Taliban selfmoordbomplanters val Afghaanse hoofstad aan

Image

Taliban-vegters gister in Kaboel

Talibanmilitante het gister drie regeringsgeboue in die Afghaanse hoofstad met geweervuur en selfmoordbomme aangeval en ten minste 19 mense doodgemaak, terwyl hulle deur die stad terreur gesaai het.

'n Verdedigingswoordvoerder het gesê die weermag is ontplooi, terwyl ambulanse gehoor is wat mense na hospitale toe gejaag het en owerhede geskarrel het om een van die mees ambisieuse aanvalle nog op Kaboel af te weer.

'n Talibanwoordvoerder, Zabihullah Mujahid, het gesê 16 selfmoordaanvallers het die stad ingegaan om 'n vlaag aanvalle uit te voer.

"Die inligting wat ons sover gekry het van hospitale dui daarop dat 54 mense gewond is en 19 martelare gemaak is (dood is) in die aanvalle op Kaboel vandag," het die verdedigingsministerie se woordvoerder Abdullah Fahim gesê.

Afghaanse amptenare het gesê ten minste 7 militante is ook dood nadat hulle amper gelyktydige aanvalle op die direktoraatsgebou van die tronke en ministeries van justisie en onderwys geloods het.

Die aanvalle het plaasgevind kort voor 'n besoek van Richard Holstein, president Obama se nuut aangestelde gesant aan Pakistan en Afghanistan. Die aanvalle toon die uitdagings wat Amerikaanse en NAVO-soldate in die gesig staar om die Talibaninsurgente te stuit wat so blatant is om aanvalle in die hartjie van die stad uit te voer.

Getuies wat die aanval op die ministerie van justisie gesien het, wat naby die presidensiële paleis is, het gesê verskeie gewapende mans het by die gebou ingebars en op die veiligheidswagte begin skiet. Sommige van die mans het daarin geslaag om verskeie vloere op te gaan in die gebou en het sover as wat hulle gegaan het, geskiet.

Werknemers het hulleself toegesluit in kantore en ernstige skietgevegte het vir 'n paar ure lank voortgeduur terwyl veiligheidsmagte gesoek het na aanvallers wat verskuil was.

Vier selfmoordaanvallers is in die gebou doodgemaak, het die ministerie gesê. Ten minste een het plofstof om sy lyf gedra, het 'n getuie gesê.

"Ek het verskeie van hulle in die ministerie sien inhardloop ná 'n skietgeveg moet die polisiewagte by die ingang, reg langs die kombuis," het 'n kok, Juma Khan, gesê. "Een van hulle is deur die veiligheidswagte doodgeskiet. Drie van my kollegas is martelare gemaak. Ek het hulle liggame gesien," het hy gesê.

Terwyl die dramatiese aanval ontvou het, het twee selfmoordaanvallers die direktoraatsgebou vir tronke in die noorde van die stad getref.

"Ek het eers skote gehoor," het Mia Agha, 'n inwoner van 'n nabye huis, gesê. "Ek het gesien hoe 'n man van 18 of 20 jaar oud agter 'n voertuig geskuil het terwyl die polisie op hom geskiet het. Hy het 'n pistool gehad en het teruggeskiet."

"Op een stadium het hy 'n draad uit sy mou getrek en toe was daar 'n ontploffing met vuur en dik rook. Ná so 'n paar minute het nog 'n ontploffing by die ingang van die gebou plaasgevind."

Mnr. Agha het gesê hy het baie lyke en gewonde mense gesien. Die ministerie van binnelandse sake  se mediakantoor het gesê vier of vyf burgerlikes, asook 'n polisieman is dood.

Nog 'n selfmoordaanvaller is doodgeskiet voor die gebou van die onderwysministerie, het 'n amptenaar van die ministerie van binnelandse sake gesê. "Sy plofstof het afgegaan, maar geen beserings veroorsaak nie."

Die Talibanwoordvoerder Mujahid het gesê sommige van die selfmoordaanvallers wat na die stad gestuur is, wag nog op bevele.

трековые светильники екатеринбургФильчаков прокурор отзывы