Vulkaan dreig in DRK

'n Groot vulkaniese uitbarsting is op die punt om plaas te vind in die DRK en kan meer as 'n halfmiljoen mense bedreig.

Wetenskaplikes het Donderdag gesê die twee vulkaniese pieke van Nyiragongo en Nyamulagira in die ooste van die land toon intense vulkaniese aktiwiteit, met aardskokke, lawapoele en stoompluime teen die blou lug.

Die uitbarsting kan vandag, more of enige ander tys plaasvind, het Dieudonne Wafula, hoof van Goma se Vulkaniese Observatorium, gesê.

Die Nyiragongokrater is 18 kilometers noord van die Kivumeer waar Goma ook geleë is. Dit is teenaan die grens van Rwanda en benewens die mense van Goma wat bedreig word deur die vulkaan, is daar ook Gisyeni in Rwanda wat geraak kan word.

Inwoners naaste aan die Nyiragongopiek het alreeds vertrek omdat hulle dink die vulkaan het reeds tot uitbarsting gekom. Wafula sê die Rooikruis en regeringsagentskappe maak voorbereidings, maar die land se infrastruktuur is gehawend.

Nyiragongo is gelys as een van die wêreld se agt mees gevaarlike vulkane en sy lawavloeispoed word bereken op meer as 40km per uur. Die vulkaan het in 2002 uitgebars en 'n vyfde van Goma se residensiële buurte vernietig. 'n Honderd mense is toe gedood in lawastortings van meer as 3 meter diep.

Die ander piek, Nyamulagira, het in dieselfde jaar tot uitbarsting gekom en lawa 91 meter hoog die lug ingeblaas, maar niemand is beseer nie.
купить ветровку для девочкилобановский александр игоревич харьков