‘n Vermeende renosterstroper is doodgeskiet en nog een gewond tydens ‘n skietery met veldwagters van die Nasionale Krugerwildtuin.
‘n Derde vermeende wildstroper is ook in hegtenis geneem. Die gewonde verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal.
Die polisie sê die voorval het naby die Vlakteplaaskamp in die noorde van die wildtuin voorgekom.
‘n Woordvoerder, Samuel Matsimbi, sê die verdagtes is met jaggewere en ammunisie betrap. Die verdagte verskyn vandag in die landdroshof op Makhado. – RSG
