Londen se Luton-lughawe is Maandag ontruim en alle inkomende vlugte is opgeskort. Die hoofpad na die lughawe is ook gesluit nadat ’n “verdagte item” opgemerk is.
Die sluiting het erge verkeersopeenhopings op die M1 veroorsaak.
’n Woordvoerder van dié lughawe – die vyfde grootste in Brittanje – sê die drastiese maatreëls is geneem nadat die item gekry is. Duisende passasiers is ure lank verontrief, maar het glo “kalm” gebly volgens die BBC.
‘n Gekontrolleerde ontploffing is daarna gereël om 17:15. Owerhede sê die item was nie skadelik nie, maar “agterdogwekkend”.
“Dié besluit is saam met die polisie geneem om die veiligheid en sekuriteit van passasiers en personeellede te waarborg.”
Luton is die vierde grootste lughawe in Londen. In 2013 het ongeveer 9,7 miljoen passasiers dié lughawe gebruik.
