Die ANC-jeugliga het Dinsdag om verskoning gevra aan almal wat hy in die verlede verontreg en beledig het.
“Dit is belangrik dat ons op die spesiale geleentheid ’n openbare verskoning rig aan almal wat deur die organisasie verontreg en beledig is,” het Mzwandile Masina, tussentydse president en sameroeper van die liga se nasionale taakspan (NTT), gesê.
Masina het ’n toespraak gelewer op die 69ste herdenking van die jeugliga in Johannesburg.
“Die ANC bevind homself in die hof as gevolg van ons optrede. Onlangs het ons ’n saak verloor teen ’n joernalis van The Star, wat deur ons organisasie ’n dronkaard genoem is.”
Hy het gesê die jeugliga het nie geld om die joernalis te betaal nie, maar kan slegs ’n “opregte verskoning” aanbied.
Masina het ’n beroep op lede gedoen om nie “roekelose stellings” namens die jeugliga te maak nie. – Sapa
