'n Christelike verpleegster van Weston-super-Mare in Engeland is geskors nadat sy aangebied het om vir 'n pasiënt se herstel te bid.
Gemeenskapsverpleegster, Caroline Petrie, 45, sê sy het tydens 'n tuisbesoek vir 'n bejaarde vrou gevra of sy vir haar kan bid. Die pasiënt het 'n klagte by die gesondheidstrust oor Mevrou Petrie, 'n Baptis, ingedien.
Sy is op 17 Desember, sonder salaris, geskors en sal volgende week die uitslag van haar dissiplinêre vergadering hoor.
Mevrou Petrie doen tuisbesoeke in Noord-Somerset, sê sy het vir die pasiënt gevra of sy 'n gebed wil hê, nadat sy die verbande op haar bene geruil het.
Die pasiënt, in haar sewentigs, het geweier. Mevrou Petrie hou vol dat sy die saak daar gelaat het.
Die siek vrou het die gesondheidstrust gekontak en Mevrou Petrie is deur haar seniors gedaag om te verduidelik.
“Die vrou het dit die volgende dag genoem aan die suster wat gekom het om haar verbande te ruil,” sê Mevrou Petrie. “Sy het gesê sy het geen aanstoot geneem nie maar was besorgd dat iemand anders dit wel sou doen.
“Ek is deur my bestuurder aangespreek. Sy het gesê: ‘Ek het 'n brief in die een hand en 'n voorvalvorm in die ander. Jy sal nie kan werk totdat ons die voorval ondersoek het nie.”
Mevrou Petrie sê sy het 'n Christen geword na haar ma se dood.
“My geloof het sterker geword en ek het besef dat God wonderlike dinge in my lewe doen.
Ek het gesien my pasiënte ly en omdat ek in die krag van gebed glo, het ek begin om hulle te vra of hulle wil hê ek moet vir hulle bid. Hulle was absoluut verheug.”
'n Segsman vir die Noord-Somerset Primêre Sorg Trust sê Caroline Petrie is geskors hangende 'n ondersoek in die aangeleentheid.
“Ons neem altyd vraagstukke wat deur ons pasiënte geopper word, baie ernstig op en ondersoek enige aangeleentheid van die aard baie sorgvuldig.
“Ons was nog altyd daarop bedag om respek te hê vir ons pasiënte se standpunte en sensitiwiteit asook dié van ons staf.”
