Motors: Die indrukwekkende Suzuki-familie

Die naam Suzuki roep baie goeie herinneringe op van baie vinnige motorfietse soos die GSXR 1000 en die Hayabusa wat byna kultusstatus verwerf het as een van die wêreld se vinnigste supermotorfietse. Baie van ons het met die 50-cc’s van die jare 80 grootgeword en jy was nog altyd of ‘ n Suzuki-man of ‘n Honda-man.

Die Suzuki-voertuie en veral die klein vierwielaangedrewe Suzuki SJ of Samurai soos baie van ons hom geken het, was die eintlike eerste Suzuki-model waaraan ons dink. Later jare het die SJ plek gemaak vir die Vitara en nog later die Grand Vitara. Saam met die nuwe name het die klein Suzuki’s ook gegroei en nie net in bakgrootte nie, maar ook in modelreeks. Vandag is Suzuki die negende grootste motorvervaardiger ter wêreld. Daar is byna net soveel modelle in hul motorreeks as in enige van die ander Japannese motorvervaardigers se reekse. In Suid-Afrika bestaan die Suzuki-reeks uit nie minder nie as nege verskillende modelle. Dit strek van die klein intreevlak-Celerio tot by die groot Grand Vitara wat enige dag kan kers vashou met van die beste C-segmentsportnutsvoertuie tans.

Ons het die vooreg gehad om ‘n paar van die Suzuki’s vir ‘n paar dae onder hande te neem.

Suzuki Swift

Die Suzuki Swift verteenwoordig die Japannese maatskappy in die B-segment van die mark waar intreevlakmotortjies soos die VW Polo Vivo en Toyota Yaris diens doen. Suzuki’s was nog altyd vir my ‘n mengsel van ‘n hele klomp motors. Die motortjies het wel hul eie persoonlikheid, maar daar is verskeie aspekte van ‘n hele rits ander motors wat in die gevoel van ‘n Suzuki deurkom wanneer jy een bestuur. Die Swift se bougehalte en selfritgehalte herhinner baie aan dié van ‘n VW Polo, die betroubaarheid en ergonomie trek weer baie sterk na die Honda’s en die enjinkaraktereienskappe laat ‘n mens onwillekeurig dink aan ‘n Toyota. Een ding is seker: die motortjies bied werklik ‘n ietsie van alles in een motor.

Ons kon drie weergawes van die Swift onder oë kry. Die Swift 1.2 GL, die Swift 1.4 GLS en die Swift Sport 1.6. Die Swift met die kleinste enjinkapasiteit word aangedryf deur ‘n 1,2-literviersilinderenjin. Die enjin ontwikkel 63 KW en 115 Nm se wringkrag. Brandstofverbruik is puik met ‘n fabrieksyfer van 5,3 liter/100km. Ons het in die rukkie wat ons die motortjie bestuur het ‘n gemiddeld van 5,6 liter/100km aangeteken.

Die Swift se direkte mededingers is die Nissan Micra 1.2 Visia+ en Toyota se Etios 1.5 XS. Mens sou maklik kon dink, nee, die VW Polo Vivo of die Renault Sandero sou meer direkte mededingers wees. Sien, die Polo Vivo, asook die Sandero is veel groter in bakvorm en in die geval van die Sandero gebruik Renault ‘n klein turbo-aangejaagde enjintjie. Dus sou mens na die fisieke grootte van die bakwerk kyk, asook die enjin se kraglewering tesame met die prys en toerusting, dan is dit slegs die Micra en die Etios wat direk met die baba-Swift meeding. Kyk ‘n mens nou na bougehalte en materiaal wat gebruik is om die drie karretjies aanmekaar te sit, dan staan die Swift kop en skouers bo die ander twee uit. Hierdie spesifieke Swift word deur Maruti in Indië gebou en daar kan ‘n mens ook sien dat die motor meer in die klas van die Etios en Micra is. Oor die algemeen voel en lyk die Swift beter afgewerk as die ander twee en ook heelwat beter aanmekaar gesit, maar klim uit hierdie 1.2 Swift uit in die 1.4 Swift in wat in Japan gebou word en die gevoel van die hele binneruim verander.

Die Swift 1.2 GL is nie die intreevlakmodel in die Swift-reeks nie, dit is die tweede model in die reeks ná die 1.2 GA. Die verskil is dat die GL toegerus is met ‘n radio, bloutande vir jou radio, elektriese kantruite, sentralesluitstelsel vir die deure, voorste misligte, sleutellose toegang en ‘n multifunksionele stuurwiel waar die radio vanaf die stuurwiel beheer kan word. Vir al hierdie ekstra toerusting betaal jy sowat R14 400 meer as vir die GA-model. Die motortjie het vyf deure en daar is genoeg ruimte binne die Swift vir vier volwassenes of vier kinders en ‘n bestuurder. Die begasieruim is effens kleinerig met slegs 210 liter se pakplek met die agterste sitplek in plek of dan 533 liter se pakplek met die sitplek platgevou.

Ons gee die Swift 1.2 GL 3 uit 5

Swift 1.4 GLS

DIe Suzuki Swift 1.4 GLS
DIe Suzuki Swift 1.4 GLS

Ons tweede Swift wat ons kon bestuur is die 1.4 GLS model. ‘n Mens kan sê dit is die luukse model in die Swift-reeks. Hier is die Swift toegerus met n 1.4-liter-enjin wat 70Kw en 130 Nm se wringkrag lewer. Weereens is die brandstofverbruiksyfer van 5,8 liter/100km uitstekend en ons kon ‘n 6,2 liter/100km gemaklik handhaaf in die rukkie wat die motor by ons was.

Die groot verskil tussen hierdie Swift en die 1.2 GL is die bougehalte en rygerief. Hierdie Swift word in Japan gebou en ons kan nie werklik ons vinger daarop lê nie, maar die hele gevoel van die motor is baie meer verfynd, meer afgerond. Daar is ook ekstra toerusting soos die allooiwiele en togbeheer asook remhulp (Brake Assist) vir die ABS-remme. Verder is die 1.4 GLS identies teenoor die 1.2 GL. Rygerief is sag en glad en ek moes telkemale seker maak dat die Swift nog luier, só stil loop die enjintjie.

Die ander groot verskil is natuurlik die pryskaartjie. Daar is ‘n allamintige prysverskil van R59 000 tussen die 1.2 GL en die 1.4 GLS. As ‘n mens die kragverskil van slegs 7 Kw en 15 Nm se wringkrag in ag neem, kan die togbeheer en allooiwiele wragies nie so ‘n groot prysverskil maak nie. ‘n Mededinger vir die 1.4 GLS Swift is die Nissan Micra 1.5 Tekna teen R196 900 en die Toyota Etios 1.5 XS Cross teen R186 100, beide met dieselfde toerusting; in die geval van die Micra is die Swift 1.4 GLS R22 000 duurder en vergeleke met die Etios is hy R32 800 duurder.

Ons gee die Swift 1.4 GLS 4 uit 5

Swift 1.6 Sport

Die Suzuki Swift 1.6 Sport
Die Suzuki Swift 1.6 Sport

Ons derde Swift wat ons kon ry, was die Swift 1.6 Sport. Hier het ons te doen met Suzuki se warmste weergawe van die Swift. Die Swift Sport word aangedryf deur ‘n 1.6-literenjin wat 100 KW en 160 NM se wringkrag ontwikkel. Suzuki gee die brandstofsyfers aan as 6,5l/100km, maar ons kon slegs 7,1 l / 100km handhaaf in die rukkie wat ons die motor gehad het.

Die Swift Sport se instrumentepaneel
Die Swift Sport se instrumentepaneel

As ‘n mens terugdink aan die Uno Turbo van die negentigs dan laat hierdie motortjie my nogal baie aan die Uno Turbo dink. Daar is net geen turbotraagheid nie want daar is nie ‘n turbo nie, maar die ry karakter en stuur gevoel herinner baie aan dié van die Uno’tjie. Wat toerusting aanbetref, is die 1.6 Sport goed toegerus. Die spesifikasielys is identies aan dié van die 1.4 GLS behalwe vir die groter enjin. Die prysverskil tussen die 1.4 en die Sport is ook R42 000 en ons toetsmotor was beplak met egte Suzuki-renplakkers wat die kleure en embleem van die motorfiets wat aan die SBK-toernooi deelneem, uitbeeld. Die breër bande, 195/50 R16 in plaas van 185/50 R16 en die plakkers en natuurlik die enjinverplasing kan ook nie die R42000 prysverskil regverdig nie.

Binneruim van die Swift Sport
Binneruim van die Swift Sport

Direkte mededingers is VW se Polo 1,2 TSi Highline wat slegs R4100 meer as die Swift kos teen R265 000 en die Ford Fiesta 1.0 Titanium teen R254 900, sowat R6000 goedkoper as die Swift. Beide die Polo en die Fiesta voel groter en meer dinamies ten spyte van al die krag wat die normaal aangedrewe 1.6 Swift bied. Die Polo ontwikkel 81 Kw maar 175Nm se wringkrag en die Fiesta 92 Kw en 170 Nm se wringkrag. Wat brandstofverbruik aanbetref, troef die mededinging ook die Swift met onderskeidelike syfers van 5,1l/100km vir die Polo en 4,3/100km vir die Fiesta.

Beide die VW en die Ford is ook beter toegerus met dagryligte, outomatiese ligte en reënveërs en parkeersensors agter. Die Swift Sport is een van die mees bekostigbare blitsbukse as jy van Japannese motors hou. Die verfynde klein goedjies, soos die deure wat sluit as die motor begin ry of die hoofligte wat afskakel wanneer die motor afgeskakel word, ontbreek in die Swift. Daar is ligte gonsers wat jou waarsku, maar die gerief van die funksie om self te sluit of af te skakel is nie daar nie. Die rygerief in die Swift Sport is aanvaarbaar vir dié tipe motor, maar vergeleke met die mededinging skiet dit tekort.

Ons gee die Swift Sport 3 uit 5.

Suzuki SX4 GLX

Die Suzuki SX4
Die Suzuki SX4

Die tweede familielid in die Suzuki-reeks wat ons kon bestuur, is die SX4. Hierdie is die tweedegenerasie-SX4 wat plaaslik beskikbaar is en anders as die vorige weergawe wat niks meer as ‘n luikrugmotor was nie, is die nuwe SX4 volgens Suzuki ‘n “Cross Over”. Ek verstaan nie werklik die term “Cross Over” nie want die motor is nog steeds net ‘n luikrug en prober die gaping tussen ‘n luikrug en ‘n klein sportnutsvoertuig soos die Kia Sportage of VW Tiguan vol staan. Ons toetsmotor was toegerus met die 1.6-literenjin wat 86 Kw en 156Nm se wringkrag lewer. Sonder die turbokrag van die moderner enjins voel die SX4 effens lui en moet die ratkierie bietjie geroer word, veral wanneer daar bulte gery word en daar passasiers in die motor is. Direkte mededinging sluit Mini se Countryman Cooper en Fiat se 500X in. Beide die motors probeer ook dieselfde gaping tussen luikrug en sportnuts vul. Die Mini kan in jou motorhuis staan teen R354 248, slegs R46 000 meer as die Suzuki. Die 500X beskik oor egte Italiaanse lyne teen R299 900, sowat R8000 goedkoper as die SX4.

Die SX4 se bagasieruim
Die SX4 se bagasieruim

Wat die lyne van die nuwe SX4 betref, lyk die motor vir ons ongemaklik, veral die neusgedeelte. Van die voorste wielboë af lyk die neus te groot vir die res van die motor. Daar is uitermatige groot hoofligte asook snaakse tipies Japannese agterligte. Swart stroke bo-oor die wielboë laat die SX4 byna na ‘n hardebaard-4×4 lyk, maar die motor is net soos die twee mededingers slegs voorwielaangedrewe. Die grondvryhoogte van 175mm is ook nie juis genoeg om ‘n te hoë sypaadjie te kan klim nie.

Binnelangs bied die SX4 genoeg ruimte vir 5 volwassenes met ‘n bietjie bagasie. Die begasieruim het ‘n effense vlak vloergedeelte maar die afwerking en materiaal in die binneruim is van goeie gehalte, asook die vakmanskap. Die SX4 se binneruim herinner baie aan dié van ‘n Toyota Corolla, baie veilig met alles op die regte plekke en gemaklik. Soos in die Swift skakel die ligte ook nie af wanneer die motor afgeskakel word nie en die deure sluit ook nie wanneer daar gery word nie. Teen R307 900 is die SX4 GLX baie mededingend geprys, maar ons dink tog dat ‘n onderhoudsplan soos in die geval van die Mini en die Fiat standaard behoort te wees.

Ons gee die SX4 3 uit 5.

Suzuki Vitara GL +

Die Suzuki Vitara
Die Suzuki Vitara

Die Suzuki Vitara is eintlik die nasaat van die Suzuki SJ. Die Vitara het deur die jare al hoe groter en sagter geword en vandag sit ons met ‘n veeldoelvoertuig wat niks meer as ‘n luikrug in modderskoene is nie. Die Vitara wat ons onder hande gehad het is die GL+-model. Hierdie is die tweede model van die onderpunt van die Vitara-leer af. Daar is slegs voorwielaandrywing en die grondvryhoogte is ‘n aks beter as in die SX4 teen 185mm ipv 175mm. Die bakvorm van die Vitara is ook so eg Japannees met groot stampers voor en agter, groot hoofligte wat beter as in die SX4 geïntegreer is en swart B- en C-pilare wat die motor meer volwasse laat vertoon. Die Vitara se lyn trek sterk op dié van nog ‘n Japannese vervaardiger, Subaru. Sou ‘n mens die Suzuki-kenteken van die neus verwyder, kon die Vitara maklik deurgaan as ‘n nuwe Subaru. Die wigvorm van die kantlyne herhinner baie aan dié van die Outback. Die hele prentjie is net kleiner in alle rigtings. Die baie kort oorhang agter en die lang neus lyk baie Japannees en vreemd vir ons Europese oë.

Die Vitara se instrumentepaneel
Die Vitara se instrumentepaneel

Binnelangs is die Vitara weer baie veilig met byna eentonige afwerking wat aan die een kant blinkerige plastiekpanele insluit en aan die ander kant goeie tapyte en sitplekmateriaal. Die uitleg van die instrumentepaneel is uitstekend en veilig met alles waar dit hoort.

Wat die enjin betref, is dit die identiese enjin wat in die SX4 ingespan word. Kraglewering is 86 Kw en 151 Nm se wringkrag. Mededingers van die Vitara is motors soos die Kia Soul Start teen R 293 995 en die Peugeot 2008 1.6 Active teen R274 900. Die Vitara GL+ sal jou R 289 900 uit die sak jaag. Wat toerusting en bougehalte betref, is al drie hierdie motors baie dieselfde toegerus. Die Vitara is na ons mening teen R18 000 goedkoper as die SX4 ‘n beter koop vir bykans dieselfde motor.

Ons gee die Vitara 3 uit 5.

Suzuki Jimny

Die Suzuki Jimny
Die Suzuki Jimny

Die regte ster in die hele Suzuki-reeks is die Jimny. Hierdie is ‘n eerlike geen-fieterjasie-voertuig. Dink ‘n mens terug aan die SJ, dan is die Jimny eintlik ‘n moderne weergawe van die SJ. Die voertuig is skaars 3,5m lank, hy het slegs 3 deure en voel werklik basies wanneer jy agter die stuur inskuif.

Die Jimny se instrumentepaneel
Die Jimny se instrumentepaneel

Buitelyne is doeltreffend met net genoeg oorhange voor en agter sodat die wiele darem onder die bakwerk loop. Die voertuig staan hoog in sy sokkies en daar is niks onnodigs aan die Jimny geplak nie. Sy noodwiel is op die agterste deur wat na die kant oopmaak gemonteer. Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en seker wat die materiaal aanbetref die beste in die hele Suzuki-reeks. Alles voel goed aanmekaargesit en lyk of dit enige veldrit of sandrit sal kan deurstaan.

Ons toetsmotor was die outomatiese weergawe van die oulike Jimny. Nou ‘n mens moenie die grootte van die karretjie met sy vermoëns verwar nie. Die Jimny is ‘n hardebaard-4×4 met regte lae-strek. Soos al die regte harde 4×4’s en hier praat ons van die Land Rover Defender 90 en die Land Cruiser 76, is die enigste luukshede wat die voertuie het lugversorging en miskien elektriese kantruite. Die Jimny is ‘n avontuurvoertuig in die ware sin van die woord. Agter die stuur weet jy dat daar baie min plekke op hierdie aardbol is waar jy nie sal kan ry met die outjie nie. En ons weet uit ondervinding uit dat die kleine Suzie veel groter en baie duurder 4×4-voertuie al verskeie kere onder die stof geloop het op verskeie 4×4-roetes en -hindernisse.

Bagasieruim van die Jimny
Bagasieruim van die Jimny

Die Jimny word aangedryf deur ‘n 1.3-literenjin wat maar 63 Kw en slegs 110 Nm se wringkrag lewer. Soos in die Land Cruiser en Land Rover het die Jimny nie veel teerpadverrigting nie. Dit is nou nie asof hy glad nie elke dag gebruik kan word nie, maar met ‘n maksimumsnelheid van slegs 135 km/u en ‘n rus tot 100km/u-tyd van 17,2 sekondes is hierdie Jimny meer tuis in die veld as op die oop pad. Teen 7,6 l/100km se brandstofverbruik is hy ook nie vreeslik ekonomies wanneer jy hom op die oop pad sou wou vat nie. Die 40-literbrandstoftenk sal jou darem so net meer as 520 km ver kan laat ry as jy dit moet waag.

Daar is darem veiligheidskenmerke soos die ABS-remme en twee lugsakke en soos ons gesê het, is die Jimny met lugversorging en elektriese kantruite toegerus. Daar is ook ‘n radio en sentralesluitstelsel vir die deure. Voorlangs is die Jimny met misligte toegerus en om alles mooi dop te hou, is daar ook ‘n ritrekenaar as standaardtoerusting. Die outomatiese ratkas het vier ratte en ‘n ratslot. Daar is ‘n knoppie op die instrumentepaneel om die Jimny in tweewiel- of vierwielmodusse met ‘n vierwielhoog- en vierwiellaagverstelling te plaas.

Na ons mening probeer hierdie Suzuki nie soos meeste van die ander motors in die reeks by ander segmente inpas nie, hy is wat hy is en baie eerlik daaroor. En dit spreek ook in die sin dat daar geen direkte mededingers vir die kleine Jimny in Suid-Afrika is nie. Die naaste mededingers sou die Land Rover Defender 90 wees en hy sal jou R648 000 uit die sak jaag. Die Land Cruiser 76 sal ook ‘n goeie mededinger wees, maar teen R722 000 kan jy byna drie Jimny’s aanskaf wat slegs R264 900 kos. Sou ‘n mens ‘n ander kompakte 4×4 soek sal die enigste ander voertuig wat min of meer naby genoeg kom die Jeep Renegade 1.4 Limited wees. Sy prys is R488 900, wat beteken dat jy byna twee Jimny’s vir sy prys kan koop.

Ons gee die Jimny 4 uit 5.

Suzuki Ertiga

Die Suzuki Ertiga
Die Suzuki Ertiga
Die Ertiga se binneruim
Die Ertiga se binneruim

Die Ertiga is n veeldoelwaentjie wat sewe mense kan vervoer. Soos Suzuki se ander voertuie is die Ertiga een van die min kompakte voertuie in dié segment van die mark. Daar is egter net twee ander motors in die segment wat kan meeding en dit is die Honda Mobilio en VW Caddy. Teen R208 900 is die Suzuki by verre die mees bekostigbare 7-sitplekveeldoelwaentjie in Suid-Afrika. Die Mobilio sal jou R224 500 uit die sak jag en die Caddy sowat R240 600.

Die Ertiga word aangedryf deur ‘n 1.4-literenjin met 70 Kw en 130 Nm se wringkrag. Laai hom met passasiers en dit word baie duidelik dat hierdie Suzuki ‘n bietjie skop nodig het. Die enjin moet werklik baie hard werk en alles gebeur baie stadig. Die binneruim van die Ertiga is tipies Suzuki met goeie materiaal en elke dingetjie op sy plek. Die vakmanskap en bougehalte is ook goed. Die ruimte is uitstekend vir so ‘n kompakte voertuig en hierdie Suzuki is die perfekte voertuig vir ‘n moeder wat kinders moet rondry. Die enigste kritiek is die kleur van die sitplekmatriaal. Met ‘n klomp kinders wat in en uit, en tasse ensovoorts gaan die roomkleurige sitplekke baie vinnig al die skoenmerke en vuil wys. Suzuki kon soos in byna al hul ander voertuie hierdie bekleedsel ook swart gemaak het of kunsleer sodat dit maklik afgevee kon word.

Die Ertiga se instrumentepaneel
Die Ertiga se instrumentepaneel

Die agterste deur maak hoog oop om die 733 liter se pakplek beskikbaar te stel. Wanneer die agterste twee sitplekke ook regop gevou word, krimp die laairuim na 135 liter, nog steeds genoeg vir ‘n paar inkopiesakke. Die Ertiga is goed toegerus met ABS-remme en lugsakke, asook remverspreiding en sentraledeursluiting. Daar is ook ‘n 4-jaardiensplan standaard by die prys ingesluit.

Ons gee die Ertiga 4 uit 5.

Die Ertiga se bagasieruim
Die Ertiga se bagasieruim

Al die Suzuki’s wat ons bestuur het, is goeie betroubare elkedagvoertuie. Na ons mening sou dit wys wees as Suzuki Suid-Afrika ernstig kyk na beter enjintegnologie en veral klein turboaangejaagde enjins. Ergonomies sal Suzuki ook na klein goedjies soos deure wat self sluit en hoofligte wat self afskakel wanneer die motor afgeskakel word en dan ook al hulle produkte met beter radio’s moet toerus. Die radio’s in al die Suzuki-modelle is vir ons nie op standaard met wat in ander vervaardigers se produkte te kry is nie; dit is moeilik om te beheer en te gebruik en ontvangs is ook in die meeste gevalle swak. Dit is klein goedjies wat maklik reggestel kan word en ek hoop regtig Suzuki maak vinnig ‘n plan want hulle raak al hoe verder agter wat die fynere besonderhede aanbetref. Al die Suzuki’s is standaard beskikbaar met ‘n 3- of 4-jaar-100 000km-diensplan.

Honda se gesinswaentjie sonder weerga!

Wat koop jy wanneer jy in die mark is vir ‘n gesinswaentjie met sewe sitplekke, maar kan net nie dit oor jou hart kry om R250 000 plus vir so voertuig te betaal nie?

Wel daar is ‘n paar opsies: Toyota se Avanza is die eerste voertuig wat in jou gedagtes opkom. Maar wil jy regtig jou gesin in dié motor laat rondry? Die bakpanele is papierdun en die hele motor voel sommer of hy net hier anderkant die Limpoporivier aanmekaar gesit is. Verder bied die 1,5-literenjin maar bitter min woema en dan is die sewe sitplekke ook maar baie knap. Die tweede opsie is FAW se Sirius, wat eintlik ook maar net ‘n ougenerasie-Avanza is. Hier kry jy darem so bietjie meer toerusting, maar die ruimte en bougehalte is maar dieselfde as in die Avanza.

Die Honda Mobilio van voor
Die Honda Mobilio van voor

Daar is egter twee ander keuses, nuwergenerasievoertuie en beide ook vanaf Japan afkomstig. Suzuki se Ertiga en Honda se Mobilio. Die motors bied uitstekende waarde vir geld met baie goeie bougehalte, asook meer spasie en rygerief as die FAW en die Toyota.

Bakwerk

Die Honda Mobilio deel ‘n onderstel met die Honda Brio en lyk van voor nogal baie na die Brio, maar dit is waar die ooreenkomste eindig. Die Mobilio is 40cm langer as die Brio-sedan; die gevolg is baie beenruimte in beide die tweede en derde ry sitplekke. En ja die derde ry sitplekke is groot genoeg sodat ‘n volwassene daar kan inskuif. Ek kon met my sesvoetlyf maklik daar inpas. Die beste van alles is dat as al sewe sitplekke in plek is dan is daar nog 223 liter se begasieruim. Dit is 62 liter meer as in die Brio-luikrug. Vou die agterste twee sitplekke op, dan word die bagasieruim vergroot tot 521 liter wat 68 liter groter as die Accord se bagasieruim is.

Die Honda Mobilio van agter af
Die Honda Mobilio van agter af

Met die buite-ontwerp van die Mobilio is die indruk geskep van slanke lugdinamika om ‘n kompakte, sportiewe voorkoms te gee. Ruim glasvlakke verseker goeie sigbaarheid en die voorkoms van ‘n oop binneruim. Kragtige karakterlyne langs die kante dra ook by tot die algehele dinamiese vorm van hierdie praktiese waentjie.

‘n Meer beklemtoonde D-pilaar, met die kantglas wat in die rigting van agter omvou, verhoog die sigbaarheid vir derderypassasiers en skep dit ‘n duidelike ontwerpdetail. Die agterklap strek al die pad na die kleur-gekodeerde buffer vir makliker toegang tot die bagasieruim. Groot stertligte en ‘n agterste dakdrukvlerk voeg ook ‘n tikkie sportiwiteit by die Mobilio se pret-om-te-ry-aard.

Enjin

Paneelbord van die Honda Mobilio
Paneelbord van die Honda Mobilio

Onder die enjinkap doen Honda se 1,5-literenjin diens. Die enjin lewer 88KW en 145Nm se wringkrag. Daar is ‘n 5-spoedhandratkas wat die voorwiele aandryf. Die enjin lewer sowat 12 Kw meer as dié in die Avanza en 18 KW meer as die Suzuki. Honda het die topsnelheid van die Mobilio beperk tot 140km/u. As mens dink dié tipe motor gaan hoofsaaklik binne stedelike gebiede diens doen en so nou en dan die oop pad vat dan is dit heel aanvaarbaar.

Brandstofverbruik word deur Honda aangegee as 6,1l/100km, maar ons kon met ‘n paar mense aan boord ‘n gemiddeld van 7,3l\100km in stadsverkeer handhaaf.

Gevolgtrekking

Die Mobilio se binneruim
Die Mobilio se binneruim

Wat rygerief aanbetref, het die Mobilio nogal verbaas. Alles werk seepglad en die stuurgevoel is direk en lig. Dit het parkering nogal baie vergemaklik. Sigbaarheid reg rondom die motor is besonders goed en met ‘n grondvryhoogte van 189mm kon ons ook maklik op ‘n sypaadjie klim om te parkeer by die skool. Ek moet sê wanneer die Mobilio met sewe mense gelaai is dan kry die 1,5-literenjin bietjie swaar as dit by bulte kom, maar skool toe en terug in stadsverkeer is die Hondajie sekerlik by verre die beste koop in die segment. Teen R203 900 wat ‘n 3-jaarwaarborg met ‘n 2-jaardiensplan insluit, is die Mobilio byna R28 000 goedkoper as die Toyota Avanza 1,5 TX en R10 300 duurder as die Suzuki Ertiga wat nie net ‘n kleiner 1,4-enjin het nie, maar ook 12 cm korter is. Met sewe sitplekke in plek is daar slegs 135 liter se pakplek in die Ertiga se begasieruim en baie minder binneruimte in die derde ry sitplekke.

Honda Mobilio 1,5 Comfort

Prys 5 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 36 uit 40