Die Belgiese premier, Herman van Rompuy, word die eerste president van die Europese Unie. Die 27 EU-leiers het gisteraand op ’n werkdinee in Brussel baie gou eens geword oor sy benoeming.
Van Rompuy (62), ’n ietwat siniese intellektueel en die skrywer van haikoes (’n soort Japanse gedig in bepaalde versvorm), het in Desember verlede jaar Belgiese premier geword nadat Yves Leterme bedank het as gevolg van ’n bankskandaal wat verband gehou het met die destydse finansiële krisis. Van Rompuy, ’n Christendemokraat, is ’n Vlaming wat in Brussel gebore is. Hy is getroud en het vier kinders.
Die vernaamste struikelblok vir sy benoeming was die verset van die Britse premier, Gordon Brown, wat Tony Blair in die nuwe baan wou hê. Die Britte het hul teenkanting laat vaar toe Catherine Ashton, Euro-kommissaris vir handel, benoem is tot “hoë verteenwoordiger vir die buitelandse sake van die EU”, ’n soort Europese minister van buitelandse sake.
Van Rompuy, wat as Belg vloeiend Frans kan praat, is gesteun deur Duitsland en Frankryk. Daar word blykbaar ook gevoel dat iemand wat die ingewikkelde België aanmekaar kan hou, ook goed kan vaar in die nog meer ingewikkelde Europa.
Die naam van die Nederlandse premier, Jan-Peter Balkenende, is ook dikwels as moontlike president genoem. Maar wat teen hom getel het, was dat hy premier is van ’n land wat die Europese grondwet in ’n referendum verwerp het, en wat bowendien die oorlog in Irak gesteun het. Hy word beskou as pro-Amerikaans.
