Hulle het klippe en bakstene oor die muur wat die VN-kantore in die provinsiale hoofstad, Goma omring, gegooi. Woordvoerder Sylvie van den Wildenberg sê motors is beskadig en vensters is gebreek.
Mense in die oostelike Kongo is woedend omdat die VN se vredesmag van 17 000 man, nie instaat is om hulle teen rebelle-aanvalle, net sowat 40 kilometer noord van die stad, te beskerm nie.
Derduisende burgerlikes het uit hulle huise gevlug. Honderde soldate het hulle Maandag in tenks, jeeps, trokke en te voet aan die front onttrek, in wat beskou word as 'n gedwonge aftog van regeringsmagte wat deur vegters van die renegaatgeneraal, Laurent Nkunda, aangeval word.
