Frankryk sê jammer

Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se president, Oregan Hoskins, het Frankryk se verskoning oor die volksliedfiasko in Toulouse aanvaar.

“Ek aanvaar dat daar geen opsetlike bedoelings deur die Franse Rugby-unie was om die landslied te saboteer nie. Die saak is nou afgesluit,” het Hoskins gesê.

“Ek verstaan steeds nie hoe die kunstenaar in so ‘n posisie geplaas kon word, om so ‘n verskriklike weergawe van die volkslied te lewer nie. Dit is iets wat nooit in hierdie land toegelaat sal word nie.”

Pierre Camou, president van die Franse Rugby-unie het Saru om verskoning gevra, en  ook sy afkeer van die vertoning te kenne gegee.

Hy het egter benadruk dat die keuse deur die Suid-Afrikaanse ambassade gemaak is en dat die Franse rugby-unie slegs op hulle aanbeveling gereageer het.

Die ambassade het op hulle beurt die skuld op die Franse gepak en bygevoeg dat hulle tydens die wedstryd gekla het oor die vlag wat onderstebo was en dat die Franse niks daaran wou doen nie omdat die vlag reeds gehys was en die wedstryd begin het.

Alhoewel die Rastafariër voor die wedstryd ‘n repetisie gedoen het, sê Camou die swak vertoning was vir hom ‘n verrassing.

Camou het ook gesê hy begryp nie waarom die insident in ‘n diplomatieke herrie ontaard het nie. Frankryk se simbole word dikwels nie heeltemal reg weergegee nie, en niemand kla daaroor nie, het hy gesê. “Ek sou verkies het dat ons op rugby konsentreer.”

Die bestuurder van Frankryk se vyftiental, Jo Maso, sê die prosedure is om die betrokke ambassade te kontak vir ‘n aanbeveling en hulle het in hierdie geval ook so gemaak.

“Ons is nie kenners nie. Ons vat maar dié een wat aanbeveel word. Punt, dis al.”

Die ambassade het egter ontken dat hulle  so ‘n aanbeveling gemaak het en gesê hulle het net  die sanger se naam en besonderhede deurgegee.

вопросы на полиграфе при поступлении в мвдОлександр Фільчаков прокурор