‘n Passasier is Donderdag op ’n lughawe in Philadelphia in hegtenis geneem nadat hy ’n bomdreigement op ’n vlug gemaak het en die vliegtuig na dié lughawe moes uitwyk.
‘n Woordvoerder van die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) het bevestig ’n man word aangehou.
Die vlug van US Airways was onderweg van LaGuardia in New York na Louisville in Kentucky, maar moes om veiligheidsredes na Philadelphia se internasionale lughawe uitwyk.
Dit het sonder voorval geland en die passasiers en bemanning het veilig in die lughawegebou aangekom.
Besonderhede oor die voorval was nie dadelik bekend nie, maar luidens ’n plaaslike nuusdiens het ’n manlike passasier ’n draad van sy vingers na sy kop gespan.
“Ons het nie tans enige inligting nie,” het die FBI-woordvoerder gesê. “Daar is ’n vliegtuig op die grond in Philadelphia. Al ons eenhede is teenwoordig.”
Amerikaanse veiligheidsdienste en lughawens is op ’n hoë veiligheidsgrondslag sedert ’n Nigeriese man op Kersdag glo probeer het om ’n bom op ’n vlug van Amsterdam na Detroit te laat ontplof.
Die toestel het glo nie reg gefunksioneer nie en die man is vinnig deur passasiers en die bemanning oorweldig.
