Sandile Ngcobo, nuwe hoofregter, het Woensdag gewaarsku dat die regbank erg skade kan ly wanneer die uitvoerende gesag “onbeheerste kritiek” teenoor die regbank uitspreek. Hy het ’n gesamentlike sitting van die parlement toegespreek.
Pres. Jacob Zuma het die gesamentlike sitting byeengeroep om Ngcobo te verwelkom en van afgetrede hoofregter Pius Langa afskeid te neem.
“Spanning tussen die regering en die regbank is natuurlik en wenslik. Maar te veel spanning kan albei verhinder om hul pligte uit te voer. Net so kan onbeheerste kritiek van die uitvoerende gesag die publiek se vertroue in die regbank knou,” het Ngcobo gesê.
Ngcobo het soos Zuma, transformasie as die sentrale probleem uitgesonder. “Die regbank word steeds deur ’n minderheid oorheers.”
Adv. Ngoako Ramatlhodi, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, het ook transformasie benadruk en gesê swart mense moet meer gereeld kans kry om as regters waar te neem. “Afrikane in die besonder móét op die regbank aangestel word. ’n Kopskuif is nodig.”
Langa se afskeidsboodskap was ook ‘n pleidooi vir transformasie. “Lei die regbank. Onthou, ons is steeds in ’n oorgangsfase.”
