Seker die mees toepaslike naam wat Herrie in ‘n lang tyd vir iemand gesien het, is die van die burgemeester van Delhi waar die Statebondspele binnekort moet plaasvind.
En sake haper nog erg.
Die burgemeester, mnr. Dikshit, sê die Statebond hoef nie te komkommer nie. Hulle kan maar net kom. Alles sal reg wees en daar sal nie nog brûe inmekaar val nie, en al die kakkerlakke sal uit die baddens van die atletedorp wees.
Of mnr. Dikshit praat boel*&t en hy is in dik s&^%t, of hier kom ‘n ligte wonderwerkie.
Gewoonlik, skooltyd, as die onnie eers die rottang uit die kas haal voor hy nog begin kyk het of die klas hul leerwerk gedoen het, is daar in die klas gemompel hier kom diep *&#t. Sommiges het suiwerder Afrikaans, naamlik van *&%, gepraat.
Dit was maar moeilik om nie minstens kniediep in die *&% te wees nie. Herrie se skooltas was naderhand amper so groot soos Paris Hilton se reistas, en heelwat swaarder. Dit wou nie op die fietse se rooster pas nie, en het mens hom nog daarop vasgewoel gekry, het die rooster weggebuig. Herrie was dus gewoond om die tas voor op die fiets se dwarsyster (daai pyp wat dit van ‘n meisiefiets laat onderskei) te sit, met die helfte wat voor oor die handvatsel gesteek het.
Maar selfs dan moes nog kopgekrap word oor watter boeke die dag by die huis kan bly, want alles wou nie in die tas pas nie. Vir biologie alleen het ons drie boeke gebruik, die een groter en dikker as die ander, en dan nog ‘n plakboek waarin afgerolde notas gekom het. En die boek waarin die huiswerk gedoen moes word. Vir wiskunde was daar net soveel boeke, alles in Grieks geskryf (want wiskunde was en is vir Herrie Grieks).
En beplan soos mens wil, die boeke wat agterbly is juis die boeke wat die onnies daai dag wou gehad het ‘n mens moet saambring.
Dan is ‘n mens weer in dik &%$.
Herrie het dikwels gevoel ‘n mens beland darem heel onbillik in diep (*&.
Maar na 1994 was Herrie darem regtig onder vreemde omstandighede in diep &^%$t.
Die plaas met die jeugsentrum, Roodewal, is by Herrie se subdirektoraat geplaas. Terselfdertyd is ‘n horde ontslaande stakers van Botshabelo heraangestel, maar omdat daar reeds ander werkers in hul plek aangestel was, was daar nie werk vir die oues nie. Herrie kry toe ‘n klomp bome by die staatskewkery, en vra of die surplus-arbeiders nie op Roodewal by die atletiekbaan kan kom gate graaf vir die bome nie. So gesê, so gemaak.
Na ‘n week pleit die plaasbestuurder dat Herrie die spul laat onttrek. Hulle het nog nie ‘n halwe gat gegraaf nie, en nou begin die plaaswerkers ook kopsku raak vir werk.
En hulle het van sit op die grawe, die grawe se skepgedeeltes omgebuig! Herrie het nie eens geweet dis moontlik nie.
Herrie gaan graaf toe self. Kyk nie eens in die rigting van die grawers nie. Wil net wys wat die term “werk” beteken. Herrie graaf drie gate, voor sy hande te veel waterblase het. Die “werkers” het so half tien op Roodewal aangekom. Toe word eers gebrekvis. Na brekvis is dit teetyd, en kort hierna, etenstyd. Na ete word ‘n uiltjie geknip, toe word die grawe so bietjie heen en weer gesleep, en toe tee gedrink, en toe opgepak sodat hulle tsjailatyd (seker so half drie) weer in Botshabelo kan wees.
En toe is Herrie in dik *&%4. Herrie is verkla dat hy hulle gaan “optsjek” het.
So twee jaar gelede is die plaas as restitusieplaas aan ‘n gemeenskap “teruggegee.” Herrie het nog nie gaan kyk of die drie bome wat geplant is (in die gate wat Herrie gegraaf het) nog staan nie.
