Die regering wil hidrouliese breking as ’n “beheerde bedrywigheid” klassifiseer ingevolge die Nasionale Waterwet.
’n Kennisgewing van dié voorneme is in die Staatskoerant gepubliseer, het Edna Molewa, minister van waterwese en omgewingsake, Dinsdag in Pretoria gesê.
Dit beteken dat hidrouliese breking ’n “watergebruik is en dus ’n watergebruikslisensie vereis”.
Die kennisgewing is op 23 Augustus gepubliseer en 60 dae word vir openbare kommentaar toegelaat.
Molewa sê objektiwiteit is oor hidrobreking nodig. “Ek wil so objektief moontlik bly ten einde die beste meganisme te vind om die land vorentoe te neem sonder dat ons waterbronne beskadig word.
“Ek wil hê wat die beste is vir Suid-Afrika, veral vir ons waterbronne en omgewingsake.”
Molewa sê “alle voorsorgmaatreëls word getref om te verseker dat die moontlike uitwerking van hidrobreking op ons water versigtig, versigtig, bestuur en beperk word.”
Die kabinet het verlede jaar die moratorium op aansoeke om eksplorasie-lisensies vir skaliegas deur middel van hidrobreking opgehef. Eksplorasie in die Karoo sal moontlik reeds voor die 2014-verkiesing gemagtig word, het dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, in Augustus gesê.
Die Alliance Against Fracking in SA meen wetgewing is onvoldoende om die bedryf te reguleer.
Die Treasure Karoo Action Group sê die regering maak grootliks staat op navorsing wat in opdrag van die departement van minerale bronne gedoen is en dit skiet te kort. – Sapa
