Aaklige week vir lugvaart in SA

Vier vliegtuie het sedert Vrydag neergestort regoor die land, met die mees onlangse ongeluk wat Sondagmiddag plaasgevind het.

‘n Ligte vliegtuig het op ‘n residensiële eiendom naby Grand Central Lughawe in Midrand neergestort.

Eienaars van die huis het ‘n groot knal gehoor toe die vliegtuig in ‘n boom geland het sowat vyf meter van hulle af, het Netcare 911 se Chris Botha gesê.

Die vlieënier is ernstig beseer.

Saterdag, is ‘n 23-jarige vlieënier dood toe sy ligte vliegtuig neergestort het op die lughawe in Port Elizabeth kort nadat hy opgestyg het.

In Richardsbaai, nog dieselfde dag, moes ‘n ligte vliegtuig ‘n noodlanding op die strand uitvoer.

Mike Patterson, NSRI Richardsbaai adjunk-stasiebevelvoerder, het gesê sy span is om 11:15 op Saterdagoggend uitgeroep na die strand.

Patterson het gesê dit blyk dat die skroef van die enkelmotorige ligte vliegtuig afgeval het tydens die vlug.

Vrydag, het ‘n mikrovliegtuig buite beheer geraak voordat dit op ‘n sportterrein in Randburg, Johannesburg geval het. Die persoon is dood verklaar op die toneel.

Indonesië stel veiligheid vir lugrederye uit

Indonesië se ministerie van vervoer het Donderdag gesê planne om volgende maand die veiligheidgradering aan te kondig van lugrederye wat in die land werksaam is, is tot Junie uitgestel, het Xinhua berig.

Die veiligheidsgraderings is daarop gemik om veiligheid binne die plaaslike lugvaarbedryf te verbeter, het ’n beampte gister gesê.

Die land se minister van vervoer, Ignatius Jonan, het gesê sy ministerie sou die lisensies van lugrederye wat nie aan spesifieke veiligheidstandaarde voldoen nie, summier opskort. Ander lugrederye sal daarna die geleentheid kry om maatskappye wat nié aan die vereistes voldoen nie, te vervang.

Jonan het die plan verlede maand aangekondig ná die neerstorting van ’n AirAsia-vliegtuig op 28 Desember in Indonesiese waters, en waarin al 162 passasiers gesterf het.

Nouer samewerking met die Indonesiese Nasionale Lugrederyvereniging (INACA) sou ook onderneem word om deursigtigheid in die werksaamhede en die finansiering van vliegtuie te verbeter, het die minister gesê.

Indonesië skenk ernstige aandag aan die veiligheidstandaard van lugvaart, aangesien verskeie vliegtuigongelukkie in die afgelope paar jaar daar plaasgevind het. Die Europese Unie het in 2007 ’n reisverbod ten opsigte van talle Indonesiese lugrederye uitgereik. Die verbod is twee jaar later weens ’n verbetering in veiligheid opgehef.

Indonesië, wat bestaan uit ’n groot eilandgroep met ‘n bevolking van meer as 238 000 000 en ‘n groeiende middelklas, is ‘n potensiële mark vir laekoste-lugrederye, met die regering wat vlugroetes wil uitbrei om die meer as 17 500 eilande deur middel van lugvervoer met mekaar te verbind.