Die Ouditeur-Generaal behoort ‘n spesiale ondersoek na ‘n skandalige R22,6-miljoen se Sarafina-styl teaterproduksie waarvoor deur die departement van mensevestiging betaal is, te loods, sê die DA.
Die parlementêre antwoord deur minister Tokyo Sexwale het aangedui dat die teaterproduksie ‘n totaal van R22,569,656 oor drie produksiefases gekos het. Die onkoste was onder Sexwale se voorganger, Lindiwe Sisulu, aangegaan.
Die fondse is op 58 vertonings van die drama gespandeer, asook op die verwante produksie-, vertalings- en DVD-opnamekostes. Ook by dit ingesluit is onkoste wat verband hou met die skryf van die drama en “openbare mobilisasie.”
Dit is opmerklik dat hierdie uitgawe nog meer is as wat die departement van gesondheid in 1996 op die mislukte Sarafina 2- produksie uitgegee het. Dié sou, vir inflasie aangepas, R19-miljoen verlede jaar gekos het.
Die R22-miljoen het beduidend bygedra tot die enorme 195% oorskryding van die departement se advertensiebegroting vir 2008/9. Terwyl die departement se totale begroting vir bemarking en advertering R20,3-miljoen was, het dit uiteindelik ‘n totaal van R60-miljoen uitgegee.
Die departement sê hulle het die drama gestaak maar die R22-miljoen is reeds uitgemors.
