Pogings van die ANC om debat rondom die omstrede Wetsontwerp op Regspraktisyns in die parlement te vermy, is ‘n bewys daarvan dat die wetsontwerp bloot ‘n rookskerm van die ANC is om die regsprofessie te transformeer tot ANC-beheer, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling.
Die wetsontwerp het dit ten doel om ’n enkele landwye regsliggaam tot stand te bring om die bestaande prokureursordes en balierade te vervang.
Adv. Alberts sê benewens die feit dat dit prokureurs en advokate se grondwetlike regte van vryheid van assosiasie en die eiendomsregte van bestaande prokureursordes en balierade tot niet sal maak, is dit ‘n kwalik verbloemde poging van die ANC om groter beheer te verkry oor die regsberoep.
Hy sê die huidige stelsel van prokureursordes en balierade is oor eeue gevestig en dien die belange van die publiek goed, nieteenstaande die hoë kostes in hoër howe.
“Die VF Plus is gekant teen die wetsontwerp en beskou dit as deel van die ANC se oorhoofse transformasie-poging om beheer oor die regsprofessie te verkry.
“Indien die ANC ernstig was oor die verbetering van toegang tot regshulp, moes hy ‘n algemene regsfonds gestig het wat almal tot die vlak van middelklas kan finansier in ernstige sake soos kriminele sake en groot siviele eise.
“Indien die wetsontwerp deurgevoer word, sal dit sleg inwerk op die regbank van Suid-Afrika en sal dit tot nadeel wees van al die land se mense,” sê adv. Alberts.
