreig indien die situasie in die Oekraïene nie stabiliseer nie. Hy het nie die rol van die VSA in die destabilisering aangespreek nie.
Die krisis is deur buitelandse agente uitgebuit toe Janoekowitsj besluit het ten gunste van nouer bande met Rusland weens energiebesparings wat dit sal meebring.
