Ter nagedagtenis aan die NP

ImageDit is moeilik om vandag te verstaan hoe sentraal, hoe effektief, en hoe lank, die Nasionale Party politiek in Suid Afrika oorheers het.  Net so moeilik is dit om mense te kry wat vandag sou erken dat hulle vir die party gestem het, of wie vir die party gewerk het, of wat finansiele steun gegee het.

Dit is egter maklik om oordrewe standpunte oor die party in die pers te lees.‘n Bekende rubriekskrywer skryf onlangs in Beeld oor ‘n vorige leier van die Nasionale Party soos volg: “Die feit is dat Mugabe bloot ’n onaangename diktator is. Net soos Mussolini, P.W. Botha, Pol Pot, Augusto Pinochet en Sani Abacha was.”  Hoe Botha in dieselfde lysie tussen Pol Pot en Mussolini beland sal net Beeld se redaksie weet, hulle gee immers duime kolomspasie aan kommentators van die soort kaliber en ondersteun derhalwe die standpunt.

Ten spyte hiervan, was die Nasionale Party, soos Inus Aucamp en Johan Swanepoel in hulle boek "Einde van ‘n Groot Party" opmerk, ‘n party wat oorweldigend uit eerbare mense bestaan het.  Mense wat met eerlike bedoelings, opregte motiewe, en met dekades se harde werk, onvergoed gewerk het om armoedige toestande onder Afrikaners te verlig, om Afrikaans te bevorder, en om Afrikaners hulle selfrespek terug te gee na die verskrikking van die Anglo-Boereoorlog 1899-1902.

Wat het dan verkeerd gegaan?  Hoe kon die politieke party, met sy primêre missie as die opheffing van Afrikaners (‘n eerbare doel), so mistas en tekens van die tye so verkeerd lees? Soveel so dat die Party nie net op die kantlyn gerangeer is deur sy eie ondersteuners nie,  maar dat dit selfs deur sy eie verkose lede die doodskoot toegedien is?  En om vandag steeds die teiken te wees van ‘n re-evaluasie en herskrywing van geskiedenis met die doel om die party soortgelyk aan Mussolini se Fascisme te stel, en sy leiers, Verwoerd of Botha, gelyk aan Mussolini of Pol Pot?

Die oorsprong van die Nasionale Party kom vanuit die eerste dekades na die Anglo-Boereoorlog.  ‘n Verarmde, verslane en magtelose Boer het die party as ‘n meganisme gesien om dit te herstel wat in die oorlog verlore gegaan het. Afrikaners, veral Boere, was in die eerste dekades van die twintigste eeu net ‘n skadu van wat hulle in die Boererepublieke was.  Die republieke is tot voortreflike instellings opgebou oor drie geslagte, maar word met die ontdekking van goud en gevolglike migrasie die teiken van Britse Imperialiste. Die Britte vernietig die state in die Anglo-Boereoorlog wat ‘n generasie Boere van al hulle bates, families en kinders sou ontneem, en wat hulle verarm en eensaam, en sonder bates soos skole, banke, en besighede sou laat.  Die Boer in die 1902-1920 was ‘n brandarm en verwese mens in ‘n verskroeide landskap, sonder die simpatie van Europeërs of ander inwoners van die destydse Britse Empaaier.

Uit hierdie omstandighede moet die Nasionale Party se ontstaan as ‘n party wat Afrikanerbelange eerste stel verstaan word.  Dit is weliswaar die geval dat Boere en Afrikanerleiers (Louis Botha en Jan Smuts) leidende rolle in Unie van Suid Afrika gespeel het, en dat staatsbates wel deur hulle aangewend is om Afrikaners in die Unie ‘n helpende hand te gee – daarom het baie Afrikaners Smuts en Botha as helde gesien en hulle ondersteuning vir Smuts en Botha se visie van ‘n Verenigde Suid Afrika in die Britse Statebond was diep-gesetel selfs in die Vrystaat en die Transvaal, ten spyte van voortdurende bitterhede oor die oorlog.

Die Nasionaliste het egter ‘n ander visie gehad, wat verder as net Smuts en Botha se versoening gestrek het.  Nasionaliste wou nie net aan Afrikaners hulle eer teruggee nie, maar wou ook vir selfbeskikking vir die Afrikaner stry, in sy eie land, asof ‘n Boererepubliek weer die lig sou kon sien.  Die nasionalistiese impuls onder Afrikaners het reeds vroeg in die twintigste eeu uiting gekry in die totstandkoming van Afrikaanse instellings soos Helpmekaar, en het later beslag gekry in Afrikaansmediumuniversiteite (byvoorbeeld Potchefstroom) asook besighede soos Volkskas (wat gebou is met die pennies wat brandarm kaalvoet Afrikanerkinders gebring het om te spaar).  Dit is onder dié omstandighede dat Afrikaners kollektief besluit het om hulle taal en kultuur self te bevorder, dat dit edel is om mekaar te help, en dat samehorigheid resultate lewer. Hierdie impulse het ‘n plek gevind in die Nasionale Party, en in organisasies soos die Broederbond (deesdae die Afrikanerbond), wat nog altyd en nog steeds, vol eerbare mense is wat hulle beste probeer in moeilike omstandighede.  Met die oorwinning van die party in 1948, begin die party sy beleid formuleer rondom sy basiese missie.  Afrikaans word in die staatsdiens ingevoer, afsonderlike onwikkeling om Afrikaners self-beskikking in hulle eie gebiede te gee word ingestel, met die vooruitsig dat self-regerende swart state onafhanklikheid gaan kry.

Die beleid staan later bekend as apartheid.  Die gevolglike geskiedenis is goed bekend, en duur tot ongeveer 1990, toe die Nasionale Party erken dat dit onuitvoerbaar is, en dat ‘n nuwe weg gebaan moet word om Suid Afrika konstitusioneel te orden.  Gedurende die periode groei die ANC tot ‘n sterk swart nasionalistiese organisasie, word Nelson Mandela in die tronk gegooi, en vind die skietery by Sharpville en die Soweto-onluste plaas. Uiteindelik breek algemene onluste uit in die laat 1970s en dit duur onverpoos voort tot met kapitulasie in 1994.

En aan die begin van die een-en-twintigste eeu val die Nasionale Party uiteen na ‘n dekade van katastrofes vir die party.  Hoekom het die party so snel ondergegaan?  Hoekom het die idee dat Afrikaners mekaar help, ‘n basiese beginsel onderliggend aan die party se missie, so skielik en heeltemal onaanvaarbaar onder so baie Afrikaners geword?  Waarom het die Nasionale Party sy basiese missie so heeltemal en so vinnig versaak? Hoekom het die idee om Afrikaners te verteenwoordig of kollektief te help, skandalig geword, soos telkens geïmpliseer in rubrieke wat Afrikaanse koerante plaas, en dus aangemoedig?

Dat die Nasionale Party reeds vroeg na 1994 sy missie verander het, is bekend. In 1996 verklaar die party dat dit sy missie is om onder meer “’n gematigde, nie-rassige federale party” te wees wat hulle magsbasis onder “alle Suid-Afrikaners drasties” wil uitbrei.  Mens kan nie veel hiermee verkeerd vind nie, maar dit is tog intessant om op te merk hoe die party sy Afrikanerondersteuners feitlik reeds toe die rug gekeer het.  In ‘n onderhoud in 1996 verklaar ‘n bekende figuur in die party dat “As ons wil uitreik na swart ondersteuners, sal ons noodwendig hulle belange voorop moet stel”, soos gedokumenteer in Aucamp en Swanepoel se boek.  Met ander woorde, van die oorspronklike idee om Afrikaners te bemagtig het daar dadels gekom.  Die ANC, en die NP, gaan swart mense se belange vooropstel.  En miskien as gevolg van die nuwe missie, het die NP se ondersteuners, ontnugterd, die party begin verlaat om by die DA en die Vryheidsfront aan te sluit, om eerder aktief teen die ANC weerstand te bied.

Intussen het die Volkstaatraad hulle werksaamhede voortgesit, maar het skynbaar geen ondersteuning uit die Nasionale Party ontvang nie.  Die verslag van die raad, wat veronderstel was om megamismes vir self-beskikking aan die Nasionale Party se historiese ondersteuners voor te stel is deur Nelson Mandela geïgnoreer, terwyl die Nasionale Party skynbaar ongesteurd voortgegaan het om maniere te vind om ondersteuning onder enige ander groep behalwe Afrikaners te werf, en later, as die Nuwe Nasionale Party, in die bed saam met die ANC te klim.  ‘n Meer eerlose kapitulasie en versaking van die Nasionale Party se basiese missie kan moeilik voorgestel word.

Terwyl die finale woorde nog nie deur historici hieroor geskryf is nie, is dit ooglopend dat die Nasionale Party se ondersteuning onder wit Afrikaners begin afneem het toe die party weggeloop het van sy oorspronklike missie. Dit het die rede vir die Party se bestaan onder verdenking geplaas, en Nasionale Party ondersteuners wat eerstens teen die ANC gekant was, het oorgeloop DA toe, terwyl ondersteuners wat ‘n Afrikaner Party as noodsaaklik beskou om hulle belange te beskerm, oorgeloop het na die Vryheidsfront.

Wie van die twee groepe op die langer duur bevredig gaan word deur hulle keuse, sal die toekoms nog leer.

пародонтит лечение стоимостьАлександр Фильчаков