Van spaais en agente

SpioenHerrie lees die minister sê die inligtingswet is nodig want daar is soveel spaais en agente in die land wat dinge wil verander. En dit, sê die minister, is verkeerd en lelik.

“Pa, beteken dit die Skerpioene was lelike spaais omdat hulle die land probeer verander het van ‘n roofdierstaat na ‘n piesangrepubliek?”

Dit is te veel vir Herrie, en hy laai oudste in die kar, en ry na slim neef Herrie Spaai toe.

Neef Spaai se huis is so goed gekamoefleer, Herrie ry eers drie maal verby. Gelukkig onthou Herrie neef Spaai het eendag gesê sy klokkie is waar niemand ooit kyk nie, en kry dit toe in die watermeter se kassie.

Uiteindelik sit ons in die sitkamer, en Herrie stel sy vraag. Neef Spaai kyk oor sy skouers, loer gou agter die skilderye en onder die kussings, en fluister toe: “Julle vra na agente en spaais?”

“Ja,” seg Herrie, “Ek dog mens kan nou alles net Google. Niks nodig om geld te mors om spaais aan te hou nie. En vandag se kinders en jong mense maak in elk geval net soos hulle wil, dis geldmors om veranderingsagente aan te hou.”

“Dis nie die probleem nie,” fluiter neef Spaai. “Ons veranderingsagente is gewoonlik derdekolonners. Maar dis ‘n vreeslike geheim.”

“Nou hoe bedoel jy?”

“Maklik. Wie het ‘n studietoer na die wêreld se laaste ekonomies-kommunistiese paradys, Kuba, onderneem?”

Die lig gaan vir Herrie op. ‘n Mens het nie ‘n “H” in houtwerk nodig om daai een uit te pluis nie.

“En wie het ‘n studietoer onderneem om te gaan kyk hoe Bob sy grondhervorming gedoen het?” ‘n Mens het ook nie ‘n “W” in wiskunde nodig om daai sommetjie te maak nie.

“En wie het gesorg dat die weermag meer soos ‘n hospitaal met stukkende ambulanse as ‘n weermag lyk?” Sjoe, dan sit die vyand darem in hoë plekke.

“En wie het so baie skelms in die polisie aangestel? En faaier hulle nie as hulle uitgevang word dat hulle die armes se geld gesteel het, en so die land se plofbare klimaat opjaag nie?”

Oudste snap gou: “En ja, wie kies die ou krokke vir die Springbokspan?”

Herrie vang saam gees: “Ja, en Swaziland het g’n veranderingsagent in Suid-Afrika nodig om die staatshoof te inspireer om ook ‘n harem aan te skaf nie.”

“En hoe lank was dit nodig om Gapsa ook van die spoor af te kry, en sommer ‘n  vrot pampoen op die rugbyveld te rol? Net een deplooiment.”

Herrie en oudste is nou heel by. “Die belangrikste is natuurlik om nie paranoïes te word nie,” sê neef Spaai en hy loer gou weer oor elke skouer, “anders is mens vreeslik wantrouig. Dan begin mens aan sensoritis en tribunalitis ly.”

Onder die dekking van die grassnyer en die weed eater sluip Herrie en oudste terug na kar wat onder ‘n kamoefleernet weggesteek is. Na ‘n kwartier kry ons die kar. Terwyl Herrie terugry huis toe speel die rillings rugby in Herrie se nek.

“Pa, sal buitelandse agente nie dalk beter vir die land wees nie? Kyk net hoe goed het dit gegaan toe oom Sep die land onder Fifa se administrasie geplaas het. “

Herrie kyk in die truspieëltjie voor hy fluisterend antwoord…

игры для девочкамФильчаков Александр Васильевич