‘n Sikloon saai verwoesting aan die Australiese ooskus, ‘n verskynsel wat volgens weerkundiges die kus elke tien jaar teister.
Miljoene dollar se skade is reeds aan geboue en infrastruktuur aangerig en vier mense het omgekom in die storm.
Spoorlyne na die noorde en suide van Sydney is afgesny en talle paaie in van Australië se grootste stede is onbegaanbaar weens verspoelings. Dakke op talle plekke is afgewaai met sikloonsterkte winde van tot 135 km/h.
Bome is ook ontwortel en kraglyne beskadig sodat verkeersligte nie werk nie. Pendelaars is gestrand weens openbare vervoerdienste wat vertraag of gekanselleer is en word aangeraai om spitstye te vermy.
Die Sydney-hawe moes sluit en ‘n plesierboot met meer as 2 500 passasiers kon nie aan wal kom nie.
Die weerdiens het gewaarsku dat ‘n tweede storm die kus noord van Sydney kan tref, met stormsterk winde van tot 100 km/h.
Dungog, ‘n dorp sowat 200 km noord van Sydney, is die ergste getref. ‘n Bejaarde vrou en twee mans, wat verdrink het in die vloed, is Dinsdag gevind.
Drie hospitale is sonder krag en moet kragopwekkers gebruik. Talle skole is ook gesluit.
