Na raming het daar reeds tussen 4 en 6 miljoen Zimbabwiërs na Suid-Afrika getrek nadat hul land se ekonomie in duie gestort het weens “grondhervorming”. Elders in Afrika trek inwoners van Burkina Faso, een van die armste lande ter wêreld, na die Ivoorkus waar hulle op die kakaoplantasies werk.
Trekarbeiders van Nicaragua bou geboue in Costa Rica. Burgers van Paraguay werk op Argentynse plase. Nepalese word in Indiese myne aangewend. Sommiges spaar hul geld vir duurder reise na die ontwikkelde wêreld, maar ander kan slegs bekostig om van een arm land na ʼn volgende te trek. Met die ryk lande wat hul grense al strenger beheer, kan rondtrekkery binne die ontwikkelende wêreld net toeneem.
“Suid-suid-migrasie is nie net geweldig nie, dit bereik ook ʼn ander klas mens,” sê Patricia Weiss Fagen, ʼn navorser by Georgetown-universiteit in die VSA. “Diegene is baie, baie arm mense wat geld aan selfs armer mense stuur en hulle bereik dikwels baie landelike gebiede wat nie deur die meeste hulpgeld bereik word nie.”
Migrasie vanaf Haïti na die Dominikaanse republiek, die naburige staat op die Hispaniola-eiland, was histories omvangryk, langdurig en die oorsaak van konflik. Die Spaanssprekende Dominikane verwys steeds met woede na ʼn Haïtiaanse besetting wat in 1844 geëindig het. Die Kreoolssprekende Haïtiane verwys na 1937 toe ʼn Dominikaanse massamoord langs die grens die lewens van tienduisende Haïtiane geëis het.
Seisoenwerkers vanuit Haïti het bykans ʼn eeu gelede al aangekom om op die suikerplantasies te werk. Maar vele van hulle werk nou heel jaar deur op plase en stedelike boupersele wat hul sigbaarheid, asook die kanse op konflik, verhoog het. Skattings wissel, maar Dominikaanse amptenare stel die aantal Haïtiese swerwers op een miljoen, oftewel 11 persent van die bevolking.
