praag.co.za

Honda se gesinswaentjie sonder weerga!

Wat koop jy wanneer jy in die mark is vir ‘n gesinswaentjie met sewe sitplekke, maar kan net nie dit oor jou hart kry om R250 000 plus vir so voertuig te betaal nie?

Wel daar is ‘n paar opsies: Toyota se Avanza is die eerste voertuig wat in jou gedagtes opkom. Maar wil jy regtig jou gesin in dié motor laat rondry? Die bakpanele is papierdun en die hele motor voel sommer of hy net hier anderkant die Limpoporivier aanmekaar gesit is. Verder bied die 1,5-literenjin maar bitter min woema en dan is die sewe sitplekke ook maar baie knap. Die tweede opsie is FAW se Sirius, wat eintlik ook maar net ‘n ougenerasie-Avanza is. Hier kry jy darem so bietjie meer toerusting, maar die ruimte en bougehalte is maar dieselfde as in die Avanza.

Die Honda Mobilio van voor
Die Honda Mobilio van voor

Daar is egter twee ander keuses, nuwergenerasievoertuie en beide ook vanaf Japan afkomstig. Suzuki se Ertiga en Honda se Mobilio. Die motors bied uitstekende waarde vir geld met baie goeie bougehalte, asook meer spasie en rygerief as die FAW en die Toyota.

Bakwerk

Die Honda Mobilio deel ‘n onderstel met die Honda Brio en lyk van voor nogal baie na die Brio, maar dit is waar die ooreenkomste eindig. Die Mobilio is 40cm langer as die Brio-sedan; die gevolg is baie beenruimte in beide die tweede en derde ry sitplekke. En ja die derde ry sitplekke is groot genoeg sodat ‘n volwassene daar kan inskuif. Ek kon met my sesvoetlyf maklik daar inpas. Die beste van alles is dat as al sewe sitplekke in plek is dan is daar nog 223 liter se begasieruim. Dit is 62 liter meer as in die Brio-luikrug. Vou die agterste twee sitplekke op, dan word die bagasieruim vergroot tot 521 liter wat 68 liter groter as die Accord se bagasieruim is.

Die Honda Mobilio van agter af
Die Honda Mobilio van agter af

Met die buite-ontwerp van die Mobilio is die indruk geskep van slanke lugdinamika om ‘n kompakte, sportiewe voorkoms te gee. Ruim glasvlakke verseker goeie sigbaarheid en die voorkoms van ‘n oop binneruim. Kragtige karakterlyne langs die kante dra ook by tot die algehele dinamiese vorm van hierdie praktiese waentjie.

‘n Meer beklemtoonde D-pilaar, met die kantglas wat in die rigting van agter omvou, verhoog die sigbaarheid vir derderypassasiers en skep dit ‘n duidelike ontwerpdetail. Die agterklap strek al die pad na die kleur-gekodeerde buffer vir makliker toegang tot die bagasieruim. Groot stertligte en ‘n agterste dakdrukvlerk voeg ook ‘n tikkie sportiwiteit by die Mobilio se pret-om-te-ry-aard.

Enjin

Paneelbord van die Honda Mobilio
Paneelbord van die Honda Mobilio

Onder die enjinkap doen Honda se 1,5-literenjin diens. Die enjin lewer 88KW en 145Nm se wringkrag. Daar is ‘n 5-spoedhandratkas wat die voorwiele aandryf. Die enjin lewer sowat 12 Kw meer as dié in die Avanza en 18 KW meer as die Suzuki. Honda het die topsnelheid van die Mobilio beperk tot 140km/u. As mens dink dié tipe motor gaan hoofsaaklik binne stedelike gebiede diens doen en so nou en dan die oop pad vat dan is dit heel aanvaarbaar.

Brandstofverbruik word deur Honda aangegee as 6,1l/100km, maar ons kon met ‘n paar mense aan boord ‘n gemiddeld van 7,3l\100km in stadsverkeer handhaaf.

Gevolgtrekking

Die Mobilio se binneruim
Die Mobilio se binneruim

Wat rygerief aanbetref, het die Mobilio nogal verbaas. Alles werk seepglad en die stuurgevoel is direk en lig. Dit het parkering nogal baie vergemaklik. Sigbaarheid reg rondom die motor is besonders goed en met ‘n grondvryhoogte van 189mm kon ons ook maklik op ‘n sypaadjie klim om te parkeer by die skool. Ek moet sê wanneer die Mobilio met sewe mense gelaai is dan kry die 1,5-literenjin bietjie swaar as dit by bulte kom, maar skool toe en terug in stadsverkeer is die Hondajie sekerlik by verre die beste koop in die segment. Teen R203 900 wat ‘n 3-jaarwaarborg met ‘n 2-jaardiensplan insluit, is die Mobilio byna R28 000 goedkoper as die Toyota Avanza 1,5 TX en R10 300 duurder as die Suzuki Ertiga wat nie net ‘n kleiner 1,4-enjin het nie, maar ook 12 cm korter is. Met sewe sitplekke in plek is daar slegs 135 liter se pakplek in die Ertiga se begasieruim en baie minder binneruimte in die derde ry sitplekke.

Honda Mobilio 1,5 Comfort

Prys 5 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 36 uit 40

 

Comments

16 responses to “Honda se gesinswaentjie sonder weerga!”

  1. Kalium_Chloraat Avatar
    Kalium_Chloraat

    Wat van hierdie Honda?

    1. Dolk Avatar
      Dolk

      Dis alles so relatief… Vir beide wense…

      1. Riempies Avatar
        Riempies

        Dolk gaan my asseblief volgende keer met hierdie
        hartloosheid asseblief verby. Dit is in elkgeval nie van toepassing op die rubriek
        of ons land nie – stuurwiele in Suid Afrika is regs geplaas.

        1. Dolk Avatar
          Dolk

          Verskoning – dit was nie as harteloos bedoel nie.

          1. Riempies Avatar
            Riempies

            Alles in die haak – Soms vergeet manne dat hulle rasionele
            wesens is en vroue emosionele wesens. 😉

          2. Dolk Avatar
            Dolk

            Wat ek deur dit gesê het was: dis soos die klokkespel van die lewe… Terwyl dit lui vir een se huwelik, lui dit vir ‘n ander se dood… Die ironie is dat die persoon in die kis ‘n tyd terug in dieselfde Kerk getrou het… Nugter beskou.

            Soos u kan sien is dit eintlik geensins onvanpas of harteloos bedoel nie. Dis ter illustrasie van die relatief – van die produk se 5/5we…

            Eks dalk te filosofies… Ander te idillies… Ens… Mooi is vir my altyd pragtig. Selfs die glans van die wrak het my getref…

      2. Hd Hammer Avatar
        Hd Hammer

        Relatief ja. Op die motorfiets is jy relatief in jou m*#@ in. Ek praat uit ondervinding….het twee jaar lank met ‘n staalplaat in my been geloop om my te herhinner…..het my egter nie gekeer om weer te ry nie….

        1. Dolk Avatar
          Dolk

          Ek het self ‘n Honda… 😉 Ken val ook…

        2. Kalium_Chloraat Avatar
          Kalium_Chloraat

          Leef al meer as 20 jaar met ‘n staalplaat en ‘n pen in my been. Motorfietse sal ek nie los nie.

          Oppad Buffalo toe baie jare gelede: (Daai Beemer is sat gery (300000+ km), nou doen ek ‘n Honda)

        3. Kalium_Chloraat Avatar
          Kalium_Chloraat

          Ek het ‘n gaab wat sy g@t meer gesien het met ‘n hok as met sy bony, maar dis waar, ‘n broer is meer uitgelewer op ‘n bony as in ‘n jammie.

      3. Kalium_Chloraat Avatar
        Kalium_Chloraat

        Party ouens gebruik ‘n treiler, hierdie ou vertikaal-parkeer sy bony sommer binne-in die jammie.

    2. Hd Hammer Avatar
      Hd Hammer

      Nou praat jy!
      Maar hier is my idee van ‘n motorfiets…..

        1. Rifrug Avatar
          Rifrug

          As ek jou avatar bekyk – sien ek jy en dié fiets is vir mekaar gemaak!

  2. Riempies Avatar
    Riempies

    Ek het n Honda Civic 1.8 outomaties wat al amper 10 oud is
    en nogsteeds soos n droom ry. Ek kon die stuurwiel n bietjie laer stel en my
    sitplek n bietjie hoër sodat ek my spoedmeter maklik kon sien. Wat my beindruk
    het van my motortjie was dat wanneer ek vir hom krag en spoed vra om by n motor
    verby te kom gee hy dit onmiddelik oorvloedig. Sy stuur is ook baie direk en al
    vier sy wiele het skuif remme. Sy radio en CD speler is uitstekend. My civic
    het nou 97 duisend km gedoen en gee my nog altyd 15 km per liter. My man voel
    dat ek nou n nuwe motor moet koop oor hy oud word – maar ek sal hierdie Civic
    van my nie verruil vir al die tee in Sjina nie.

  3. Fritz Eloff Avatar
    Fritz Eloff

    Ek is bly om te sien Honda bring so karretjie uit. Die nuwe Jazz is dit nie werd om in die skaduwee van die ouer modelle te staan nie. Veral nie die eerste meer reggop modelle met hulle hoër dak vir langer mense, en hul briljante CVT rat sisteme. Die Mobilio lyk of hy ‘n beter gesins motor kan wees as die CRV.

Leave a Reply