Amerika se minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, het Woensdag in Pakistan bekendgemaak dat Amerika sowat $125 miljoen aan die land sal skenk om hulle met hulle elektrisiteitstoevoer by te staan.
“Die fondse sal gebruik word om sekere fasiliteite te verbeter, pompe te herstel en effektiewe elektrisiteitstoevoer te verseker,” het Clinton aan die media gesê.
Pakistan staar ‘n erge krag tekort in die gesig weens die feit dat hulle slegs 80% van hulle elektrisiteit self kan voorsien.
Hierdie skenking kom nadat Amerika in Augustus beloof om Pakistan by te staan tydens hierdie moeilike tyd.
‘n Verwoestende ontploffing het Woensdag ‘n besige markplein in Pesghawar, Pakistan tot stilstand geruk, het die polisie gesê.
Swaar rookwolke het oor die mark gehang kort nadat die ontploffing plaasgevind het en verskeie persone beseer is. Hierdie aanval kom slegs etlike ure nadat Hillary Clinton, Amerika se minister van buitelandse sake, in Islamabad aangekom het vir gesprekke met verskeie politieke figure.
“Ek kan wel bevestig dat daar ‘n ontploffing was. Die polisie is op die toneel. Tot dusver is 10 mense dood en 62 beseer in die voorval,” het Anwar Shah, polisiewoordvoerder, gesê.
