Die Volksblad berig dat ‘n graadnegeleerling van die Orionskool in Welkom deur ‘n swart medeleerling bewusteloos geskop is terwyl hy op die grond lê. ‘n Klag van aanranding is by die polisie gelê. Die slagoffer is Norman Fourie (16)wat glo deur die 18-jarige swarte gevloek is, alvorens ‘n bakleiery uitgebreek het.
‘n Medeleerling het die video-opname (hierbo) met sy selfoon gemaak. Norman het harsingskudding opgedoen en kon agterna nie onthou dat sy pa vier jaar gelede dood is nie. Volgens sy ma, mev. Elsie Fourie, “kan hy niks van die aanranding onthou nie. Sy pa is al vier jaar dood, maar hy kan dit nie onthou nie. Hy het Maandag, nadat hy ná die aanranding sy bewussyn herwin het, gehuil en sy pa gesoek.”
Mev. Fourie het ook die skoolpersoneel kwalik geneem omdat hulle niks gedoen het om haar seun te help nie. Sy sê: “Volgens ooggetuies het die skoolhoof, mnr. Hennie Burger, gesien wat gebeur, maar het dit nie gekeer nie. Volgens die ooggetuies het die ander seun, wat in gr. 8 is maar glo reeds 18 jaar oud is, my seun aanhou vloek. Norman het hom gevra om op te hou, waarna die aanranding plaasgevind het.” Ooggetuies beweer ook dat daar ‘n mes of ander skerp voorwerp betrokke was en Norman het ‘n sny en krapmerke aan sy rug, nek en elmboë.
Op die video kan gesien word hoe die swart leerlinge die aanrander aanpor om Norman verder te skop en te slaan. Norman is uiteindelik deur maats in sy bewustelose toestand van die toneel weggesleep.
