Brigitte Weidlich, ‘n gebore Namibiër en deesdae ‘n vryskutjoernalis, het in 1989 in die musiekdepartement van ’n private radiostasie in München gewerk, het sy aan die Republikein vertel.
Op die geskiedkundige aand toe die aankondiging in Oos-Duitsland gemaak is dat grensposte na Wes-Berlyn oop is, was sy nie tuis nie en het gevolglik niks van die waterskeiding-aankondiging geweet nie.
“Die oggend van 10 November was ek op pad werk toe toe ek die nuus oor die radio hoor. By die werk aangekom, het die nuusredakteur vir een van die joernaliste gesê om onmiddellik Berlyn toe te gaan om die grootste storie sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog te dek.
Andreas, die joernalis, het dadelik ingestem, maar gesê hy het ’n assistent nodig. Ek het onmiddellik aangebied om saam te gaan, al het ek geen joernalistieke ondervinding gehad nie,” vertel Brigitte.
“Ons het die oggend van 11 November by Bahnhof Zoo in Wes-Berlyn aangekom. In daardie stadium was dit die enigste stasie vanwaar besoekers in Wes-Berlyn kon inkom.
“Ons opdrag was om so gou as moontlik by die Brandenburger Tor te kom. Die verkeer was druk en oral was die bekende Oos-Duitse Trabi-motors te sien. Dit het ons byna ‘n uur geneem om daar te kom.
“Die muur het nog gestaan en gewapende Oos-Duitse soldate het op die muur gestaan met die helfte van Berlyn se bevolking wat voor die muur saamgedrom het. Die atmosfeer was gespanne. Sommige mense het probeer om met die nors Oos-Duitse soldate te praat. ‘n Bejaarde vrou van Berlyn het met hulle gepraat en gesê: ’Sê vir jul base hierdie muur moet gaan.’ Hulle het nie spier verroer nie. Die vrou het nader gegaan en aan ‘n jong soldaat gesê: ’Jy is so jonk dat jy my seun kon wees. Hou jy daarvan dat families geskei bly, selfs ná wat op 9 November gebeur het? Hierdie muur moet gaan.’
“’n Jong meisie met ‘n bos rooi rose het daar aangekom en probeer om vir elke soldaat ‘n roos te gee. Die muur was te hoog vir haar om by te kom. ’n Paar jong mans het haar opgelig en sy het weer probeer. Die eerste twee of drie soldate het geweier om die roos te vat, maar een van hulle het. Groot applous het opgegaan en toe die ander soldate sien so ’n gebaar dra die goedkeuring van die skare weg, het hulle elkeen ook ‘n roos aanvaar.
“Sommige mense het begin skree: ‘Wir sind ein Volk’ (Ons is een volk).
“Amerika en Brittanje het sedert die einde van die oorlog verteenwoordigers in Berlyn gehad. Gedurende die oggend het die Britse militêre attaché in volle uniform daar aangekom, vergesel van ’n hele afvaardiging om die situasie te ondersoek.
“My kollega, Andreas, het gesê ons moet met hulle ’n onderhoud voer en wou weet hoe goed my Engels is. Ons het ons mediakaarte gewys en ek het die Britse generaal in Engels gevra vir ’n onderhoud. Hy het ingestem. Hy was duidelik verbaas dat iemand Engels met hom praat en het gevra waar ek Engels geleer het. Ek het gesê in Namibië en toe vra hy uit oor Namibië. Ongelukkig kan ek nie sy naam onthou nie. Hy het die gebeure as ’n unieke en geskiedkundige geleentheid beskryf wat fundamenteel die pad vir Europa vorentoe sou verander.
“’n Mens moet onthou dat selfone en die internet 25 jaar gelede nie bestaan het nie. Ons moes ’n telefoonhokkie kry om die radiostasie in München te skakel en verslag te doen. Andreas het regstreeks verslag gedoen en op die regte oomblik moes ek die knoppie op die bandopnemer druk. Dan het Andreas die telefoongehoorstuk oor die luidspreker van die bandmasjien gehou.
“Oos-Duitsers wat in Wes-Berlyn ingekom het, het ’verwelkomingsgeld’ van die federale regering gekry. Die handelsbanke is oorstroom en gevolglik het die banke stalletjies buite die banke geopen om mense te help en vir hulle hul geld te gee.
“Die Oos-Duitsers was oorweldig deur die verskeidenheid goedere wat hulle in Wes-Berlynse winkels aangetref het. Dit was asof hulle in ’n wonderwêreld was. Al was dit winter en die weer grys en oortrokke, was Wes-Berlyn daardie dag so oorweldigend lig, met groot helder advertensieborde en straatligte en winkelvertoonvensters vol kleur en lig. Dit was in skrille kontras met hoe grys en vaal dit in die ooste van die stad was.
“Berlyn se stadsraad het ook onmiddellik gratis ritte op treine en busse ingestel sodat mense vrylik kon rondbeweeg. In nog ’n stap wat baie gehelp het, is afgetrede bus- en trempersoneel weer in uniform geplaas en hulle het mense gehelp om by hul bestemmings uit te kom. Mense uit die ooste het nie geweet waar om wat in die weste te vind nie. Mense was in daardie dae so hulpvaardig, dit was ’n ongelooflike belewenis.
“Gedurende die dag het ons gehoor mense het elders in die stad begin om aan die muur te kap. Hulle het die bynaam ‘Mauerspecht’ (muur houtkappervoëls) gekry. Ons is daarheen en het gesien hoe jong mense besig was om te kap en vir hulle aandenkings van die muur te neem.
“Die Wes- en Oos-Duitse regering was ondertussen besig om te onderhandel om van die muur ontslae te raak, want die grensposte kon eenvoudig nie die druk hanteer van al die mense wat wou deurkom nie.
Die aand van 11 November het Andreas en ek na ’n sekere plek gegaan waar die Wes-Berlynse burgemeester, Walter Momper, by was en waar ‘n trekker en hyskraan begin het om die muur af te breek en dit fisies te verwyder.
“Die muur is in segmente gebou, en in segmente verwyder. Ek onthou dit was koud en Momper het ’n helder, rooi serp aangehad. Mense was saamgetrek om die verwydering van die muur te aanskou. Hulle het geskree en dit was baie emosioneel. Na die muursegment verwyder is, kon ons aan die oostekant ’n oop stuk grond sien waar polisie en soldate gestaan het. Berlyners het sjampanjeproppe geskiet en mense het gefluit en geskree en handegeklap, en sommige het van pure emosie gehuil. Toe die eerste mense van die ooste deurkom ná hulle hul dokumente aan die soldate getoon het, het hulle ’n byna heldeontvangs aan die westekant van die muur gekry.
“Die Sondagmiddag toe ons by Bahnhof Zoo was om na München terug te keer, het mense ons vertel dat die wêreldbekende Russiese tjellis, Mstislaw Rostropowitsj, met sy private vliegtuig in Berlyn geland het en met sy tjello by een van die plekke langs die muur begin tjello speel het. Dit was sy manier om te wys hoe gelukkig hy met die gebeure was,” vertel Brigitte.
Ambassadeur Hückmann onthou
Die Duitse ambassadeur in Namibië, mnr. Onno Hückmann, was ten tyde van hierdie geskiedkundige hoofstuk in Duitsland se geskiedenis, in Bonn by die Duitse ministerie van buitelandse sake se lessenaar gemoeid met Afrikasake.
“Die val van die muur en die opening van grense tussen Oos- en Wes-Duitsland het vir almal as verrassing gekom. Net soos die muur in 1961 byna oornag verrys het.”
